11 vrae aan Lerina Erasmus

lerina-2-robert-hamblin

Lerina Erasmus Foto: Robert Hamblin

Lerina Erasmus is reeds aan die skryf aan haar tweede misdaadverhaal. Lerina het in die tagtigerjare begin skryf, onder meer aan radioreekse soos Solitaire, My hartjie my liefie, Noodskoppelmaai, Vriendinne en Die Mannheim-Sage. Laasgenoemde het haar natuurlik ’n huishoudelike naam gemaak toe die reeks vir televisie verwerk en in 1986 gebeeldsaai is. Die aksiebelaaide spanningsroman, Die leliemoordenaar, is Erasmus se eerste misdaadriller wat oor twee tydvakke afspeel: tydens die apartheidsbestel én in hedendaagse Suid-Afrika.

Ons het díe gesoute skrywer 11 vrae gevra:

Vanwaar Die Leliemoordenaar se oorsprong?
Iemand na aan ons het my lank gelede van ʼn voorval vertel wat my aangegryp en my bygebly het. Oor die jare het dié voorval ʼn storie geword wat sy eie loop gevolg het.

Jy het ʼn voorliefde vir geskiedenis, of hoe?
Dis nuuskierigheid. Ek wil in my verstand se eie tydmasjien inklim en uitvind hoe ander mense in ander tye geleef het.

Waar en hoe het jy jou man ontmoet?
Een aand in Pretoria in ʼn oorvol woonstel vol mense in kostuums. Toevallig was hy net soos ek ook in sigeuner-kleredrag.

Wat maak jou nostalgies?
Die reuk van pas gesnyde gras laat my treurig voel, maar ook soms opgewonde, want dis ʼn reuk van somer en waatlemoen en vriende.

Mooiste verhaal wat jy nog gelees het?
Die storie van koningin Ester in die Kinderbybel van my kinderdae.Dit spreek van eerlikheid, dapperheid en ʼn opregte geloof wat lei na oorwinning.

screen-shot-2017-02-17-at-10-31-30-amWie se verhaal wil jy nog vertel?
Ek is besig met ʼn opvolg vir Leliemoordenaar. Nuwe mense se verhaal? Dit moet nog in my oor gefluister word. Die karakters van ʼn storie kies gewoonlik in my kop oor wat en wie hulle is en wat oor hulle geskryf mag word.

Hoe pak jy ʼn boek aan?
Allereers plot ek die storie redelik volledig met pen en papier, nie net die begin en einde nie, maar veral die middelgedeelte wat baiekeer probleme kan gee as dit nie vooraf uitgewerk word nie. Dan val ek weg met die eerste karakter wat in my kop begin praat.

Sekere “bygelowe” tydens die skryfproses?
Nee, niks nie. Maar dit help altyd as ek my kop oopmaak met ʼn goeie gimsessie voor die tyd. Ook het ek my uur van stilte nodig om my Bybel te lees.

Het jy wenke vir aspirantskrywers?
Moenie moed opgee nie. As die storie befonkfaai raak, takel dit uit ʼn ander punt. Mens omseil soms die “katnes” wat die een kant van die storie opgedons het.

Waarvoor is jy dankbaar?
Vir alles. Ek LEEF! My wonderlike man, Günter, my seun, sy vrou en hulle twee kindertjies. Die huis waarin ons woon. Die uitgewers wat my so bystaan. Dan ook vir al die wonderlike dinge wat ek al gesien en beleef het van oor die hele wêreld.

Op watter liedjie dans jy en jou man?
O, so ʼn lekker Strauss-walsie in die maanlig, sommer kaalvoet op die gras laat nuwe romantiese idees in jou siel gedy.

Titel: Die leliemoordenaar

Skrywer: Lerina Erasmus
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.