Hier is die wenners van die Boekejol-digkompetisie!

digkuns_kompetisie_skootrekenaar_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié jaar se BoekeJol- en FilmRolfees het met ʼn heerlike digkunskompetisie afgeskop.

BoekeJol en Maroela Media het aan elkeen vanaf 13 jaar oud die geleentheid gegee om hul digvernuf met ons te deel. “In ʼn gedig kan elke individu uiting gee aan hul gevoelens, gedagtes en leefwêreld,” sê Dia van Staden, organiseerder van die BoekeJol- en FilmRolfees.

Die BoekeJol- en FilmRolfees het vanjaar van 16 tot 20 Augustus by Lynnwood Bridge in Lynnwood, Pretoria plaasgevind.

Die beoordelaarspaneel was die bekroonde digter Bibi Slippers, omroeper en mede-aanbieder van die Groot Ontbyt op kykNET Su-an Müller-Marais, en uitvoerende hoof van Maroela Media Susan Lombaard.

Deelnemers kon oor drie temas skryf, naamlik Hier, Huppel en hop en Skokgolwe.

Die wenner van die kompetisie is Alida Marais (44), ʼn datakontroleur van Pretoria, met haar gedig Midde (ons) winter. “Jy het sopas my dag en maand gemaak!” het sy vrolik gesê toe Maroela die nuus aan haar oorgedra het. Alida het sewe jaar gelede, ná haar ma se afsterwe begin skryf en sy werk reeds aan haar vierde digbundel. “Vandag ek begin skryf het, het die woorde nog nooit weer opgedroog nie.” Sy stap weg met prysgeld van R3 000.

Midde (ons) winter
Deur Alida Marais

hiér waar jy donkerkolle gelos ‘t
en soveel nikssê’s tussen ons
bid ek vir son oor jou skouers
want jy raak my steeds
jy raak my soos stiltes en stukkendwees
en selfs tussen vlae verkluim
bly ek dink aan jou soos vlamme en fynhout
en die kleur van somers
want jy roer my nog
jy roer my soos iets wat opwel en oorloop
en van vooraf neig na die flonker van vergifnis

Die tweedepryswenner is Odette Karsten (19) van Rietbron in die Wes-Kaap met haar gedig, ʼn Vuur vol kastaiings. Sy ontvang R2 000 vir haar skryfwerk.

‘n Vuur vol kastaiings
Deur Odette Karsten

Blits, bliksemstrale, vuur en vlam
onverwags het die geknetter die aardkors verpletter.
Soos blits met sekondes oor vele hektaar versprei,
vele lewens gekos van held en redder.

Radiogolwe, kassiekanale en koerant het basuin,
hoe daar naby Fiela se bos ‘n landskap verdwyn.
‘n Ashoop waar eens ‘n dosyn kamers was,
‘n hoop herinneringe nou net verkoolde as.

Heinde en verre is harte geopen,
om ‘n hand uit te reik na dier en mens.
Baie het niks, baie het iets,
veel het hul geboortedag verwens.

‘n Golf gruwelike vlamme het ‘n landskap verwoes,
‘n Nasie bymekaargebring en omgee geoes.

Die derdepryswenner is Elsabé Pienaar (44) van Colesberg in die Noord-Kaap. Sy ontvang R1 000 vir haar gedig, Richterskaal.

Richterskaal
Deur Elsabé Pienaar

In die naskok van die groot gerammel
Tril die grond met tussenposes
En kos dit ekstra myl se loop
Om die bloed van die grond
Áf te bid
Lengtegraad en breedtegraad verskuif, so ook koördinaat
En in verwarring, vertwyfeling
In die bewing van die chaos
Word hoeksteen en ankerpaal
weer ‘n baken van hoop
Terwyl die sekretarisvoël ongestoord
Oor gebreekte klippe loop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.