Boek: Lothar Neethling – ‘n Lewe vertel

Nuwe Lothar buite

Annette Jordaan

Hoe skryf ‘n mens met eerlikheid oor jou omstrede broer, wat eintlik geen bloedfamilie van jou was nie?

In hierdie biografie vertel die Pretoriase akademikus en skrywer Annette Jordaan die storie van haar ouboet Lothar Neethling, wat voor haar geboorte deur haar ouers aangeneem is.

Lothar Neethling – ‘n lewe vertel is die storie van die polisie se slim en gewilde forensiese deskundige wat sy naam verdedig teen bewerings dat hy middels voorsien het om mense aan die slaap te maak of te vermoor. Hy wen uiteindelik die saak oor “die ergste naamskending denkbaar”, maar sy openbare beeld kry ‘n skadu, en vrae en persepsies bly tot ná sy dood spook, met pynlike gevolge vir sy naasbestaades.

Die storie begin in die oorlogsgeteisterde Duitsland, toe Paul Tietz geveg het, en sy vrou Hedwig en haar kinders voor die Russiese leers uit moes vlug. Lothar was die oudste, en het die dood van twee boeties en twee sussies beleef. Die jongste boetie is deur die 10-jarige Lothar en sy 8-jarige broer “in kardoespapier toegedraai” en in ‘n woud begrawe.

Lothar Tietz se storie is een van pyn, angs, honger en verantwoordelikheid. As die oudste moes hy vir die voortvlugtende gesin kos vind. Uiteindelik is albei ouers dood, en op 11 September 1948 begin ‘n nuwe lewe vir die 13-jarige seun en sy oorlewende broer en suster, toe hulle saam met 80 ander Duitse weeskinders in Suid-Afrika aankom. Lothar is deur ‘n vurige Afrikaner-Nasionalis en sy vrou aangeneem. Hy het agterstande gou ingehaal, vinnig gepresteer en op 32-jarige ouderdom reeds twee doktorsgrade in die wetenskap behaal. Hy word ook hoof van die polisie se forensiese laboratorium wat tot een van die bestes ter wêreld ontwikkel – maar waar gif ook glo vervaardig is.

Hierdie is geen hagiografie óf verdoemende, sensasionele publikasie nie. Annette Jordaan, wat jare later eers uitgevind het dat Lothar nie haar biologiese broer is nie, handhaaf ‘n dapper, beskeie en sobere afstand van haar hoofkarakter. Sy laat die getuienis uit sy lewe self vír of téén Lothar Neethling praat.

Uiteindelik, sê prof. Marinus Wiechers, is dit méér as ‘n biografie. Dis ‘n unieke, tragiese verhaal, met al die elemente van ‘n goeie familieroman – iets wat selde in Afrikaans voorkom. Die bekende biograaf J.C. Steyn noem dit “’n interessante en belangwekkende boek, ‘n boeiende verhaal en ‘n menslike storie”.

Die boek verbind twee vastelande en dokumenteer ook ‘n onstuimige tyd in die onlangse Suid-Afrikaanse verlede.
Lothar Neethling het by geleentheid versoek dat die groep waarvan hy deel was, nie meer weeskinders genoem moes word nie. “Noem ons liewers die 1948-setlaars”.

Navorsers sal die volledige naamlys van al 83 Duitse “setlaars”, met hul ouderdomme tydens aankoms, oorspronklike vanne en aanneemvanne, belangrik en bruikbaar vind.

Hierdie inligtingstuk is opgestel deur Theresa Papenfus van Litera Publikasies.

Uitgewers: Litera Publikasies
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Die boek is beskikbaar by alle goeie boekhandelaars. Bestellings kan geplaas word by On the Dot. Stuur ‘n e-pos na [email protected], skakel 021 918 8810 of stuur ‘n faks na 021 918 8815.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.