Neem deel: Afrikaans is #onmisbaar

Grafika: Kobus Galloway, Idees vol Vrees

Het jy al hieraan gedink … Wat van Afrikaans is vir jou onmisbaar?

Afrikaans.com, ʼn platform wat poog om alles oor Afrikaans op een plek byeen te bring, het met ʼn interessante veldtog begin om Suid-Afrikaners opnuut bewus te maak van die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself.

Sewe miljoen Suid-Afrikaners praat en lééf Afrikaans – ʼn taal wat op eie bodem tot stand gekom het – eiegoed wat gegroei en ontwikkel het tot ʼn akademiese taal waardeur sprekers internasionaal presteer en plaaslik floreer.

“Afrikaans.com kan nie ʼn Suid-Afrika sonder dié taal indink nie, daarom beskou ons Afrikaans as #onmisbaar en beklemtoon ons die belangrikheid van die taal en sy sprekers in ons nuwe advertensieveldtog,” vertel Ingrid Erlank, redakteur van Afrikaans.com.

Die veldtog sal ondersteun word met feitelike inligting op Afrikaans.com en in die media oor die waarde van Afrikaans t.o.v. onderrig, kultuur en die ekonomiese bydrae.

Die nuwe reklameveldtog van Afrikaans.com beoog om:

  • Suid-Afrikaners opnuut bewus te maak van die waarde en nut van Afrikaans vir verskillende mense, sektore, ekosisteme en hulself
  • bewustheid te skep van die impak van Afrikaans met spesifieke fokus op moedertaalonderrig, sy sprekers se leefwêreld, die uniekheid van die kultuurlewe en die prestasie en selfwaarde van die sprekers van die taal
  • die publiek aan te moedig om Afrikaans nie net te verken en te vier nie, maar om ook eienaarskap te neem en dit op te pas!

“Die eerste suksesvolle veldtog van Afrikaans.com het die publiek bewus gemaak van die kleurvolheid en diversiteit van die Afrikaanse landskap met betrekking tot die unieke manier waarop die taal gepraat en geleef word,” verduidelik Erlank. “Die tweede veldtog, wat eersdaags op buitelugborde, gedrukte media en die radio is, kommunikeer op ʼn ernstiger noot die effek wat dit sal hê as Afrikaans nie meer so toeganklik en bekombaar is soos wat dit tans is nie. Die advertensieveldtog nooi mense uit om met die hutsmerk #onmisbaar te vertel waarom Afrikaans binne sy/haar konteks en ervaringswêreld onmisbaar is.”

Milanie Vosloo, projekbestuurder van Veldtog Afrikaans, sê net soos met die eerste veldtog, “Hoe lyk jou Afrikaans?” wil hulle mense aanmoedig om na te dink: ‘Wat sal ek mis en verloor as Afrikaans nie meer daar is nie? Wat sal gebeur as my kinders nie meer Afrikaanse onderrig ontvang nie? Wat kan ék doen om die taal te koester?”

Afrikaans ís onmisbaar! Veldtog #onmisbaar is ‘n belangrike bousteen in die bewustheid daarvan.

Hoe neem jy deel?
Afrikaans.com nooi jou uit om met die hutsmerk #onmisbaar op sosiale media deel te neem. Neem foto’s, deel jou gedagtes … vertel ons waar en wanneer jy Afrikaans as kosbaar beleef; daar waar dit waarde toevoeg; daar waar dit persoonlik betekenis het; daar waar Afrikaans ʼn verskil maak!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.