Boek van die maand (resensie): Boomkastele

boomkasteleIlse Salzwedel resenseer Maroela Media se boek van die maand, Boomkastele, deur Schalk Schoombie (Human & Rousseau Uitgewers)

Kitskos is heerlik, maar dis die Sondagmaaltye wat met liefde en fyn beplanning voorberei is wat ons lank na die laaste hap nog onthou. As boeke kos was, is Schalk Schoombie se uitstekende debuut, Boomkastele, beslis ʼn Sondagete met lamsboud, soetpatats en groenboontjies. En poeding! Die boek is fyn beplan en met liefde geskryf, en elke woord dra by tot die genot. Schoombie is immers ʼn man wat sy woorde ken, ʼn bekroonde dramaturg, veteraan-joernalis én akteur wat weet hoe woorde kan skilder.

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is mal oor ontspanningsfiksie, daardie soort boeke wat mens binne ʼn dag kan verslind bloot omdat jy wil ontsnap van jou eie saai lewe. Maar dan en wan kort mens iets met ʼn bietjie meer vleis om die been, en dis Boomkastele gewis. Dit vertel die verhaal van ʼn navorser (hy bly tot feitlik reg op die einde naamloos) en sy klein obsessies en geite. Daar is al die koerantberigte oor interessante ditjies en datjies wat hy deur die jare versamel het en wat hy na sy aftrede wil liasseer, en ʼn kleintydse droom van ʼn eie boomhuis. En dan, sentraal tot die verhaal, is daar sy voorstedelike sonde met die bure wat begin die dag toe hulle twee bome afkap wat halfpad op sy erf staan sonder om hom daaroor te raadpleeg. Die woede wat hy hieroor ervaar, rig uiteindelik die res van sy lewe.

Parallel met hierdie storie is daar die verhaal van die misdaadjoernalis by ʼn dagblad. Sy het haar eie obsessie: om uit te vind wie is die Sirkelman, die graffiti-kunstenaar wat Da Vince se Vitruviaanse Man op stadsmure verf.  ʼn Deel van die genot van hierdie boek le daarin om te kyk hoe – en of – hierdie twee stories hoegenaamd iets met mekaar uit te waai het, en hoe die skrywer hulle gaan laat saamloop.

Schoombie se vernuf met die woord is al met verskeie pryse bekroon – die mees onlangse toekennings is ʼn ATKVeertjie (vir drukmedia) en die gesogte AngloGold Ashanti Smeltkroes vir die beste nuwe drama by Aardklop. In Boomkastele waag hy sy hand vir die eerste keer aan ʼn roman, en reeds in die proloog weet die leser hier gaan elke woord tel, ʼn vaardigheid waaraan hy duidelik al oor die jare geskaaf het met al sy werk in verskillende genres. Die gestrooptheid en die manier waarop bekende woorde op aweregse maniere ingespan word om die verhaal te vertel, wil-wil herinner aan die werk van Etienne van Heerden, maar dis duidelik dat hier ʼn vars, nuwe stem aan die woord is. Ander interessanthede wat Boomkastele nog meer kleur gee, is die gebruik van volledige koerantberigte en e-posse uit die navorser se vreemde versameling, met hier en daar selfs ʼn foto om die leser by die storie te betrek.

As ʼn mens die verhaal op ʼn dieper vlak sou wou ontleed, is daar baie temas wat tot die moderne mens spreek: die invloed van tegnologie op ons lewens, die anonimiteit van lewens agter hoë voorstedelike mure, misverstande wat spruit uit ʼn tekort aan inligting… En veral die hunkering om van geweet te wees, soos die karakter Tiemie dit so treffend benoem in P.G. du Plessis se Siener in die Suburbs. Maar selfs op ʼn eerste vlak, waar dit suiwer gaan om die storie, is Boomkastele ʼn lekker lees. Daar is genoeg intrige, deurlopende spanning en slim humor om ʼn mens aan die lees te hou.

Boomkastele is ʼn waardevolle bydrae tot Afrikaanse prosa. Ek wil selfs sover gaan om te voorspel dat ons dit na alle waarskynlikheid volgende jaar op letterkundige pryse se kortlyste gaan sien. Beslis aan te beveel, veral (maar nie net nie) vir lesers wat hou van fynproe-Afrikaans. Moenie spookasem verwag nie, eerder donker, ingevoerde sjokolade.

• Graffiti Boeke stel Boomkastele (uitgegee deur Human & Rousseau) oudergewoonte teen ʼn spesiale prys beskikbaar aan Maroela-lesers (R176-00 in plaas van R220-00). Kliek hier om te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.