Provinsiale wenners spel speel-speel

Foto: ReadingEggs

Kom meet jouself teen deelnemers aan nasionale ronde van Sanlam WOW Spelkompetisie!

Met meer as 150 skole en 420 leerders van reg oor Suid-Afrika, beloof die finale ronde van die Sanlam WOW Spelkompetisie vir 2017 groot opwinding – en erge senuwees vir die ma’s en pa’s wat die dag gaan bywoon.

“Die spelkompetisie open werklik jong kinders se wêrelde deur nodige blootstelling en interaksie en juis daarom is die finaal ’n groot hoogtepunt,” sê dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, onder wie WOW (’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde) ressorteer. “Deur die medium van taal steek hulle grense oor – ons kan beslis baie by hulle leer.”

Fiona van Kerwel, die projekbestuurder vir die WOW-projek sê sy en haar span deurkruis jaarliks die land om toe te sien dat die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan na kring-, distrik en provinsiale vlak – foutloos en glad verloop. “Ons maak staat op ’n hele klomp onderwysers en ouers wat ons vrywillig help om die projek verder uit te bou. Die potensiaal van ons leerders én hulle ouers en onderwysers is ongelooflik en gee ’n mens oneindig baie hoop.”

Buiten Afrikaans Huistaal-leerders van graad 1-10, sal daar ook vanjaar in Engels (Eerste Addisionele Taal, graad 6 en 9) en isiXhosa (Huistaal, graad 6 en7) gespel word. Die Afrikaanse spellers kom van reg oor die land, terwyl die Engelse-groep uit Gauteng en die Wes- en Oos-Kaap is en die isiXhosa-leerders net uit die Wes-Kaap. Vier leerders per graad uit elk van die deelnemende provinsies sal op Saterdag 21 Oktober kragte meet.

Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees en WOW-projek, sê die doel met die kompetisie is om leerders weer opgewonde te maak oor hul taal. “By WOW en by die Woordfees draai alles wat ons doen om woorde – lees, skryf, sang, toneel. Ons wil graag dié passie ook by ’n nuwe geslag laat vlamvat.”

Dit word aangebied by verskillende lokale van die Universiteit Stellenbosch, insluitend die Lettere-, Wilcocks-, GG Cillie- en Bedryfsielkunde-geboue. Die verwelkoming vind om 09:30 plaas en vanaf 10:00 word in alle erns gespel. Belangstellendes is baie welkom om deur die loop van die dag in te loer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.