Boek-resensie: Dromers veg vir wat hul wil hê

Deur Louise Viljoen

Byron Carelse ken van dans. Wanneer die ritme van musiek begin pols, reageer sy lyf spontaan en voer hy die een ingewikkelde danstoertjie na die ander moeiteloos uit. Dan kán hy eenvoudig nie stilstaan nie. “Sy voete lewe. Sy lyf pop en lock en drop”. Dans laat hom goed voel en maak sy kop oop. Dit gee vonk aan sy lewe. Dis vir hom lekker om pouses by die skool vir sy maats te dans. Hy dans ook graag by die taxi-staanplek as hy saam met die ander pendelaars wag op vervoer. As hulle lag, lag hy ook. Soms verdien hy selfs ’n geldjie met sy danspassies.

Daar is egter ’n donker geheim wat Byron se lewe ontsier en wat hom bang maak om na die huis van skandes terug te keer elke dag ná skool. Niemand weet van die verskriklike siekte wat sy ma aftakel en hom, haar kind, in die rol van haar ouer plaas nie. Hy kan nie help om te wonder of sy só is as gevolg van iets wat hy dalk gedoen het nie.

Dan gebeur ’n wonderwerk. ’n Talentsoeker sien Byron en sy vriendin, Tasha, raak en bied hulle die ongelooflike geleentheid aan om deel van ’n geselskap te wees wat ’n opvoering gaan hou by die Sand du Plessis-teater as deel van die kunstefees. Dit kos egter ’n hele paar rand en die kinders moet opdok. As mens egter die kans van ’n leeftyd kry om jou drome bewaarheid te sien, dan doen jy wat jy moet om elke kans op geluk aan te gryp.

’n Skokkende gebeurtenis ry egter die Dromers se mooi toekomsplanne in die wiele. Hulle staar die harde werklikheid in die oë – dat al hul harde werk om geld in te samel en te repeteer net mooi verniet was. Maar, gaan lê mens net omdat die lewe jou drome wil steel, of staan jy op en veg vir dit wat jou gelukkig maak? Byron besluit om nie langer ’n slagoffer van omstandighede te wees nie. Hy maak ’n dapper keuse om hulp te kry vir sy ma.

Wanneer hy en die Dromers wel die kans gegun word om hulle drome op die verhoog uit te leef, wéét hulle dat dit hul oomblik in die kollig is. Dat drome wel waar word. Mens moet net aanhou glo en hard werk daaraan.

Fanie Viljoen is voorheen bekroon met die Sanlamprys vir Jeuglektuur vir sy boeke BreinBliksem en Onderwêreld. Sy skryfwerk het al verskeie ATKV-Woordveertjies ingepalm, en Leeus met letsels en Uit is as IBBY-ereboeke aangewys. Dromers spog met swart-en-wit illustrasies deur Zinelda McDonald, ’n talentvolle illustreerder wat in 2015 ’n ATKV-Woordveertjie ontvang het vir haar illustrasies vir Marita van der Vyver se Die coolste ouma op aarde.

Dromers is geskik vir lesers 11 jaar en ouer. Die boek is in maklik verstaanbare taal geskryf – perfek vir trae lesers of diegene wie se moedertaal nie Afrikaans is nie. Viljoen se meesleurende skryfstyl en die treffende wyse waarop hy die leefwêreld van ’n tiener wat in moeilike omstandighede probeer oorleef, verwoord, het my beïndruk. Childline se telefoonnommer is agter in die boek gedruk vir diegene wat voel dat hulle hulp nodig het.

Dromers is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars en kan ook direk vanaf LAPA Uitgewers bestel word.

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent en -taalversorger.

Boek: Dromers
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R102-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.