Uittreksel uit: Die pad na Skuilhoek

13

Die son is helder en baie geel op die grasvlakte duskant die kronkelende
loop van die sanderige rivier, op die jong meisie in die ligte
rok.
Lourens hou Goewerneur in. Hy kyk nie vir een oomblik van
Petronel weg nie. Hy klim van die perd af en die teuels val uit sy
hand. Goewerneur bly staan. Sonder om sy oë van haar af te haal,
maak hy die koeëltas om sy middel los. Die geweerband gly met ’n
skouerbeweging van sy skouer af. Hy sit die geweer versigtig in die
gras neer en loop nader.
Sy het gaan staan.
Al geluid is ’n sprinkaan wat uit die gras woer net om verder aan
weer weg te duik.
“Petronel,” fluister hy byna asof sy oë hom bedrieg.
“Lourens.” Sy begin na hom toe hardloop, die soom van haar rok
swiep deur die gras.
Hy maak sy arms oop, verloor amper sy balans, maar vang haar
tog toe sy hom bevlieg.
“Jy is hier!”
Hy vou haar toe in sy arms.
Eers later hou hy haar aan haar skouers van hom af weg. Hy kyk
na haar asof dit die eerste keer in sy lewe is dat hy haar sien.
“Jy het nóg mooier geword, Petronel.”
“Jy het my nie vergeet nie?”
Mens vergeet nie jou eie gedagtes nie.”
“En ek . . .” Sy druk haar gesig in sy nek, hou hom vas. “Ek het
só na jou verlang.”
“Iemand roep,” sê Lourens en kyk na die mens wat ver agter
haar wink.
“Kom ons loop weg en dros vir altyd,” sê sy, maar staan nogtans
effens weg van hom sonder om hom te los.
“Waarnatoe sal ons gaan?” vra hy en vat-vat na Goewerneur se
teuels. Hy los haar hand en buk om die geweer op te tel en in die
saalsak in te steek.
“Ons vlug Skuilhoek toe.” Sy stap saam in die rigting van die
waens anderkant die rivierloop.
“Dit is juis wat ek kom vra,” sê hy en vat haar hand in sy linkerhand
met die teuels losweg oor sy ander hand.
“Wat kom jy vra?” Sy gaan staan stil, kyk na hom en leun dan
met haar kop teen sy skouer.
“Ek wil probeer om Skuilhoek teen my naam te laat aanteken as
burgerplaas. Sal jy daar wil bly?”
“Vrá jy nog? Jy weet mos.”
Hulle loop op hulle tyd aan.
“Hulle begin nou die plase aan die Mooirivier registreer.”
“Ja, Lourens, ek wil Skuilhoek hê. Skuilhoek en niks minder of
niks meer nie. Skuilhoek. In die vallei tussen ons berge anderkant
die Vaalrivier.”
“Ek wou net eers kom seker maak. Die laaste twee jaar kon ’n
mens nie aan plaas soek dink nie.”
“Omdat ons nou al amper vier jaar rondswerf soos sprinkane.”
Toe hy gaan staan, is sy vas teen hom. Hy wil haar nie los nie. Sy
ruik vars, voel lewendig teen hom.
Petronel het ’n vrou geword, sy is nie meer die rietskraal dogtertjie
wat deurnag in die kloof teen hom gelê het nie. Hy loop
verder omdat hy bang is om vir haar te kyk, bang dat sy verby sy oë
in hom in kan lees.
“Sal jy gaan uitvind van Skuilhoek?”
“Dit is al wat ek van hier af gaan doen, my duiker.”
Hulle stap verder, dan gaan sy staan, draai na hom toe. Sy
kom op haar tone en neem sy gesig tussen haar hande en soen
hom.
Dis toe dat klein Carel agter hulle praat: “My pa sê julle moet
kamp toe kom. Almal sien hoe julle in die veld vry.”
“Jy soek ’n pak slae,” dreig Lourens.
“My broer sal jou platslaan.”
“Kom,” sê Petronel.
By die waens is niemand vriendelik nie.
“Jy kan koffie drink, dan moet jy gaan slaapplek soek,” sê Sofia.
“Hier is nie plek nie.”
Lourens drink koffie.
Sofia sorg opsigtelik dat hy nie weer kans kry om alleen met
Petronel te praat nie. Maar die dieptes van Petronel se oë bly hom
by toe hy Goewerneur vat en sy been oor die perd se rug gooi.
Hy sal Skuilhoek op sy naam gaan kry en haar dan kom haal.
ss
“Hoe het die skepsel geweet waar ons is?” wil Carel weet toe Lourens
op Goewerneur weggalop.
“Ons? Nie ‘ons’ nie. Die wonder is dat hy mý gekry het.” Petronel
vlieg op, gaan staan met haar hande in haar sye. Die donker oë blits
oor die vuur. “Ek gaan met hom trou.”
“Nogal? En hoe sal hy vir jou sorg?” vra Sofia met die swart ketel
in haar hand.
“Hy gaan aansoek doen vir ’n burgerplaas.”
“Hy sal nie een kry nie,” sê Carel. “Nie solank as wat ek dit kan
verhoed nie.”
Petronel gluur haar swaer oorkant die vuur aan. Sy besef hy is
ernstig.
“Ek gaan met hom trou, al sê julle wat.”
Sofia lag. “Jy is te jonk.”
“Susanna Smit was dertien toe sy met eerwaarde Erasmus Smit
getroud is.”
Net die vuur tussen hulle.
“Hy is ’n Godsman,” sê Carel.
Wat het dit daarmee te doen? wil Petronel vra, maar sy draai
liewer weg en loop na haar tent toe.
By die tafeltjie skryf sy op ’n klein stukkie papier:
Kom haal my sodra dit lyk of jy Skuilhoek aan jou toegeken kan kry.
Ek het jou meer lief as wat woorde kan sê.
Toe sy seker is niemand sien haar nie, glip sy agter die tent om
na die volk se vuur toe. Sy kry net vir Klein April en stuur hom om
met die briefie agter Lourens aan te draf.
Sy sien nie toe Carel vir Diederik langs die wa met sy kop beduie
om agter Klein April aan te ry nie.
Tussen die bome op die wal van die sandloop trek Diederik sy
perd dwars voor Klein April in.
“Gee vir my daai brief as jy nie vandag doodgeneuk wil word
nie.” Hy bly op sy perd sit, sy hand uitgestrek na Klein April.
Stadig spel hy elke lettergreep met sy lippe uit. Dit neem ’n hele
rukkie voordat hy opkyk en lag.
Hy skeur die briefie fyn en strooi die snippers in die wind dat dit
oor Klein April waai.
Stadig loop Klein April terug kamp toe.

Vir meer inligting oor Die pad na Skuilhoek klik hier.

Om ‘n resensie te lees van Die pad na SKuilhoek klik hier.