Boek: Die skoenlapperleeu

Die-skoenlapperleeu-voorblad.jpgMichael Morpurgo

“Ek sal my lewe lank aan jou dink, ek belowe ek sal. Ek sal jou nooit vergeet nie.”

Bertie red ’n wit leeuwelpie uit die veld in Afrika. Hulle is onafskeidbaar, maar dan word Bertie ver weg na ’n kosskool in Engeland gestuur en die leeu word aan ’n sirkus verkoop. Bertie sweer hulle sal mekaar eendag weer sien, maar die skoenlapperleeu maak seker dat hulle vriendskap nooit vergeet sal word nie.

Die skoenlapperleeu is uniek onder diere en boeke en sal almal se harte raak – jonk sowel as oud.” Virginia McKenna, Born Free-stigting

Die boek is deur Christian Birmingham geïllustreer en vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Oor die outeur

Michael Morpurgo (1943) is ’n Britse skrywer, digter, dramaturg en librettis, wat welbekend is vir sy kinderboeke. Hy was die derde outeur om die eretitel van “Children’s Laureate” in die Verenigde Koninkryk te ontvang – hierdie bekroning vind elke twee jaar plaas, en word toegeken aan ’n gedistingeerde skrywer of illustreerder van kinderboeke. Die internasionale topverkoper, teatersensasie en film, War Horse, het in 2011 by Protea verskyn as Krygsperd. Why the Whales Came is ook in 2015 in Afrikaans uitgegee as Hoekom die walvisse gekom het.

Oor die illustreerder

Christian Birmingham is ’n talentvolle jong kunstenaar. Hy het in 1991 by die Exeter College of Art and Design gegradueer en sedertdien verskeie kinderboeke soos The Magical Bicycle geïllustreer.

Oor die vertaler

Kobus Geldenhuys is bekend vir sy kinderboekvertalings van outeurs soos J.K. Rowling en Roald Dahl en het onlangs die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans gewen vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem; Hoe om Drakonees te praat. Hy het ook ’n Artes-toekenning ontvang en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK Oorklanking. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R130.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.