Boek van die maand (resensie): ‘Lugkasteel’ deur Annelie Botes

lugkasteel-annelie-botesAnnelie Botes is sonder twyfel een van die gewildste skrywers in Afrikaans. Vandat haar eerste roman in 1993 verskyn het, was dit duidelik dat ons hier met ʼn besondere, skreiend eerlike stem te doen het. Met Trippelsewe (gebaseer op haar eie dobbelverslawing) het sy haar eerste aanhangers gekry, maar met boeke soos Raaiselkind (die eerste Afrikaanse boek met outisme as tema), die ontstellende Thula-thula (oor seksuele molestering) en Sabbatsreis (oor haar ontnugterende jaar as oppasser van ʼn bejaarde vrou) het sy haarself stewig in verskillende genres van die Afrikaanse letterkunde ingegrawe. Of dit ʼn roman, ʼn outobiografiese verhaal of ʼn rubriek was, Annelie se aanhangers het haar boeke verslind.

Na ʼn mediastorm oor ʼn omstrede ras-uitspraak het vriend en vyand gewonder of dit die laaste sien was van Annelie Botes. Maar die rebel van die Kammanassie laat haar nie so maklik onderkry nie, en ʼn jaar of twee later het Swart op Wit, weer outobiografies, verskyn. Dit was introspektief, en effens swaarder leesstof as waaraan Botes-aanhangers gewoond was.

Nou het Lugkasteel, haar nuwe boek, verskyn. Dis klassieke Annelie Botes en ʼn heerlike leeservaring – die ideale leesstof vir hierdie tyd van die jaar wanneer ʼn mens se batterye taamlik pap is en jy net wil lees om te ontspan.

Sabbatsreis, wat die verhaal vertel van Annelie se Sabbatsjaar in Engeland om te gaan ponde verdien, is goed bekend. Maar tot nou het niemand geweet dat sy skaars ses maande na haar Sabbatsjaar weer vir ʼn paar maande Engeland toe is nie – hierdie keer om ʼn bende stoute adellike seuntjies te gaan oppas.

Botes beskryf hierdie kleurryke hoofstuk in haar lewe soos net sy kan. Dat sy hoegenaamd vir hierdie avontuur kans gesien het, gaan hierdie leser se verstand te bowe. Ek sou die eerste keer wat die stoute koninkies ʼn vloermoer gegooi het, reeds handdoek ingegooi het. Of minstens by die aanskoue van die koue, grillerige kasteelhuis. Maar om uit hardkoppigheid te bly wanneer alles daarop dui dat jy jou kamer deel met ʼn teenwoordigheid van ʼn ander aard? Dis iets wat net ʼn self-erkende hardekop sal doen.

Botes se lugkasteel oor ʼn rustige, goedbetalende lewe as goewernante in Engeland, verander binne dae in ʼn nagmerrie, maar opgee is min en sorg vir ʼn prettige leeservaring. Dis onverdunde, komplekse, maar ook skreeusnaakse Annelie Botes.

Lugkasteel is ʼn uitstekende teenvoeter vir die stygende einde-van-die-jaar stresvlakke.

Lees meer oor die boek: Lugkasteel
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Maroela-lesers kan die boek vir slegs R176-00 by Graffiti Boeke koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

EK is opsoek na Trippel sewe. Ek het hom lank terug uitgeneem by die biblioteek, maar wil hom graag koop. Waar kan ek hom kry asb? Al is dit tweede hands.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.