Gedig: Die son loop agter wolke deur

Argieffoto

Argieffoto

André Letoit (Koos Kombuis) (Geb. 1954)

die son loop agter wolke deur
mense drink koffie met warm slukderms
terwyl hul sokkies onder hul broekspype sweet
oë draai links en regs afhangende van ligging van meisies
– mooiweermeisies met sambrele soos dun ooglede
toegeknip teen die gure weer –
die son loop agter wolke deur.

die son loop agter wolke deur
ʼn poedel inspekteer bene en boomwortels
terwyl sy miesies onder haar rooi kapsel
oor die straat wip-wip, ek verlang na jou
hier in die lawaaierige stilte van die straatkafee
en roer my koeldrank met my strooitjie oor en weer
die son loop agter wolke deur.

die son loop agter wolke deur
sy strale slaan teen lugkastele vas
van engele of geeste. hiervan weet ons
aardmense min. ons weet net van koffiedrink
en rooi verkeersligte en poskantore. maar die son
is hoog geleë; hy weet niks van wat hier gebeur.
die son loop agter wolke deur

die son loop agter wolke deur
my hande is oor my voorkop gevou
en jou afwesigheid stu in my bors.
ek wil wegvlieg saam met die son
oor wit berge en blou dale waar niemand
voel nie; hy steur hom nie aan wat hier gebeur
die son loop agter wolke deur.