‘Tel jou woorde,’ sê Liesel Krause-Wiid

Foto: Maroela Media

Hoewel nie al 39 skrywers die bekendstelling kon bywoon nie, het Liesel ʼn paar van die vroue die geleentheid gegee om hulself voor te stel en ook kortliks uit die hart te praat oor waarom hulle by die boek betrokke geraak het. Foto: Maroela Media

“ʼn Mens se tong is soos ʼn klein vlammetjie wat ʼn hele bos aan die brand kan steek,” sê Liesel Krause-Wiid by die bekendstelling van haar jongste boek, Wat sê jy.

Die sentrale boodskap van die boek handel oor die krag van woorde en hoe jou woorde jou en ander se lewens raak. “Woorde het ʼn enorme impak en dit kan regtig vernietigend wees, maar dit kan ook bemoedigend wees.”

Dié boek is saam met 39 ander predikantsvroue van dwarsoor Suid-Afrika geskryf en Liesel sê dit was ʼn voorreg om ʼn boek saam met ʼn klomp predikantsvroue uit te gee, omdat sy glo dit is ʼn unieke konsep wat baie mense se harte sal aanraak. “Hierdie vroue, wat in die bediening staan soos ek, kry te doen met baie mense se seer – hulle stories het my aangegryp.”

Hoewel nie al 39 skrywers die bekendstelling kon bywoon nie, het Liesel ʼn paar van die vroue die geleentheid gegee om hulself voor te stel en ook kortliks uit die hart te praat oor waarom hulle by die boek betrokke geraak het.

“Dis ʼn groot voorreg om vanaand saam met hierdie vroue hier te wees,” sê Janine Truter, een van die 40 skrywers van die boek. Janine het ook verduidelik hoe mens se woorde ander kan raak. “Woorde is soos tandepasta, as dit eers uitgedruk is, is dit uit – jy kan dit nie weer terugdruk nie.”

Elke storie is ook aan ʼn Bybelvers gekoppel, wat die tema van die boek nog meer versterk. Liesel, wat ook redakteur van die boek was, sê daar is ʼn lekker verskeidenheid om te lees, van diep getuienis tot mooi stories wat sal inspireer.

Hoewel die boek oor woorde handel, sê Liesel alles begin by ʼn mens se gedagtes. Sy vergelyk die mens met ʼn koppie tee wat mors wanneer aan die koppie gestamp word. “Wanneer daar bietjie aan jou gestamp word, dan kom dit uit wat in jou binneste is. Ek dink dit begin alles by ons gedagtes – ons moet versigtig wees wat ons dink.”

Die boek is binnekort in alle boekwinkels landwyd beskikbaar of by die Voelgoedwinkel.

Lees meer oor Wat sê jy op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.