[Uittreksel] Boek: Die ontwaking

die ontwakingHier volg ‘n uittreksel uit Chris Karsten se boek, Die ontwaking (Human & Rousseau). Die boek is beskikbaar as ‘n e-boek of by Graffiti Books en word ook as ‘n rolprent vrygestel in Februarie 2016.

Hoofstuk 1

In die spieël, klaar geskeer, sy vel tintelend, betrag Abel sy gesig. Die haatlike gelaatstrekke, onvoltooide knoeiwerk van ʼn lomp beeldhouer. Dan die beeltenis van ʼn hand, die een wat die skeermes vashou, en soms die skalpel. En strelende oor die voorkop, die wange en ken, oor die brug van die plat neus, ontsluit die aanraking van die vingers aan sy vel die gekoggel en verstoting.

Hy leun vooroor. Is dit ʼn druppel water wat daar in die binnehoek van die lui oog uitglip? In die spieël dep die kussing van ʼn voorvinger die druppel en bring dit na die punt van die tong. Souterig. ʼn Traan, dink hy gelate. Hy het grootgeword met versmading en wantroue in die wêreld, ʼn traan is gepas.

Net sy moeder kon hy vertrou. Van kleintyd af het sy hom aangemoedig om sy troos in isolasie te gaan soek. En by haar. By haar is hy homself, by haar hoef hy hom nie in die hoeke en skadu’s teen die aanblik van mense te verskans nie, hoef hy nie ʼn masker van meelewing te probeer dra nie.

Nou ʼn trekking aan die mondhoeke, net ʼn grimas. Abel glimlag selde. Maar oor ʼn maand is sy verjaardag. En hy gaan homself bederf met ʼn besondere geskenk: ʼn nuwe gesig.

Dit is nie ʼn impulsiewe besluit nie, hy het lank daaroor getob.

Hy staan voor die spieël en voel hoe die opwinding diep in hom roer en opwel. Dit begin met ʼn trilling in sy bene asof hy in ʼn atmosfeer van gewigloosheid wil sweef.

En ʼn aanvallige gesig. Vir ʼn spesiale okkasie, ʼn spesiale gemoedstemming, wil hy ʼn mooi gesig voorsit.

Maar natuurlik, dink hy met ʼn wispelturige knip van sy lui oog, hy sal eers sy moeder se mening gaan vra. Soos die gebruik in alle groot besluite, is háár seën nodig. Tog het hy geen sweem van twyfel nie. Sy moeder sal begryp, sy sal sy behoefte verstaan aan ʼn opwindende tussenspel met ʼn nuwe gelaat.

Nie noodwendig die gesig van ʼn man nie, verkieslik nié. Eerder die fyn gelaatstrekke van ʼn jong vrou, peins hy voor die spieël. Die dogter waarna sy moeder so gesmag het.

Ja, dink Abel nou geesdriftig en effe duiselig, vir sy nuwe voorkoms wil hy die perfekte gelaat van ʼn jong vrou hê, delikaat en nog onbedorwe; ʼn teder vel van saggelooide maagdeperkament wanneer hy haar gesig oor syne aantrek.

Lees meer oor die boek.
Besoek die fliek se Facebook-blad

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R240-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop Chris Karsten se “Die ontwaking” by Graffiti Books
(Ook beskikbaar as ‘n e-boek)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.