Talle gebruikers van Afrikaans struikel oor die betekenisverskil tussen die woorde “blykbaar”, “klaarblyklik”, “oënskynlik” en “skynbaar”.
Blykbaar impliseer ʼn geringe mate van twyfel en word gebruik wanneer ʼn mens min of meer seker van jou saak is.
Klaarblyklik beteken dat iets beslis, kennelik, ongetwyfeld of onteenseglik sal gebeur en dui op feitlik volkome sekerheid. As iets klaarblyklik die geval is, bestaan daar geen twyfel meer nie.
Oënskynlik sê hoe iets op die oog af lyk – dit kan so wees of nie.
Skynbaar word gebruik as iets nie is soos dit lyk of skyn te wees nie: Sy was skynbaar vas aan die slaap (maar het alles gehoor wat gesê is).
Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering