Die 2015-wenners van LAPA se Jeugromankompetisie is vandag bekend gemaak en lesers kan uitsien na drie splinternuwe jeugromans wat eersdaags verskyn.
Jan Vermeulen is aangewys as die wenner met sy verhaal Abbakind. Dit vertel die storie van ʼn seun wat by sy vervreemde pa in die Oos-Kaap moet gaan bly ná ’n ongeluk waarin hy en sy vriende onder die invloed van drank en dwelms ’n verkeerskonstabel omry.
Die verhaal is deur die beoordelaars beskryf as ʼn aangrypende, eerlike grootwordverhaal oor verslawing en tweede kanse.
Jan is nie ʼn vreemdeling in die Afrikaanse jeugliteratuur nie en sy jeugboek Geraamtes dra nie klere nie het in 2000 weggestap met onder meer die Sanlamprys (goud) en die M.E.R.-prys.
In die tweede plek is die gewilde jeugboekskrywer Fanie Viljoen met Afkop, ’n aweregse, doller-as-kop-af spanningsverhaal oor Trent, ’n tienerseun, wat ná ’n rowwe partytjienag en ’n wilde jaagtog met ’n sak vol geld by die huis aankom. Dinge loop in regte Tarantino-styl skeef en die leser moet behoorlik aan sy sitplek vasklou om by te bly met al die naelbyt-aksie. Viljoen was in 2010 ook ’n naaswenner in hierdie kompetisie met sy jeugroman Betower.
Marita van der Vyver, die internasionaal gerekende topverkoperskrywer het die derde plek ingeneem met Al wat nodig is, ’n eg Suid-Afrikaanse storie oor ’n sukkelende pa-en-seun-verhouding en die reddende krag van woorde. Van der Vyver skryf oortuigend en boeiend oor die wêreld van “performance poetry” en die hoofkarakter, Gabriel, se pogings om ná sy ma se dood sin te maak van die wilde draaie wat die lewe partykeer met ’n mens gooi.
LAPA se Jeugromankompetisie is vanjaar vir die tweede keer aangebied en het 74 inskrywings ontvang. Die wenner stap weg met R25 000, terwyl die tweede en derde plek onderskeidelik R15 000 en R10 000 ontvang. Die drie wenverhale word ook deur LAPA gepubliseer.
Maroela Media het met twee van die wenners, Jan Vermeulen en Fanie Viljoen gesels.
Jan Vermeulen is ons predikant. Hy is n baie nederige persoon en baie lief vir die Here. Ons kan nie genoeg dankie sê vir so n predikant nie. Ons is so trots op op. Hy is regtig n man vele talente.
Baie geluk Jan en mag daar na baie boeke wees☺
Goed gedoen aan al die wenners.