Nostalgie, kultuurerfenis en onthou

nico-moolman

Nico Moolman.

Deur Susan Maré

ʼn Skrywer met sy pen diep gedoop in die ink van die verlede, dís Nico Moolman. Sy gewilde koffietafel-publikasies wat reeds landwyd bekend is sedert 2005, is pure nostalgie, kultuurerfenis, verlange en onthou. Dit is die vier hoekstene waarop Nico se boeke gebou is en hy beeld dit visueel uit in duisende foto’s, fragmente, uitknipsels, skryfsels en ander interessante inhoud wat hy lewenslank versamel het.

Die uitleg en aanbieding van Nico Moolman-boeke is ewe uniek. Sommige boeke is gedruk in “plakboekstyl” wat leeservarings eiesoortig maak. Dit wek miskien die indruk van “deurmekaar”, maar wag, daardie “deurmekaar” is een wat boei en jou ure lank gaan vasvang. Dit is asof die inhoud die lesers wil “verslaaf maak”, want soveel detail en verskeidenheid wil weer en weer en weer bekyk en gelees word.

Nico skryf in een van sy boeke: “Elkeen van ons het ʼn unieke manier van onthou. As jy na gister wil terugloop, hang dit van die oomblik af. Jy kies self die vervoermiddel: Jou kinderfoto in ʼn album, ʼn portret teen die muur, ou vriende by ʼn begrafnis, ʼn ou fliek, ʼn liedjie oor die radio . . . Dis ʼn verlange wat jy nie kan onderdruk nie. Die mooiste van verlang is egter dat jy mag onthou soos en wat jy wil.”

In bykans al sy boeke loop die goue draad van verlange na wat was. Hy skryf reguit oor die wreedhede van die Anglo-Boereoorlog (ABO) en huiwer nie om met ʼn klapswepie onder die Engelse generaals en joiners in te klim nie. Selfs “Kween Viktoria” sal postuum moet koes. Dit is veral die Afrikaner-mense se verlede en onreg wat Nico uitbeeld.

Nico sal voor in die koor wees om te erken sy boeke berus nie in die eerste plek op klipharde historiese feite en interpretasie nie. Dis is nie die koue, kil geskiedenis van geskiedenisboeke nie, maar ʼn geskiedenis wat op grondvlak leef en lesers se emosies aanspreek. Hy sal ook die eerste een wees om te erken dat dit soort van “ongeredigeer” is wat taal betref – en geskryf is in die heerlike dialoog, woordeskat en volksmondstyl van vorige generasies. Pure volksmond, soos wat dit was. Juis dit maak sy boeke bekoorlik en gewild.

Van sy boeke is gepubliseer in die “boek-in-die-tassie-formaat” – met “handvatsel” en al. Dit is wanneer jy een van Nico se boeke of “tassies” in jou hande vashou dat jy weet dis nie die gewone nie. Sommige boeke weeg ʼn hele paar kilogram!

Die unieke versameling foto’s wat van wie weet waar oral in Suid-Afrika op Nico se tafel beland het, is nimmereindigend. Wat reeds gepubliseer is, maak nie eens ʼn duik in sy totale voorraad nie.

Dit het alles aan oupa se knie begin, by oupa Niklaas Moolman wat ʼn Bittereinder in die ABO was. Sy ouma, Alet, het ʼn liedjieboek in die Standertonse konsentrasiekamp begin. Dit boei en grief hom dat meer as 22 000 vroue en kinders in haglike omstandighede in boere-konsentrasiekampe dood is.

The Boer Whore word in 2017 verfilm

the-boer-whoreEen van sy boeke, The Boer Whore, gaan in 2017 verfilm word. Hy het filmregte op die boek bekom en die draaiboek is reeds deur Ian Roberts, bekende akteur van onder meer die bekende Arende-televisiereeks, voltooi. Die rolverdeling moet nog gedoen word.

Nico was die eerste skrywer om die tragiese verhaal van Susan Nell in die Winburgse konsentrasiekamp vir vroue en kinders te boekstaaf. Dié boek is reeds deur biblioteke in Nieu-Seeland aangekoop. Nell het een van die wêreld se bekendste vrouesielkundiges geword toe sy met vroueslagoffers in die sogenaamde Japannese “comfort stations” in die Tweede Wêreldoorlog gewerk het.

Danksy ʼn skrywer soos Nico Moolman kan Suid-Afrikaners helderder insig kry in die epiese stryd tussen Boer en Brit in die oorlog van 1899 tot 1902. Dit is duidelik ʼn oorlog wat skrywers en filmmakers steeds inspireer. Talle ABO-verhale is nog nie eens geboekstaaf nie. Die einde van dié oorlog is nog nie verby nie en  sonder kennis van die ABO kan die verhaal van ons land nooit ten volle verstaan word nie.

In 2016, ná bykans 118 jaar, het hierdie oorlog steeds ʼn invloed oor hoe mense polities en vaderlands dink.

Lees die volledige onderhoud wat met Nico gevoer is op https://www.facebook.com/lensnuus/.

Publikasies

Nico se boeke is oor die hele Suid-Afrika te koop. Wees op die uitkyk daarvoor by padstalle, Exclusive Books, alle Tiger Eye-winkels, kunstefeeste, Die Taalmonument, en vele ander plekke:

die-pienk-baaisiekelDie Pienk Traaisiekel

Die Pienk Baaisiekel
Kuier in ʼn Plaaskombuis
South Africa at a Canter
Die Groot Kwilt
Uit Ouma se Uitsetkis
The Boer Whore
Zij
Feetjies van die Wolke/Cloud Fairies
Die Wildtuinbus
Die Safari Bus
Karren-melk vir Ta’ Nonnie
Die Towerblom (operette)
“Tingeling” (liedjie, opgeneem deur Min Shaw)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter Murray ·

Susan, lekker om jou beskrywing te lees. Maak n mens lus vir goeie leesstof. Jy bly n raakvatter.

thelsa ·

Skitterend Nico. As oud-kollega het ek dikwels na jou bandopnames geluister waar jy met mense/vriende oorsee kommunikeer. Doe zo voort !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.