Boek: Die wonderwêreld van reptiele en amfibieë

Hoezit-3-Die-wonderwêreld-van-reptiele.jpgJaco Jacobs & Fanie Viljoen

Wat is die grootste en gevaarlikste reptiele op aarde?

Watter soort slang is die giftigste?

Hoe kry verkleurmannetjies dit reg om van kleur te verander?

Jy sal al die antwoorde in hierdie fantastiese feiteboek kry! Met 48 bladsye propvol prettige feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van reptiele en amfibieë kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong diereliefhebbers se tone te laat omkrul van lekkerkry! Leer ken die reptiele en amfibieë se oeroupagrootjies, speel slangetjies-en-leertjies en leer speel-speel die giftigste slange ter wêreld ken, en ontmoet ’n paar van die vreemdste reptiele en amfibieë op aarde.

Hoezit! het die afgelope paar jaar ’n bekende naam op tydskrifrakke geword. Dié lekkerleestydskrif vir kinders is ’n nuttige vriend in die klaskamer – en boonop vet pret. Die tydskrifformaat van Hoezit! het onlangs plek gemaak vir ’n interaktiewe webtuiste propvol inligting en vermaak. En die goeie nuus is dat LAPA Uitgewers nou Hoezit! in boekvorm uitgee – met splinternuwe temas en aktiwiteite wat perfek is vir skooltake en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.

Oor die outeur:

Met topverkopertitels soos My ouma is ’n rock-ster, Superheroes vlieg net saans en Wiskunde gee my maagpyn agter sy naam, is dit g’n wonder nie dat Jaco Jacobs een van die gewildste, veelsydigste en mees bekroonde kinderboekskrywers in Afrikaans is. Sy boeke vir jong lesers is propvol aweregse humor, gruwelike grilgoed en wilde avonture. Jaco het reeds meer as 95 boeke die lig laat sien, en meer as 500 000 kopieë van sy boeke is reeds verkoop. Afgesien van kinderboeke, skryf hy ook rubrieke, tydskrifartikels, ’n kinderboekblog, en hy het reeds meer as 200 boeke in Afrikaans vertaal. Jaco het in die Karoo grootgeword, maar woon deesdae in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, hul dogtertjie, Mia, twee honde, Pippie en Binki, en twee hoenders wat tans nog naamloos is.

Trefferboeke soos Slym, Klou, Betower en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak. Fanie het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ’n kunstenaar en kinderboekillustreerder wat al aan verskeie uitstallings deelgeneem het. Sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld is met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon, Betower was verlede jaar die naaswenner in LAPA se jeugroman-kompetisie, en hy het al ’n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm.

UITGEWER: LAPA UITGEWERS
PRYS: R39.99*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.