‘12 000 polisiemanne’ sal nie anargie keer

Kenners meen hoewel die president se erkenning noemenswaardig is, veel meer as net ʼn paar nuwe polisiemanne nodig is om die lendelam veiligheidskip om te draai. (Foto: SA Polisie)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede erken dat die regering die skuld moet kry vir die verpletterdende Julie-onluste en die gevolge daarvan. Om te verhoed dat dit weer gebeur, het die president onderneem om 12 000 nuwe polisiemanne op te lei en groter klem op gemeenskapspolisiëring te plaas.

Kenners meen hoewel die president se erkenning noemenswaardig is, veel meer as net ʼn paar nuwe polisiemanne nodig is om die lendelam veiligheidskip om te draai. Dit sluit in die oplos van verskeie maatskaplike kwessies wat deur armoede en ongelykheid aangevuur word.

Dr. Hennie Lochner, ʼn onafhanklike navorser en forensiese deskundige, sê vir veels te lank is die verkeerde mense in die verkeerde poste in die polisie aangestel. Hy glo ook nie dat die duisende nuwe polisiebeamptes wat nou aangestel gaan word, binnekort hond haaraf gaan maak nie.

“Wanneer gaan hulle ontplooi word? Opleiding duur ʼn jaar lank en teen daardie tyd lewer Ramaphosa weer ʼn staatsrede en kan hy dalk sê ons het gister of eergister 12 000 polisiebeamptes aangestel.

“Jy skop nie ʼn polisiebeampte agter elke bos uit nie. As jy ʼn goeie speurder wil word, sal jy ʼn goeie speurder word. Dit is ʼn roeping. En om ʼn patrollievoertuig te beman, is ʼn wetenskap en ʼn kuns. Dit is nie net iemand met ʼn rybewys in ʼn voertuig nie. Mense moet behoorlik opgelei word.”

Die duisende voornemende beamptes moet deur ʼn keuringsproses gaan en hulle agtergrond moet nagegaan word, sê Lochner. “Of gaan ons nou maar net weer vat wat kom? Jy is nog nie ʼn cowboy net omdat jy cowboy-hoed dra nie.”

Hy sê die enigste manier om die polisie om te keer, is om die regte mense aan te stel, ongeag hul velkleur, geloof, geslag of seksuele oriëntasie. “Die polisieskip is al op die rotse, hy vaar nie meer daarheen nie.

“Mense is aangestel nie om Suid-Afrikaners te beskerm nie, maar omdat hulle die regte kaart dra. Ons sal eers die regte polisiebeamptes kry om die werk te doen, wanneer die brood-en-botter-aangeleenthede bepaal wie die regering van die dag is, wanneer mense honger is en die strate invaar en bloed vloei. Niemand wil anargie aanblaas nie, maar jy moet by die wortel van die probleem kom.”

Pres. Cyril Ramaphosa kom Donderdagaand by die Kaapstadse stadsaal vir die lewering van sy staatsrede aan. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa het ook in sy staatsrede gesê indien die paneel wat die gewelddadige onluste in Julie 2021 ondersoek het, enigiets blootgelê het, was dit dat “armoede en ongelykheid die oorsaak van desperaatheid onder Suid-Afrikaners is”.

Prof. Daniel Meyer, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se Skool vir Sake en Ekonomie (CBE), sê werkloosheid en armoede bly styg en as dié skip nie omgekeer word nie, kan ʼn revolusie veral onder jong mense ontstaan. “As jy jare lank onsuksesvol werk soek, gaan jy in ʼn stadium iets anders  probeer.”

Hiermee stem dr. Johan Burger, ʼn navorser verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), saam. “Daar is in die verslag egter ook groot klem geplaas op sosio-ekonomiese probleme en ongelykhede wat ʼn teelaarde skep vir ʼn breë vlak van opstand.”

Burger sê dit is juis gevaarlik omdat mense, wanneer hulle vir lang tye verwaarloos word, in diepe armoede verkeer en spartel met die ontberings wat daarmee saamgaan, ʼn renons en gevoel van verontregting ontwikkel. “As dit toegelaat word om te lank te smeul, kan dit op twee maniere tot uitbarsting kom.

“Die eerste manier is ʼn spontane uitbarsting wat geweldige druk op enige land se veiligheidsmagte veroorsaak. Dit is egter ʼn situasie wat deur politiek veroorsaak is en wat die polisie nie kan oplos nie.

Die polisie en ander veiligheidsmagte is skerp gekritiseer vir die hantering van die oproer in Julie verlede jaar. (Foto: GCIS)

“Die tweede manier is deur uitbuiting, soos ons in KwaZulu-Natal gesien het. Dit is waar jy ʼn klein groepie aanhitsers het wat die vonk by die kruitvat plaas.”

Burger sê Ramaphosa se aankondigings oor die ekonomie en planne om struikelblokke uit die weg van ekonomiese groei en ontwikkeling te neem, word dan eindelik belangriker as verwysings na die gebreke in die veiligheidsomgewing.

“Hy het minstens erken daar is ʼn probleem, ʼn verwaarlosing en ʼn noodsaaklikheid om dit te hanteer. Ek dink stilswyend het hy ook erken daar is potensiaal vir ʼn massa-opstand, of in ander terminologie: ʼn revolusie.”

Ramaphosa het ook gesê teen 30 Junie sal ʼn aksieplan voorgelê word in reaksie op die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping en hy het steun uit die private sektor om die vaardighede te verskaf wat nodig is om ondersoek in te stel en vervolgings te doen, verwelkom. Die regering oorweeg dit ook om ʼn afsonderlike hofrol te skep om sake van korrupsie en staatskaping te hanteer.

Meyer sê tot dusver is niemand egter nog na aanleiding van enige getuienis voor die Zondo-kommissie vervolg nie.

“Hulle [die betrokkenes] is te bang vir mekaar. Daar is oral korrupsie en daarom wil hulle mekaar nie aankla nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Misky ·

Die massas in ons land het agtergekom na laasjaar se anargie, dat ons polisiemag nie opgelei en naastenby genoeg is nie. Hulle weet maar te goed en praat onder mekaar.

casper ·

Sedert Marikana het alle polisie wil om op te tree in situasies verdamp.
Deesdae is die term mos hulle “monitor” die situasie !!

SlinkseKoljander ·

Hahahahaha, wat n grap. Meeste van hulle almal het n rekord.
Grootste skelms is in die polisie!

Anel ·

Om in die polisie te kom moet jy die regte kaart hê en wie jy ken. Van die lot kan nie eens engels praat, lees of skryf nie. Hulle ken nie die wyk waar hulle werk nie en stel nie belang om dit te leer nie. Stel net belang in die geld. En hoeveel van hulle het vuurwapen bevoegdheid? Van een van die beste polisiemagte ter wêreld na een van die korupstes.

Harley Davidson ·

Die polisie in sy huidige vorm kan nie eers die misdaad bekamp nie wat nog van anargie keer nie.

Tanniepetoors ·

SAPD-kolleges tans kan nie soveel rekrute eenmalig inneem nie. Die werwing en keuring van nuwe lede is ‘n tydrowende proses. Ramaphosa verkoop alweer spookasem.

Debbie ·

Is dit nie rassisme as al die 12000 swart mense is nie? Net soos die springbok span moet half wit wees? So hoe nou?

Swerwer ·

Dood het altyd ‘n oorsaak. Ongelykheid? Mnr die President weet jy wat ongelykheid beteken? Ek kan jou sê : Dit is wat julle in hierdie land van ons toepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.