E-tolstelsel, protesaksies en siviele-sake – Outa se Duvenage praat oor boek

Wayne-Duvenage-e-Toll-saga

Wayne Duvenage het sy boek oor die e-tolstelsel onlangs in Pretoria bekendgestel. Foto: Twitter.

Esté Meyer Jansen

Inwoners van die noordelike voorstede van Pretoria wat nog altyd gevoel het dit is onregverdig dat hulle ongeveer R360 per maand moet betaal om by die N1-snelweg aan te sluit, het beslis ʼn punt beet meen Wayne Duvenage, die voorsitter van die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa).

Volgens Duvenage kan hierdie soort tolhekstelsel egter die voorland vir Kaapstad se op- en afritte wees omdat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) sien hoeveel teenstand die e-tolstelsel tans steeds in Gauteng het.

“Sanral gaan eenvoudig tolhekstelsels inbring by op- en afritte wat verkeersopeenhopings gaan veroorsaak. Daar sal een of twee bane vir e-skyfies wees en motoriste gaan na dié leë bane kyk en die keuse moet maak of hulle daagliks betyds vir werk wil wees. Die versoeking gaan al groter word om ʼn e-skyfie aan te skaf,” het hy gesê.

Duvenage het verder gesê die tolhekstelsel by Stormvoëlweg en Sefako Makgathorylaan (voorheen Zambesi) is onregverdig maar dit sal moeilik wees om die stelsel nou te beveg omdat dit al so lank van krag is. “Tog weet ek as daar vir ʼn tyd lank daagliks 800 mense by die hekke betoog, sal die regering regop sit en luister.”

Duvenage het Donderdag sy boek, The eToll Saga – A Journey from CEO to Civil Activist, wat hy saam met die joernalis Angelique Serrao geskryf het, by Exclusive Books in Brooklyn Mall, Pretoria, bekendgestel. Hy het met Alex Eliseev, skrywer, joernalis en omroeper by 702 Talk Radio, oor sy boek gesels.

Op ʼn vraag uit die gehoor oor wat Suid-Afrikaners dan te doen staan om verkeersopeenhopings op die land se stedelike paaie te voorkom, het Duvenage gesê die antwoord bly eenvoudig; ʼn betroubare en veilige openbare vervoerstelsel. “Kyk ek sou die eerste persoon wees wat ʼn e-skyfie aanskaf as die regering en Sanral besluit het om elke sent van die e-tolstelsel in Gauteng aan te wend om die infrastruktuur vir so ʼn openbare vervoerstelsel op te bou. Ek wil my verstout om te sê mense sou bereid gewees het om te betaal vir so ʼn stelsel al het hulle nie ʼn enkele ekstra baan by die snelweë gevoeg nie, mits die nuwe openbare vervoer betroubaar en veilig sou wees, daar vooraf konsultasie met die provinsie se mense was en hulle steun vir die stelsel gekry is en die tolstelsel se tariewe beperk was.”

Sê nou maar net

Hy het ʼn paar “sê nou maar”- scenario’s met Eliseev bespreek en gesê as Sanral in enige stadium bereid was om die koste van Outa se hofsake, wat die burgerregte-organisasie verloor het, te dra, sou Outa in die moeilikheid gewees het. “Sanral se beeld sou in die oë van die publiek verander het na ʼn redelike organisasie, wat tegemoetkomend is, en wat ons werk beslis sou belemmer het.”

Op nog ʼn vraag oor wat Gautengse motoriste tans te doen staan rondom e-skyfies en die e-tolstelsel het Duvenage gesê: “Outa is steeds bereid om die eerste motoris se regskostes te dra wat voor die hof gedaag word omdat hulle hul lisensies kwyt is as gevolg van agterstallige tolgeld.” Duvenage meen dat die regulasies egter nog nie in die wet ingeskryf is nie en dat dit in fases geïmplementeer word wat tussen ʼn jaar en 18 maande kan neem.

In die tussentyd slyp dié burgerregte-organisasie sy tande vir nog ʼn paar siviele sake. “Buiten dat ons die onregverdige e-tolstelsel in Gauteng, Kaapstad en KwaZulu-Natal moet beveg, is daar nog stelsels en tenders wat vrot van korrupsie is. Kyk maar na Medupi wat miljoene rande oor begroting is en hou die beplande kernkragstasies dop en dan moet daar ook nog ondersoeke oor die belasting op plastiekesakke van stapel gestuur word. As ʼn mens so daarna kyk is die e-tolstelsel eintlik die maklikste stryd om te voer,” het Duvenage gesê.

“Die landsburgers moet opstaan vir hulle eie regte. Mense kan nie meer wag vir politici om vir hulle te veg nie, politici speel ʼn vyfjaar-speletjie en is nie ingestel op die langtermyn nie,” het Duvenage gesê. Volgens hom is die optog teen korrupsie wat op 19 Augustus plaasvind juis ʼn geleentheid waar Suid-Afrikaners hulle stemme vir hul regte kan dikmaak. “Die regering luister ongelukkig net wanneer daar protesaksies gehou word, want dan begin beleggers en adviseurs vrae vra. Ongelukkig sal ons Suid-Afrika se proteskultuur wat baie gewelddadig is moet verander, maar as ʼn 100 000 mense opdaag vir hierdie optog, sal die regering nie anders kan as om kennis te neem nie.”

  • Lesers wat op die hoogte wil bly van Outa se werksaamhede kan hulle webwerf by outa.co.za besoek. Duvenage se boek, The eToll Saga – A Journey from CEO to Civil Activist, word deur PanMacmillian uitgegee en kan by die uitgewers bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter V. ·

Hier in Limpopo, die tol pad van Pietersburg na Louis Trichardt is daar nie `n nuwe pad gebou nie ,die ou pad is so bietjie oor geteer en word as die tol pad gebruik ,ook is daar geen alternatiewe pad nie,en baie plekke geen omheining om vee van die pad tehou nie,baie plekke loop die pad deur bewoonde gebiede ook met geen omheinings of brugge vir voet gangers.
Vir lang distansies is daar spoed beperkings van 60 kpu en moet ons agter groot voertuie wat op pad na Zimbabwe en ander Afrika lande is.
Nou wil ek net weet mag Sanral `n bestaande pad op gradeer en as tolpad konfiskeer sonder `n alternatiewe pad ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.