Boek: By die nag se wit kant in

By-die-nag-se-wit-kant-in-voorbladEtienne Terblanche

In hierdie debuutbundel kom ’n groot verskeidenheid onderwerpe, versvorme, emosies en toonaarde aan die bod. Die digter maak soms ook van spesifieke variante van Afrikaans gebruik: streektaal, akademiese taal en wetenskaplike taal.

Die digter skryf oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, die natuur en wildernisgebiede waar hy ontspan en na voëls en skoenlappers kyk, ook na die werklikheid van sy werksomgewing op Potchefstroom en plekke soos Indië waar hy gereis het. Hy slaag daarin om sulke bekende onderwerpe in die digkuns soos die liefde en vriendskaps- en familie-verhoudinge op ’n nuwe, speelse en soms ook diepsinnige wyse te verwoord.

’n Treffende voorbeeld is “Die digter sing vir sy beminde” waar die konkrete, bekende wêreld omtower word: die geliefdes vlieg weg van die alledaagse, deur die deur van die maan en saam weer oor die kombuis tot in ’n nuwe land. Maar vir hierdie digter klink liefdesmusiek ook in die Bosveld en die rooigras van die Vrystaat op.

Daar is ook pragtige gedigte oor sy ouma en haar unieke wyse van praat, die platteland en sy mense en ook meer eksotiese plekke soos Moembaai en Stockholm. Die akademiese wêreld en die literatuur kom ook in die bundel ter sprake.

Oor die outeur

Etienne Terblanche is ’n professor in Engelse Letterkunde aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy het reeds akademiese publikasies agter sy naam, maar By die nag se wit kant in is sy eerste digbundel.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R160.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.