Boek van die maand (resensie): ‘Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva’ deur Sophia Kapp

divaSophia Kapp het reeds met haar eerste boek, Die Erflating, vir haar ‘n plek oopgeskryf in boekkenners en boekliefhebbers se harte. Agt topverkoper liefdesromans en drie ATKV-Woordveertjies later, kan aanhangers nie net uitsien na ʼn lekker dik nuwe boek nie, maar ook na ʼn interessante ratverandering met Die oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva.

Simoné Bekker se verhaal is baie vroue se verhaal: sy het besluit om te skei, en het nêrens heen om te gaan nie. Sy is emosioneel aan flarde, haar selfbeeld is daarmee heen, sy is platsak én sy het ʼn bot, skynbaar moeilike tiener. Die enigste plek waarheen sy kan gaan, is Boekenhoutskloof, haar grootword-dorp waar haar pa vir haar ʼn huis nagelaat het. Sy is kwaad: vir haar (byna) gewese man,  vir haarself omdat sy twee mislukte huwelike op haar kerfstok het, vir haar gelukkig getroude suster met die oënskynlik perfekte huwelik wat nie haar situasie verstaan nie, vir haar oorkritiese bejaarde ma… Eintlik is sy woedend vir die hele wêreld. Sy is sku vir Boekenhoutskloof se mense, bang vir hulle kleindorpsheid en vir skinderstories. Met mans wil sy uiteraard niks te doen hê nie, maar stadigaan wen Boekenhoutskloof se mense haar vertroue en word sy deel van die gemeenskap. En natuurlik is daar ʼn held: die aantreklike Barnard Richter, boonop ʼn hele paar jaar jonger as sy. Maar maklik gaan hy dit beslis nie hê nie!

Soos met Kapp se ander boeke, is die vroulike hoofkarakter hier ʼn sterk, eiewyse vrou. Maar wat Diva anders maak as enige ander boek uit Kapp se pen – of enige ander Afrikaanse boek wat ek die laaste paar jaar gelees het – is die skryfwyse. Die boek is in drie dele verdeel: die storie waarin ons Simoné en haar nuwe lewe leer ken, grepe uit haar dagboek wat lig werp op die dinge wat gelei het tot haar egskeiding en die woede en hartseer wat sy nou beleef, en iets wat vergelyk kan word met ʼn aweregse selfhelpgids vir divas.

Diva is ʼn baie geloofwaardige boek – vra enige vrou wat al deur ʼn egskeiding moes gaan, of wat sukkel met ʼn moeilike kind of ʼn begroting wat nie klop nie. Mens kan daarmee assosieer, want elkeen van ons ken ʼn Simoné, of is dalk self in haar posisie. (Maar ongelukkig is daar nie vir almal ʼn Barnard Richter-ridder nie!) Die boek speel af oor ʼn tydperk van ʼn jaar, en dis lekker om te sien hoe sy haarself weer vind, haar woede en wantroue afskud en haar selfvertroue terugkry. Simoné maak nuwe vriende, leer om ander pyn as net haar eie raak te sien en om ʼn verskil te maak waar sy kan. Sy leer ook dat ander mense se boeke inderdaad duister is om te lees, soos haar suster se oënskynlik perfekte lewe wat nie heeltemal so perfek en lekker is as wat sy altyd geglo het nie.

Die titel is ʼn woordspeling op Simoné se woede, maar ook op die feit dat sy nie reg behandel is in haar huwelik nie (dus, bedonner is). Moet dus nie verwag dat die heldin elke aand net stilletjies in haar kussing gaan huil nie – sy is ʼn moderne, uitgesproke vrou wat deur haar seer werk op ʼn manier wat haar ma en suster soms ongemaklik laat voel. Juis daarom, glo ek, sal die boek aanklank vind by baie lesers.

Dis al wêreldwyd bewys dat liefdesverhale – en bloedrooi lipstiffie – nóg beter verkoop in moeilike ekonomiese tye, want ons almal probeer ontsnap van die neerdrukkende sleur van ons daaglikse bestaan. Die Diva sal jou in ʼn kits laat vergeet van die ekonomie, Zuma en al die ander dinge in die koerant wat ʼn mens wil laat stik in jou oggendkoffie. Perfekte leesstof vir die komende Paasvakansie, en ook ʼn boek waarmee Kapp waarskynlik vir haarself nuwe aanhangers gaan wen.

Koop die boek:
Graffiti Boeke
Prys: R208-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nerine ·

Hierdie boek is nog nêrens beskikbaar in enige winkel nie. Wat is die rede daaragter. Kan die uitgewers vir ons verduidelik?

Hester ·

Het gister my boek van die uitgewers ontvang. Kannie wag om te begin lees nie. Het al die skrywer se boeke. Sy is tops

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.