Fanie Viljoen kry matrikulante weer aan die lees met “Onderwêreld”


onderwêreld-deur-fanie-viljoen

Die skrywer Fanie Viljoen het YouTube-videos beskikbaar gestel waar hy elemente van sy boek ‘Onderwêreld’ vir matrikulante bespreek. Foto: Fanieviljoen.co.za

Terwyl onderwyskenners en skrywers mekaar verlede jaar gepak het oor die geskiktheid van Fanie Viljoen se jeugroman Onderwêreld as voorgeskrewe leesboek vir gr. 12 Afrikaans Huistaal, lyk dit asof matrikulante die laaste woord oor dié boek het.

Sover geniet die leerders die storie oor die donkerkant, waar kuberkrakers, tegnologie en rekenaars mekaar ontmoet, soveel dat dit hulle selfs ʼn tweede of ʼn derde keer die boek lees.

Boonop doen Fanie Viljoen ook nog baie om beide leerders en onderwysers te ondersteun en die leeservaring van Onderwêreld so interessant en leersaam as moontlik te maak en hy het ook besluit om tegnologie daarvoor in te span.

Agt video’s is op die skrywer se YouTube-kanaal beskikbaar, waar hy verskeie aspekte van die boek bespreek. “Ek kry soveel versoeke van skole om by hulle te gaan optree, maar dit is uiteraard eenvoudig onmoontlik om by almal uit te kom. Die YouTube-video’s wat ek opgeneem het oor die boek is ʼn maklike manier om ʼn draai in elke klaskamer te maak en met elke leerder in die land waar daar internettoegang in die land is, te gesels.”

So vind die leerders sommer “uit die perd se bek” meer uit oor die boek. In die video’s praat Fanie oor onder meer die navorsing wat hy vir Onderwêreld gedoen het en bespreek die mitologiese onderbou van die boek. Hy vertel ook in een van die video’s meer oor kuberkrakers en waarmee hulle hulself deesdae besig hou, terwyl hy ook algemene vrae wat hy gereeld oor die boek kry, bespreek. In die laaste video verklap hy sommer ook ʼn geheim of twee oor die boek. “Die idee is om leerders se kennis oor die boek te verdiep. Dit is altyd moeilik in die eerste jaar wat ʼn nuwe boek as voorgeskrewe werk aangebied word en ek hoop die video’s help die onderwysers ook om dieper insig oor die boek te bekom.”

Volgens Fanie het van die leerders wat hy vroeër die jaar tydens sy skolebesoek in die Wes-Kaap ontmoet het, gesê hulle is al besig om die boek vir ʼn tweede keer self deur te lees. “En die keer lees hulle iets nuut in Onderwêreld raak wat hulle nie met die eerste lees gesien het nie en dit is presies hoe ek die boek geskryf het. Die verhaal van Onderwêreld het heelwat lae wat jy kan afskil soos ʼn ui.”

Wat is Fanie se raad vir matrikulante oor sy boek? “Gaan lees eerstens die verhaal en geniet net eers die storie. Daarna kan jy gaan sit en dieper delf in die boek. Gaan soek na die goue drade wat deur die boek loop en wees op die uitkyk vir die motiewe, boodskappe en mitologie as agtergrond.”

Matrikulante wat verder hulp met hul eksamenvoorbereiding vir dié boek soek, kan gerus ook die studiegids wat hy vir die boek geskryf het nader trek. “Dit sal jou lei om stelselmatig deur die boek te werk. Dit bevat ook byvoorbeeld ʼn woordelys met die Afrikaanse ekwivalente en hullbetekenis van die Engelse rekenaarterme wat in die boek gebruik word. Ander literêre aspekte van die boek word ook in die gids bespreek.”
Fanie het ook ʼn nuwe boek op die rak wat nog ʼn relevante kwessie, wat byna elke laer- en hoërskool teister, aanspreek. “Kaptein Verdwyn is ʼn boek oor Kyle, wat ʼn boelie in sy skool kortvat. Dit is humoristies, maar ook leersaam en sal vir ouers en kinders bietjie raad bied oor die hantering van boelies.”

Soos dit ʼn goeie skrywer betaam, is Fanie ook altyd hard besig om aan ʼn nuwe boek te skryf. Hy werk op die oomblik aan die tweede boek in die reeks oor die aksieheld Austin en het onlangs die vyfde boek in die Lulu-reeks klaar geskryf. Die boeke behoort vroeg volgende jaar op die rakke te wees.

  • Luister bo-aan hierdie berig na die volledige onderhoud waar Fanie Viljoen uit sy tuisdorp Bloemfontein met Esté Meyer Jansen gesels oor sy YouTube-video’s van Onderwêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.