Gedig: Die huis van my vader

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Johan Hambidge (1956)

In my pa se studeerkamer
staan daar ’n ensiklopedie
van A tot Z, ’n Webster
met ’n indeks vir my
kindervingers. Veral
reptiele en dinosourusse
in kleur afgedruk kon ure lank
my verbeelding aanvuur.
Daar was vele boeke, ja,
sommige ongelees, ander vol
notas en selfs ’n briefie van sý pa,
my Dowe Oupa Frank,
wat waarsku: die lewe
skuld jou niks . . .
Met hierdie skuldlas leef ek
al bykans ses dekades lank:
For poetry makes nothing happen,
daardie motto uit Auden,
dikwels verkeerd aangehaal
en meestal misverstaan.
My pa, my ou Dad,
hoe swaar dra ek nie
aan verlange en verdriet?
My pa, my ou Dad,
was alles dan so verniet?

Uit: Indeks deur Joan Hambige
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.