Tel jou woorde – Die Amerikaanse touchdown, die Engelse roos en Welkom se melktert

taaldag afrikaans

Argieffoto

So ‘n dag of wat gelede vra ‘n gebruiker op ‘n openbare taalforum wat die vertaling vir die Amerikaanse term “touchdown” is. Ek sien die vraag en ek sit en wag … En sowaar, daar kom die antwoord: ‘n drie. Ek wil my oë rol, want hoe kan ‘n ding wat in Amerikaanse boelieballet ses punte werd is sommer in ‘n Afrikaanse teks ‘n drie word? Dis mos nou heiligskennis om so met rugbyterme te ketter. Ou Dok Craven sal mos in sy graf omdraai.

Die gesprek wat daarop volg, is wel interessant, en die besluit is uiteindelik dat die ding sy Amerikaanse naam moet behou, want dit help nie ‘n mens probeer die term vertaal nie – dis in ‘n sport en kultuur ingebed wat net nie in Afrikaans bekend of vertaalbaar is nie. “Kulturele merkers” noem vertaalkundiges sulke terme – woorde wat nie net betekenis dra nie, maar ‘n hele kultuur saam met hulle sleep. En insinuasie en ironie en emotiewe gewig en allerhande ander gure en ongure belasting het waarop ‘n mens bedag moet wees voordat jy sommer net ‘n vertaalekwivalent wil uitruk.

Jy kan nie, soos die liewe, naïewe Juliet vir die ewe onnosele Romeo vra: “What’s in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet,” en daarmee haarself probeer wysmaak dat die kloof tussen hulle oorbrug kan word as Romeo net ‘n ander van as “Montague” gehad het. Want sonder die naam is hy bloot net perfeksie, sê die domme meisiekind, en geen vyand van die Capulets nie. So asof ‘n mens ‘n roos ‘n lelie kan noem en dan dink jy het van die dorings ontslae geraak.

My kennismaking met linguistiek as studieveld was in Februarie 1982 aan die destydse Universiteit van die Oranje Vrystaat, toe ek in die heel eerste lesing geleer het by taal is die verhouding tussen vorm en inhoud arbitrêr. Dit is ‘n baie ingewikkelde manier om te sê dat ons (of ons voorouers dan) lukraak gekies het watter name ons vir watter dinge wil gee. Op dieselfde manier as wat padgebruikers afgespreek het dat ‘n rooi verkeerslig beteken jy moet stop (wel, op enige ander plek as in Pretoria, in ieder geval), het taalgebruikers op ‘n kol besluit die ding met takke en wortels se naam is “boom”, ‘n snorkende, pienk plaasbewoner se naam is “vark” en die plek waar jy pakkies gaan ingee wat jy nooit weer wil sien nie, is “poskantoor”.

Op dieselfde manier as wat rooi geen inherente betekenis van “stop” het nie (as dit die geval was, was daai frilletjiesnagklere wat jy op Valentynsdag koop nie rooi nie), is daar niks aan “vark” wat inherent na die dier verwys nie. Dis bloot ‘n versameling spraakklanke wat sigbaar deur letters voorgestel word waaraan ons betekenis toegedig het. (Afrikaans het natuurlik so ‘n bietjie verneuk, want ons het nie ons verbintenisse uit niks gaan skep nie; ons taalgoed is meestal geërf, geleen of gesteel. Dit kan dalk lyk asof ons minder arbitrêr te werk gegaan het, maar die beginsel bly dieselfde: Geen inherente verbintenis tussen vorm en inhoud nie.)

Naamgewing vir dinge lyk dus na ‘n maklike proses. Jy skep ‘n ding, jy skommel ‘n paar klanke tot dit goed klink, besluit hoe jy dit wil spel, en siedaar, nuwe woord, kompleet met spelling, betekenis en ‘n definisie wat in die woordeboek opgeneem kan word. Stof hande af, sit agteroor, drink wyn.

Toe nou nie. Vertalers, veral, het meer lewenswysheid as arme Juliet, en hulle weet maar alte goed jy gaan jou vingers getik kry as jy onnoukeurig met woorde omgaan. Want die verbintenis mag oorspronklik arbitrêr gewees het, maar dit raak later ook vas, en saam met dié vastigheid kom die konnotasie en emotiewe lading en suggestie en insluiting en sinjalering en allerhande ander goed wat vlotsprekers begryp al is dit nie altyd maklik om dit in ‘n woordeboekdefinisie in te skryf nie. Dit mag dalk vir leke onbenullig lyk, maar mense wat weet, weet byvoorbeeld daar is ‘n verskil tussen “koesisters” en “koeksisters”, tussen “doughnuts” en “bollas”, tussen “varklies” en “varkpens”, en tussen “melktert” en “Kaapse melktert”. (As jy wil melktert eet, moet jy die tannie opspoor wat in die tagtigs vir Welkom se tuisnywerheid gebak het; daai Kaapse ding is ‘n soet omelet.)

So kuier ek op ‘n kol by Amerikaanse vriende en ek moet ‘n nagereg saamneem. Die Suid-Afrikaansste nagereg wat ek kan maak, sê hulle, en ek maak ‘n melktert. Nou nie die tannie van Welkom s’n nie, maar dis my ouma se resep en baie naby aan smelt-in-die-mond. Met die randjie gekartel en die kaneel deur ‘n doilie gestrooi. Melktert, behoorlik opgetert.

Sit die Amerikaners die aand daaraan en eet, en ek sien hulle sluk swaar. Hulle is taktvol teenoor die besoeker uit Donker Afrika, maar die kinders is net kinders en die takt ontbreek nog. “What’s this we’re eating?” vra die een. Melktert, antwoord ek. Op Afrikaans, want dis die ding se naam. A tart made of milk, is die naaste wat ek bereid is om aan ‘n vertaling te kom. “Oh,” antwoord die kind, “I was gonna say it tastes just like stale custard.” Die gasheer laat val sy koekvurkie van verleentheid en sê die custard tart sou baie lekker gewees het saam met suur kersies of miskien ‘n karamelsous. Hy wou die ding opgesous gehad het en nie opgetert nie.

Ek kyk hulle so, hierdie spul wat dink boelieballet is sport, pampoen is nagereg en oranje is ‘n haarkleur. En ek eet my regte, Suid-Afrikaanse melktert met die gekartelde randjie en die patroontjieskaneel met smaak, want saam met “melktert” kom daar ‘n Ventertjie vol herinneringe en verlang na die mense by wie ek hoort en die aarde waaruit ek kom. Hierdie ding kan jy nie ‘n “custard pie” of ‘n “milktart” noem nie. Hierdie ding is ‘n melktert, en jy moes hom op ‘n laatsomersmiddag onder ‘n moerbeiboom in ‘n agterplaas in Welkom geëet het om te verstaan hoekom dit so is.

Laat hulle hulle touchdown hou. Solank ek my melktert mag kry.

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

3 Kommentare

Skepties ·

Fantasties!! Baie mooi rubriek, dankie. Die een woord in Afrikaans wat nie in Engels vertaal kan word nie is : “gun” Om iemand iets te gun, soos vir die Amerikaners hulle boelieballet en hulle behoort ons ons melktert te “gun”. Of ken jy die Ingelse woord?

JC ·

Sjoe, hierdie is seker een van die skerpsinnigste, vermaaklikste en oulikste artikels wat ek al ooit gelees het. Welgedaan!

John ·

Die Amerikaners swymel behoorlik oor hul souserige bessie-terte; die bessies glo self gaan pluk met mandjie en sonhoed op iewers op ‘n plaas buite die stad. Vele foto’s van tannies en kinders met rooi monde en tande dien as bewyse van die outentieke daad, op heterdaad betrap. Maar terwyl almal so koer oor die souserige soet deeg van hul geliefde gebak verlang mens darem stil-stil stukke na Ma se kombuistafel en ‘n groot stuk van daai melktert wat net ‘n Boere-tannie durf bak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.