Liefde is in die lug

joune-vir-altyd_voorblad-high-resIets blink in die sonlig toe sy haar arms beweeg en hy staar geskok na die ring met die reusediamant aan haar ringvinger. Sy hart mis ’n slag en hy sluk droog … Ons deel ʼn uittreksel uit die nuwe romanza, Joune vir Altyd.

Rudi stap uit Jakkalsdans se huis toe hy ’n voertuig buite hoor stilhou. Sy hartklop versnel toe hy Melani se silwer huurmotor herken wat langs die granaatboom geparkeer staan. Hy het gewonder hoeveel tyd hy haar moet gee voor hy haar op Wolwekrans kan gaan besoek, maar nou voel hy uitbundig van vreugde dat sy hom voorgespring het. Dit kan net een ding beteken: Sy het tot haar sinne gekom en besef dat sy sy optrede by die waterval heeltemal verkeerd verstaan het.
“Haai daar! Hoe het jy geweet waar om my te kry?” vra hy opgewek toe hy nader stap. Toe Freddie Buys hom gister by die koöperasie raakloop en vertel van die uitlander wat op Wolwekrans kuier, wou sy hart byna ophou klop van skrik. Vir ’n breukdeel van ’n oomblik het hy gewonder of Melani dalk die waarheid gepraat het, maar toe hy haar reaksie in sy arms onthou, het hy die gedagte opsygeskuif. Die man is waarskynlik net ’n vriend, niks meer nie.
Melani stap hom nie tegemoet nie, maar wag hom by haar motor in. “Ek was op Duiwelspoort, toe sê jou ma jy is hier by die huis op Jakkalsdans besig.”
“Ek is bly jy is hier, ek het juis daaraan gedink om jou te gaan sien. Melani, oor Woensdag . . .”
“Ek het gedink ek moet jou eerder self die nuus kom vertel. En kom groet,” val sy hom haastig in die rede.
Hy frons onbegrypend. “Kom groet? Wat bedoel jy?”
“My pa is nou so te sê op die been en dinge is weer normaal op die plaas. Ek gaan môre terug Johannesburg toe.”
Hy skud sy kop onbegrypend en staan nader aan haar, maar sy tree vinnig terug tot teen die motor. Rudi se moed sak tot in sy skoene. Dit lyk kompleet asof sy bang is hy bespring haar. “Jy kan nie. Nie voor ons eers gepraat het oor wat Woensdag gebeur het nie.”
“Daar is niks om oor te praat nie, Rudi. Ek het niks om verder vir jou te sê nie.” Sy vou haar arms om haar lyf en kyk weg na waar werkers besig is om van die bourommel weg te ry.
Iets blink in die sonlig toe sy haar arms beweeg en hy staar geskok na die ring met die reusediamant aan haar ringvinger. Sy hart mis ’n slag en hy sluk droog.
“Sê my asseblief dis nie wat ek dink dit is nie,” sê hy hees, sy oë bankvas op die ring.
“Dis wat ek jou self wou kom sê, voor jy dit deur die skinderkanaal hoor. Ek en Brett gaan trou.”
Geskok flits sy oë op na hare. Hy voel hoe sy lyf yskoud word en die bloed sy gesig verlaat. “Jy is nie ernstig nie, Melani. Hoekom?”
Sy sluk en vee opsigtelik ongemaklik ’n stringetjie hare van haar voorkop af weg. “Hoekom dink jy trou mense, Rudi? Ons is lief vir mekaar. Dis wat mense doen wat . . .”
“Dis snert en jy weet dit! Jy het hom nie lief nie, Melani.”
Melani trek haar skouers terug en kyk reguit in sy oë. “Ek het! Hoe sal jy weet, Rudi Reichman? Jy het geen benul hoe ek voel nie.”
“Miskien nie, maar ek weet wat Woensdag by die waterval gebeur het en ek weet dat as jy daai man liefgehad het, jy my nie sou teruggesoen het nie, Melani.”
Haar wange word donkerpienk en sy lek senuagtig met haar tong oor haar onderlip. Hy moet sluk toe die begeerte om haar weer te soen, opnuut deur hom pols.
“Dit was ’n fout. Jy het my onkant betrap, dis al. In elk geval, ek het nie jou toestemming nodig nie, Rudi. En ek hoef myself nie aan jou te verduidelik nie. Ek het net gedink aangesien ons soort van vriende is . . . was, wou ek jou self van my en Brett se verlowing kom vertel. Dis die ordentlike ding om te doen.”
Sy hand skiet uit en gryp die deur vas toe sy wil inklim. “Kyk my in my oë en sê my jy voel niks vir my nie, Melani.”
Haar lyf roer nie, sy draai net haar kop effens en kyk weg oor die vlaktes. Rudi sien hoe sy stadig sluk en haar kake opmekaar klem.
“Jy kan dit nie sê nie, want dis nie waar nie, is dit?” vra hy sag toe hoop opnuut in hom opvlam.

Uittreksel: Joune vir altyd deur Alma Carstens, Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.