Boek: Ester

ester

Kerneels Breytenbach

’n Meesleurende roman oor ’n verbode passie en ’n politieke intrige. Dis gebaseer op ’n werklike historiese insident, en die gevolge daarvan: Die ontmoeting in 1940 tussen Dr DF Malan en ’n Duitse spioen, mev Thyra Denk.

Nou, in 1946, kry Dieter Bergman, ’n senior polisieman, instruksies om mev Denk per trein van Windhoek na Kaapstad te vergesel, waar sy voor ’n Gekose Komitee van die Parlement moet getuig. As daar bewys kan word dat Malan met die Nazi’s meegewerk het tydens die Tweede Wêreldoorlog, kan hy van hoogverraad aangekla word en sal dit die einde van sy politieke loopbaan beteken.

Tydens die lang reis per trein ontstaan daar ‘n verhouding tussen Bergman en die beeldskone spioen. Op die trein is egter ook ene adv Doerkstra. Sy missie: hy moet die spioen in die geheim te sien kry en haar oorrreed om nie met haar getuienis Malan se loopbaan te vernietig nie…

Oor die outeur:
Cornelius (Kerneels) Tobias Breytenbach is op 13 April 1952 in Johannesburg gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Alberton. Hy behaal ’n MA-graad in Afrikaans en Nederlands in 1975 aan die Universiteit van Stellenbosch. Kerneels werk daarna as joernalis by onder andere Beeld en later as kunsredakteur van Die Burger. Hy was ook ’n popmusiek-rubriekskrywer en het restaurantresensies vir publikasies soos Huisgenoot, De Kat en Insig geskryf. Hy het daarna lank as uitgewer by Human & Rousseau gewerk en met sy aftrede in 2009 was hy publikasiebestuur by NB-uitgewers.
Kerneels debuteer in 1992 met Morsdood van die honger, ’n bundel kortverhale, en volg dit in 1993 op met die roman Glimlag. Hy ontvang die CNA-debuutprys vir Morsdood van die honger. ’n Resepteboek, Die lekkerste lekker, het in 2005 verskyn en Die ding tussen man en vrou in 2009.
Hy woon op Bettysbaai.

Uitgewer: Human & Rouseau
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.