Woord: nuuskierige agie

Argieffoto (Foto: alexramos10, Pixabay)

Woord:
nuuskierige agie

Betekenis:
man/vrou wie se nuus in gevaar verkeer

Waar kom dit vandaan?
Dié agie was Agie van Enckhuisen en haar geskiedenis het behoue gebly. Sy (en die uitdrukking) verskyn die eerste keer in 1654 in ʼn prettige boek, De gaven van de milde St. Martin. Die uitdrukking word gewild omdat die Kluchtigh Avontuurtje van ‘t Nieuwsgierigh Aeghje van Enkhuysen in 1655 as ʼn byvoegsel in ʼn ander boek van Jan Zoet opgeneem word, naamlik ‘t Leven en bedrijf van Clement Marot.

A. Bormeester maak later ʼn klugspel daarvan wat die uitdrukking verder laat versprei.

Volgens die klugte was Agie jonk en met ʼn smid getroud. Die slae van sy hamer was nie opwindend genoeg nie, en sy wend haar toe na ʼn skipper in die buurt wat soms Antwerpen toe vaar. Aangesien sy nie as “agterbakse Agie” bekend wil staan nie, neul sy by haar man om op ʼn keer saam met haar en die skipper te vaar.

In Antwerpen merk ʼn Spaanse Brabander haar op en spreek haar vriendelik as “niggie” aan – wat daar ʼn woord vir ʼn prostituut is. (Spaanse Brabander is die bynaam vir ʼn Brabander wat die Spaanse prag en praal navolg.) Die arme Agie weet dit nie. Sy dink terstond dat die señor haar neef is en beland deur sy toedoen in ʼn bordeel. Daar word sy dronk en verloor ongelukkig nie gewig nie, maar honderd gulde.

Dié interessante brokkie is gepubliseer in dr. Anton F Prinsloo se boek, Die aap in jou koffie (Afrikaanse eponieme van A tot Z).
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.