Klassiek: Magersfontein, O Magersfontein!

Etienne Leroux

Soos alle speed-cops is Le Grange eintlik ’n filosoof. Wanneer hy ’n stoet van sewe motors teen ’n rasende vaart in die rigting van Modderfontein sien slinger, besef hy weer eens die lewe is absurd – dis eers ’n Griekse, tragiese konsep, maar dan sê die moderne mens NEE! teen die onafwendbaarheid van die noodlot.

Dit is hierdie laaste gedagte wat Le Grange dwing om voor die optog in te swaai, en die stoet met flikkerende ligte veilig na hul bestemming te begelei. Een keer verloor hy amper die stoet, maar dan antisipeer hy die kollektiewe behoefte van die groep en kom tot stilstand voor die yslike kennisgewing MAGERSFONTEIN.

Terwyl televisiekameras rol en rolprentkameras versigtig ingestel word – en die geselskap turend uitkyk oor die skipvormige reeks koppies wat oor die vlaktes uittroon – begin lord Seldom (van Sudden-Fee-Tway buitekant Londen) aarselend na woorde soek: “Miskien … miskien dink ek dat Magersfontein tot die epiese kunsvorm, die prosa behoort, waar die ironie allesomvattend triomfeer oor die poëtiese lughartigheid van satire, komedie en harlekynspel.” “’n Diep denker,” sê Le Grange, wat nou ’n volwaardige lid van die projek is.

Oor die outeur
Etienne Leroux (skrywersnaam van Stephanus Petrus Daniël le Roux) is op 13 Junie 1922 op Oudtshoorn gebore. Sy pa, SP le Roux, was ’n politikus (later minister van landbou) en daarom het hulle in sy kinderjare baie rondgetrek. Hy matrikuleer in 1939 aan Grey Kollege in Bloemfontein en in 1944 behaal hy sy BA LLB-graad aan die Universiteit van Stellenbosch.

In 1946 begin hy boer op die plaas Ja-Nee naby Koffiefontein in die Vrystaat waar hy tot met sy dood gewoon het. Etienne se eerste roman, Die eerste lewe van Colet, verskyn in 1955. Dit is egter met die verskyning van Sewe dae by die Silbersteins in 1962 wat Etienne in die kollig beland. Daar is vele debatte vir en teen die boek, en in 1964 is die Hertzogprys aan hom toegeken. In 1976 verskyn Magersfontein, O Magersfontein!, en die boek maak soveel opslae dat dit in 1977 verbied word. Twee jaar later word die boek met die Hertzogprys bekroon, en in 1980 word die verbod opgehef. Hy ontvang eredoktorsgrade van die Universiteite van Natal (1978), Vrystaat (1985) en Stellenbosch (1987).

Etienne Leroux sterf op 30 Desember 1989 in Bloemfontein. Die roman waaraan hy gewerk het met sy dood, is in 1990 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Die suiwerste Hugenoot is Jan Schoeman.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R190,00*
* Prys onderhewig aan verandering