Boek: Die dood en die lewe hierna

Die_lewe_en_die_dood_hierna_voor.jpgDr. Isak Burger

Die dood is beslis nie julle gunsteling-onderwerp om oor te gesels as jy en jou vriendinne saam koffie drink nie! En tog, as ʼn geliefde sterf, is daar gewoonlik baie dinge waaroor jy wonder. So, waar sal jy die regte, betroubare antwoorde op al jou vrae kry?

Die dood en die lewe hierna is ’n 3-in-1-gids oor wat gebeur met jou net voor en net ná die dood, en hoe dit in die hemel sal wees. Die boek is ’n moet-hê vir elke Christen!

Dit is beslis nie net ou mense wat sterf nie. Baie mense gaan “voortydig” dood: Mense word in plaasaanvalle vermoor, of sterf in padongelukke of as gevolg van kanker. En dan praat ons nie eens van die duisende babas wat deur aborsies doodgemaak word nie. Die dood het geen ouderdomsbeperking nie!

So, kan jy dit waag om die belangrikste besluit van jou lewe uit te stel tot die laaste vyf minute voor jou dood? Dis nou as jy so gelukkig is om te weet wanneer dit sal wees! Maak eerder nou jou saak reg en begin uitsien na ’n lewe in die hemel.

Binne vyf minute ná jou dood sal jy wéét dat dit alles die moeite werd was. Jou moedhou, uithou en aanhou sal beloon word. Jou tent (liggaam) sal afgebreek word, maar dis nie die einde nie. Nie eens die dood kan jou skei van sy liefde nie – jy hoef nie bang te wees nie!

Jesus het belowe om vir ons ’n plek reg te maak om vir ewig by Hom te wees – dus, sy teenwoordigheid maak dit hemel.

Of jy nog nooit geglo het nie en of jy die laaste tyd verflou het in jou geloof, daar is genade vir almal wat Hom aanneem. Selfs al is dit vyf minute voor jou dood soos die misdadiger aan die kruis.

Die hemel is die ewige reünie van God se familie – van Adam tot by die laaste een wat gered sal word. As jy tans treur oor ’n geliefde wat dood is, kan jy getroos voel en weet: Eendag sien en herken ons mekaar weer!

Die boek is ’n kombinasie van dr. Isak Burger se vorige topverkoperboeke, Die laaste 5 minute voor die dood, Die eerste 5 minute na die dood en Die eerste 5 minute in die Hemel. Nou vorm dit jou 3-in-1-gids met al die antwoorde oor wat gebeur net voor en net ná die dood en hoe dit in die hemel sal wees.

Uitgewer: Carpe Diem Media
Prys: R199*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Burger ·

Ek het die eerste 2 boeke gelees . Koop gerus , selfs die wie dink die mens is n net n toevallige langdurige samestelling van grondstowwe wat toevallige bestaan , sal dit insiggewend vind.

Hannelie ·

Ek het die een boek gekoop, maar sal graag hierdie nuutste uitgawe wil lees.

Zan ·

Ek is ook een wat daarvan hou om die boeke te lees net om te sien wat mense se. Soms is daar interesante stories in maar mens moet net in gedagte hou dat dit ook nie waar is, dit is iemand wat raai en bespiegel en so ook geld maak uit die verkope van a boek. Niemand kan se wat met jou gebeur net voor en na die dood en hoe dit in die hemel sal wees. Die slag as jy weet is jy dood en jy kan nie terugkom om a boek te skryf en te vertel. Ek glo nie enige werklike Christen sal so boek lees en dan nog glo wat daarin staan.

Feite ·

Zan
Jy is baie verstandig(en gebruik jou verstand) Hoe kan enige iemand ‘n boek skryf oor na die dood en dit as feite voorhou? Laat mens wonder hoe maklik jy deesdae die titel Dr kry!

Maureen ·

Niemand sal weet wat gebeur tot dit gebeur nie. Almal se altyd ons sal ons geliefdes sien as ons hemel toe gaan. Nou is my vraag. Gestel hy was 28 toe hy dood is en ek is nou in die sestigs. Gaan ons hom sien soos hy daardie tyd gelyk het en gaan hy obs sien soos ons nou lyk. Wie sal weet. Daardie antwoorde ken niemand nie. Dan waar is ons geliefdes nou. Nog in die doderyk tot Christus afkom aarde toe of staan hulle by die hemelpoorte en uitkyk vir hul geliefdes wat ook nou doodgegaan het. Nee wat dis n “wait and see” situasie. Wandel net saam met Hom hier op aarde dat ons verseker is datons by Hom sal woon. Maar dat Hy hier tussen ons werk en wonderwerke doen is verseker. Hy lewe.

Frans ·

Ek weet wat met jou gebeur na die dood. Ek het dit in ń boek gelees genaamd Die Bybel. Prediker 9:5 vertel vir ons die dooies weet glad niks nie, dus het jy ophou bestaan tot die wederkoms van die Here. Lees Daniël 12:13 waar dit sê Daniël gaan heen na sy einde en sal weer opstaan aan die einde van die dae. Lees Thessalonicense 4:16 waar dit sê met die koms van die Here sal die wat in Christus gesterf het eerste opstaan. Dus as jy nou doodgaan en hemel toe gaan, hoe gaan jy weer in die graf beland om weer op te staan. Dis nie Bybels nie. Sê maar net.

Ansu-Gitta ·

Frans, vir my is dit sleg om te dink dat my dogters (Ou Testament) Prediker, Daniël in die doderyk is, ek wil liewers onthou dat hulle saam met Jesus in die paradys is (Nuwe Testament) Lukas, en dat hulle in Sy Lig leef. “They dwell in higher places”. Die goeie Here weet die beste.

JJ ·

Dr Isak Burger het nie net die titel van dr gekry nie. Hy is die president van AGS Suid Afrika. Die nuwe testament het die ou yestament vervang. Letwel vervang en nie weg gegooi nie. Toe Jesus aan kruis hang het Hy vir die persoon wat langs Hom gehang het gesê hy sal die dag saam hom in die paradys wees. So ek stel voor koop die boek en neem dit ter harte. Die volgende vyf minute mag dalk te laat wees.

nhk ·

Dus tyd dat hy plagiaat moet stop en vir hom self moet dink. Die werklike skrywer is derrick prince.

anton ·

JJ…..Wil maar net noem dat hy nie meer die president is van die AGS nie. Hy het afgetree. Daar is nou n nuwe president.

Frans ·

Ansu, dit is seker baie moeilik om geliefdes te verloor en ek sê hierdie met die grootste deernis in my hart. Ons moet egter op die Here fokus en wat Hy vir ons op die kruis gedoen het. Die Bybel is die waarheid dus kan ek nie glo wat ek graag wil glo nie of dokters se eie interpetasie nie. My vorige aanhaling uitThessalonicense is die nuwe testament. In Johannes 11:24 sê Martha vir Jesus oor Lasarus: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. Sy het geweet waaroor dit gaan. Ou en nuwe testament??? 2Tim 3:16 sê vir ons “Die HELE skrif is ingegee en is nuttig tot lering en teregwysing. Toe Jesus aan die kruis met die dief gepraat het is die komma op die verkeerde plek geplaas deur die vertalers. Dit moes lees: Voorwaar ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees. Dit kan egter bewys word deur Johannes 20:17 te lees waar Jesus vir Maria sê: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na My Vader nie. DWS Jesus was nie op die kruisigings dag in die hemel nie. Moenie mense of mense met hoë titels of selfs vir my glo nie. Net die Bybel het die waarheid en kan aan jou openbaar word deur te bid en daarvoor te vra. Groete

Ansu-Gitta ·

Frans, dankie vir jou deernis en oopbreek van die Woord. “Dit wil sê Jesus was nog nie op die kruisingsdag in die hemel nie”. Jesus se dood kan mos nie as voorbeeld vir ons afsterwe gebruik word nie. Nietemin, ek wil nie verder hieroor korrespondeer nie, ons almal weet te min. Wat ek wel weet is dat Hy alleen, genoeg is vir nou en wat nog sal wees en dat die weersiens my en my man se suigkrag is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.