Afrikaans 90: Hoekom Afrikaans in die digitale era?

afrikaans 90

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Gerhard B van Huyssteen (NWU)

In die era van globalisering maak die Internet jou sitkamer die grootste winkel in die wêreld, is jou klaskamer so beperk soos die bandwydte op jou selfoon en bly jou beste vriende in Alaska of Australië. In die era van globalisering is Engels die Internettaal waarin jy sake doen, inligting soek en met vriende klets. Die vraag is dus: Hoekom Afrikaans in die digitale era?

Want Afrikaans leef in die Internetwêreld!

Internasionaal stel groot maatskappye soos Microsoft en Google belang in Afrikaans. Microsoft het Windows en Office in Afrikaans laat vertaal en versprei ’n Afrikaanse speltoetser (wat plaaslik ontwikkel is) saam met die Office-pakket. By Google was Afrikaans een van die eerste 50 tale wat geprioriseer is vir masjienvertaling. Gaan byvoorbeeld na translate.google.com en tik “Hoekom Afrikaans in die digitale era?” en sien hoe dit dadelik vertaal word in Engels, Spaans, Duits of Punjabi. Of gebruik Google se Afrikaanse stemsoekfunksie, wat met behulp van navorsers by die WNNR en die Noordwes-Universiteit ontwikkel is. Stel jou Android-slimfoon se stemsoektaal na Afrikaans en praat voortaan Afrikaans met jou telefoon.

Plaaslik het die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) al verskeie tegnologieë spesifiek vir Afrikaans ontwikkel, soos ’n grammatikatoetser, ’n woordafbreker en ’n masjienvertaalsisteem. By die WNNR het hulle onder andere al ’n rekenaarstem vir Afrikaans ontwikkel wat gebruik kan word om boeke en tydskrifte aan swaksiendes voor te lees. Daar word tans aan baie ander soortgelyke tegnologieë vir Afrikaans gewerk – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal.

Want Afrikaans maak ander wêrelde oop!

Deurdat Afrikaans en Nederlands onderling verstaanbaar is, kry jy as Afrikaanssprekende toegang tot ’n wêreld wat selfs groter is as Engels. Volgens www.worldwidewebsize.com is daar meer as 330 miljoen geïndekseerde Nederlandse webblaaie, wat beteken dat Nederlands ongeveer 17% van die Internet beslaan. Met meer as 15 miljoen Internetgebruikers, bied die Nederlandse taalgebied dus ook opwindende markgeleenthede. So byvoorbeeld het die e-handelnywerheid in 2013 met 8,5% tot meer as €10.6 biljoen gegroei.

Nederlands is ook die derde grootste taal op Wikipedia, met byna 2 miljoen inskrywings (teenoor Afrikaans se 30 000 inskrywings). Ook op Wiktionary is Nederlands een van die grootste tale, met meer as 400 000 woorde wat omskryf word (teenoor Afrikaans wat amper 16 000 woorde het). Dit beteken dat jy met Afrikaans toegang kan kry tot groot bronne kennis wat in Nederlands beskikbaar is.

Boonop is daar lewendige samewerking tussen Nederland, België en Suid-Afrika om tegnologie te ontwikkel. Die Nasionale Navorsingstigting (“NRF” in Engels) maak geld beskikbaar om navorsingsprojekte tussen Suid-Afrika en België aan te moedig, terwyl die Suid-Afrikaanse Departement Kuns en Kultuur en die Nederlandse Taalunie saam geld gee vir die ontwikkeling van taaltegnologie vir Suid-Afrikaanse tale en Nederlands. Hierdie voorbeelde is maar net twee van velerlei ander inisiatiewe wat Afrikaans bemagtig om saam met Nederlands te gesels.

Want Afrikaans groei in die digitale era!

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het besef dat dit belangrik is om Afrikaans in die digitale era te laat groei. Hulle het daarom besluit om met ’n multimiljoenrandprojek te begin om ’n virtuele instituut vir Afrikaans (VivA) daar te stel. VivA sal daarvoor sorg dat Afrikaans gereed is vir die uitdagings van die toekoms deur ’n aantal projekte. Een hiervan is die ontwikkeling van ’n Afrikaanse app wat mense in staat sal stel om vrae oor Afrikaans en oor hoe om Afrikaans te skryf te beantwoord. ’n Ander projek sal daarop fokus om nuwe terme en woorde in Afrikaans te skep, sodat ons ook kan praat oor die jongste ontwikkelinge in die kernwetenskap, neurochirurgie en nanowetenskap.

Hoekom Afrikaans in die digitale era? Want Afrikaans is lewendig en opwindend en skep vir JOU ’n toekoms!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.