Afrikaans 90: ‘Afrikaans is te arm’

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Hanri Wondergem (radio-joernalis)

“Afrikaans is te arm”. Dit was die grootste, beste en heel mooiste kompliment wat iemand al ooit vir my gegee het. Dit was toe ’n man my wou beskryf. Ek is nie vol van myself nie en die kompliment het nie net my hartsnare geroer omdat ek smoorverlief en met vlinders in my maag na die man geluister het nie. Dit was die grootste kompliment omdat ek weet Afrikaans is nié arm nie. Inteendeel. Afrikaans is ryk, skatryk.

Dit besef ek elke dag as ek my eie stem op RSG se programme, Monitor en Spektrum hoor met die wete dat sowat ’n halfmiljoen mense daagliks na my stem luister. ’n Stem wat in suiwer Afrikaans praat – en trots is om dit te doen.

Daar sal altyd die doemprofete wees wat van mening is dat Afrikaans nie die taal is wat vir jou deure oopmaak nie. Vir hulle voel ek jammer, want hulle is verkeerd. Vir my het daar nog altyd deure en sommer vensters ook oopgegaan in my taal. Vandat ek kan onthou.

Ek wil nie hoogdrawend wees nie, en ek ken nie syfers en statistiek nie. Ek weet net wat ek voel.

Ek is geseënd met ’n ma wat haar liefde vir ons taal elke dag uitgeleef het as Afrikaanse onderwyseres. Sy gebruik woorde wat so sag op die oor val – Afrikaanse woorde. Ek onthou as kind hoe ek verwonderd geluister het hoe my ma bid. Elke gebed soos ’n gedig wat sy aan die Hemelse Vader opdra. En toe al het ek geweet, dit is net in Afrikaans wat mens so mooi kan praat of kan dig. Sy het in Afrikaans stories vertel, liedjies gesing en ’n liefde vir ’n mooi taal in my gekweek. Later, toe my hart in ’n duisend stukkies breek toe die einste man my verraai, het sy my in Afrikaans getroos.

Ek is dankbaar vir my ma om baie redes, maar veral omdat sy my trots gemaak het op Afrikaans. My geleer bid het in Afrikaans. My geleer het om te leer in Afrikaans.

Ek was gelukkig om by ’n universiteit te studeer waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word. Dit klink tog na ’n makliker uitweg om die pad in Engels te stap. Dit help nie om te ontken dat Engels die internasionale ekonomiese en besigheidstaal is nie.

In 1880 het CP Hoogenhout al gesê: “Engels! Engels! Alles Engels. Engels wat jy sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Maar is Engels die taal van jou hart? Die taal van jou siel? Die taal van jou tong?

Die enigste manier om ’n ontploffing van Afrikaans te sien gebeur, is om daarop aan te dring in ons skole, universiteite en werksplekke. In musiek, in die nuus, langs die sportveld en die belangrikste, in ons huise.

Afrikaans is nie sterwend nie. Afrikaans is springlewendig, maar nie blakend gesond as ons hom nie op ons tonge laat speel nie. Die enigste manier wat ons die gesondheid van ons taal kan verseker, is om in hom te leef. Al hoe ons nog in Afrikaans sal kan leef in die generasies wat kom, is as ons en ons kinders Afrikaans praat.

Daarmee bedoel ek nie ’n stywelip-Afrikaans met te veel reëls en woorde wat jou tong knoop en jou kop laat draai nie. Afrikaans is reeds gemoderniseer, aangepas en lipleklekker. Ons moet nou net aanhou om ons moderne taal te leef in die moderne wêreld deur dit ’n lewenswyse te maak. Elke dag en op elke plek.

Ek is die geleentheid gegun om jonk te wees in Afrikaans en my loopbaan te bou in Afrikaans – die volgende generasies verdien dieselfde. Want vir hulle, net soos vir my, is Afrikaans veel meer as net ’n taal. Afrikaans bruis deur my are en deur aan te dring op Afrikaans dring ek aan op erkenning van my menswees. Want ek sal nie ék wees as ek nie Afrikaans ken nie.

Breyten Breytenbach het gesê: “Ons taal is ’n grys reserwis van meer dan honderd jaar met die vingers styf om die snellers.”

Ek sê: “Laat ons skiet met Afrikaanse woorde in ons taal wat ons toelaat om enige iets te wees.”

Hoekom Afrikaans? want ons kan en ons wil juig in ons eie taal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Hanri jy kan met reg trots wees op jou ma! Ek het saam met haar skoolgehou, en soos jy haar hierbo beskryf, was sy nog altyd, selfs voor haar troue en dus voor jou geboorte. ‘n Ware dame met die mees stylvolle Afrikaans onder alle omstandighede! Wonderlik dat sy daardie liefde ook aan julle as kinders oorgedra het. Jy is ‘n ster!

Willem de Klerk ·

Pragtig gestel Hanri ons het meer mense soos jy nodig. Sal nou nog lekkerder na jou luister.
Mooiloop.
Willem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.