Fiat 500L nou die Grootboet

Fiat 500L Foto: Bernard K Hellberg

Fiat 500L Foto: Bernard K Hellberg

Vyf en vyftig jaar nadat die eerste Fiat 500 die lig gesien het as die eerste klein ‘stadsmotortjie’ van sy era, het die groter maar steeds kompakte 500L nou op die toneel verskyn.

In vele opsigte bied die 500L ‘n nostalgiese blik op die oorspronklike 500 se herkoms – met dieselfde mate van sukses waarmee BMW se MINI daarin geslaag het om die visuele tradisie te laat voortleef.

Mislukkings in hierdie opsig was daar ook – soos die vorige generasie ‘nuwe’ Kewer deur Volkswagen.

Die Fiat 500L staan hoog op sy wiele, sy bagasiedravermoëns is merkwaardig, en bougehalte (hy kom uit Serbië) is tipies Europees, dus goed en stewig.

Twee enjinvariante word aangebied. Daar’s ‘n 1.4-liter 70 kW petrolweergawe wat maar lui en sukkel-sukkel gevoel het (en dit tydens die bekendstelling aan die kus). ‘n Mens kan bloot wonder hoe hy aan die Rand sal vaar waar die dun lug nog 17% krag aftap.

Die eerste keuse sal die 1.6 turbodiesel wees. Hierdie 77 kW voel frisser as wat sy kraguitsette aandui, maar as ‘n tweede generasie van Fiat se gevierde Multijet-enjin, bring die diesel beslis sy kant.

Beide modelle het 6-gang-handskakel ratkaste wat redelik doeltreffend gewerk het, maar wat tog soms ietwat vaag gevoel het.

Die nadeel lê egter, weer eens, in die prys (R287 990) terwyl sy swakker petrolboetie – Lounge-weergawe – R40 000 goedkoper is. Die heel goedkoopste in die reeks is egter die Easy, wat jou R232 990 uit die sak sal jaag.

Binne alle variante, hetsy die ‘Easy’ of ‘Lounge’, wemel dit van luukse en veiligheidskenmerke soos ses lugsakke, ABS, EBD en lugversorging wat jou vingers sal afvries teen die maksimum-verstelling.

Die rommelkissie het ook verkoelingsgleuwe om koeldranke vir die langpad koud te hou.

My groot klagte met die 500L is egter die vorm van die voorste sitplekke (die deel waarop ‘n mens sit). Daar is feitlik geen kantsteun nie en die klein ‘platformpie’ herinner eerder aan ‘n gestoffeerde kroegstoeltjie. Ek sidder om te dink wat hierdie sitplekke se uitwerking op die langpad, bv. Pretoria na Kaapstad, sal wees.

Die stuurwiel is ten volle verstelbaar – reikafstand en hoogte – maar, pasop. Dit kan gebeur dat die ‘ideale’ stuurposisie net kan beteken dat jy nie die bokant van jou spoedmeter sal kan sien nie.

Opsommend is die Fiat 500L’n stewige voertuig met uitstekende padgedrag, tonne pakplek, goeie sig danksy sy hoë sitposisie en ‘n 3-jaar/100 000 waarborg en instandhoudingsplan.

Dalk is dit die voertuig wat vir die maatskappy goeie verkopesyfers gaan besorg.
Hy is immers oulik genoeg met sy parmantige vooraansig en agterstewe wat sterk herinner aan die MINIS wat deesdae al meer na MAXI neig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.