Boek: Solitaire

Solitaire.jpgVita du Preez

Wanneer Donna de Villiers en haar man Divan skei, moet hulle die suksesvolle juweliersonderneming en die huis in Tamboerskloof verkoop sodat hulle bates verdeel kan word. Haar selfbeeld is aan skerwe weens Divan se verraad. Die eens suksesvolle juwelier, wat pryse vir haar werk losgeslaan het, se skeppingsdrang is daarmee heen.

Sy wil wegkom uit die kringe waarin sy en Divan beweeg het, waar almal nou oor haar vernederende egskeiding skinder. Donna swerf van kusdorp na kusdorp waar sy ontvlugting op haar branderplank en in die arms van surfers vind. Wanneer sy na amper ’n jaar die allerlaagste punt bereik, besef Donna sy is op ’n pad van selfvernietiging.

Sy moet weer van voor af begin en aanvaar ’n opdrag om ’n replika van ’n antieke hangertjie te maak. Dit neem haar na Minnaarshof, ’n spogplaas in die Riebeekvallei. Hier ontmoet sy vir Toit Minnaar.

Toit treur al meer as ’n jaar oor sy vrou se dood en hy neem ’n wilsbesluit om weer sy lewe op koers te kry. Hy aanvaar ’n uitdaging om deel te neem aan ’n realiteitstelevisiereeks, Boer soek ’n vrou. Wanneer die drie dames op die plaas kom kuier saam met die TV-span, begin die poppe dans. Daar is wedywering en katgevegte en Toit begin al hoe meer aangetrokke voel tot Donna.

Donna doen egter haar bes om gevoelens, wat Toit in haar wakker maak, te onderdruk. Sy wil weer haar loopbaan op dreef kry én terugkry wat ’n man by haar gesteel het.

Die outeur:

Vita du Preez se eerste romanse, As sterre blom, het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen verskyn. ’n Persoonlike gunsteling was Skuiling van die hart, ’n historiese roman, wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-Liefdesromantoekenning in 2005.

Ná sy in 2002 Kaap toe verhuis, het sy tien jaar lank meer as sestig Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels vertaal. In 2013 was sy reg vir ’n nuwe uitdaging en Waar die son omdraai is die resultaat.

Uitgewer: LAPA-Uitgewers
Prys: R199,99*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.