Die hekel-reis

 Boekejol_hekel_Karen-Adendorff.jpg

Teëlmoetiewe wat geskep is deur die vroue wat die BoekeJol-boekbespreking en werkswinkel van Karen bygewoon het. Foto verskaf deur Karen Adendorff

Ek gaan met ʼn valkoog deur die propvol BoekeJol 2017-program en kom af op “Boekbespreking, Karen Adendorff – Handwerk – Prakties”.

Nou ja, kom ek bieg maar, volgens my was hekel nog altyd net vir oumas en ou tantes. Só oortuig my skoonsus my egter ’n ruk terug om deel te word van ʼn groepie, die “Happy Hookers”-hekelgroepie. En daar verander my siening rondom hekel. Aan die begin het ek geen hoop vir myself gehad dat ek enigsins gaan regkom nie. Selfs net om die hekelpen reg vas te hou, was ʼn reuse uitdaging! Ek het ek met tye klippies geverf en gebrei terwyl die ander die mooiste kunswerke skep!

Ek kon dus nie wag om tydens BoekeJol Karen Adendorff se werkswinkel by te woon nie. Min het ek geweet dat sy die een is wat my gaan leer wat die verskil is tussen ʼn kortbeentjie en ʼn langbeentjie (let wel, ek het gedink ek weet!). Daar word na Karen verwys as Suid-Afrika se hekelkoningin en ek kon absoluut sien hoekom.

Kyk, ek is nog in my babafase en is heeltemal bewus dat daar nog ʼn lang pad is van oefen, uittrek en oorbegin wat voor my lê. Maar, Karen Adendorff se werkswinkel het my opgewonde gemaak. Vroue wat al vir jare hekel, probeer iets nuuts, vra vrae en het met groot opgewondenheid Karen se nuutste boek, Hekel teëlmotiewe met ʼn verskil, deurgeblaai.

Maar hoekom hekel? Dit is glad nie ʼn goedkoper opsie om self te hekel in plaas van iets wat klaar geskep is in ʼn kettingwinkel te gaan koop nie. Inteendeel. Dit is ʼn duur stokperdjie. Oud en jonk, wêreldwyd, hekel. As jy op Facebook, YouTube, Pinterest, ens. gaan loer, is dit verstommend hoe die hele wêreld aan die hekel is.

Karen Adendorff (Foto verskaf aan Maroela Media)

Janet Becker, ‘n selferkende hekelslaaf, het dit vir my so mooi opgesom: “Ek moet ‘connect’. Dis hoe ek leef. Om te ‘connect’ met ander wat hekel en brei, is op ʼn volgende vlak. Dit gaan nooit oor wie jy is en wat jy besit nie, die vraag is ‘Waarmee is jy besig?’ en dan is daar ’n onmiddellike konneksie tussen twee vreemde mense se siele. Ek het ʼn konneksie met die gare, ja rêrig!! Party wil net in my hande wees.”

Karen het ook ʼn heerlike projek waaraan sy werk en elkeen wat haar gereelde werkswinkels bywoon, deel in die projek. “Die idee agter die blokkies is om kombersies te maak en te skenk vir liefdadigheid. So ek wil voortgaan met die blokkies by my werkswinkels sodat ons genoeg het om kombersies daarvan te maak,” sê Karen. Die foto hierbo is die skeppende werk van die dames wat die BoekeJol-werkswinkel bygewoon het.

Hekel is lankal nie meer net “hekel” nie. Dit is skeppend, bring mense bymekaar en ook ongelooflik terapeuties.

Meer oor Karen:

Karen Adendorff is die outeur en samesteller van verskeie topverkoper- brei- en hekelboeke en lewer gereeld handwerkbydraes vir LiG, Idees en Vrouekeur. Van haar beste topverkopers sluit in Alles oor hekel en Alles oor hekel 2. Besoek gerus Karen se Facebookblad.  Vir meer inligting oor haar boek Hekel teëlmotiewe met ʼn verskil, klik gerus hier.

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augustus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.