Uitdrukking: Iets op sy elf-en-dertigste doen

Argieffoto

Argieffoto

Uitdrukking:
Iets op sy elf-en-dertigste doen

Betekenis:
Iets baie stadig maar ook baie deeglik en netjies doen

Waar kom dit vandaan?
Sedert die 18de eeu is gemeen dat hierdie uitdrukking verwys het na die langsame wyse waarop die State van Friesland, bestaande uit die afgevaardigdes van elf stede en 30 regsgebiede, beraadslaag.

In die 17de eeu het dit beteken “soos dit hoort, netjies, in orde bring”. Aangesien die verdeling van Friesland in 30 regsgebiede eers aan die begin van die 16de eeu geskied het, is dit onwaarskynlik dat in die Hollandse spreektaal die uitdrukking gebruik sou kon gewees het in verband met dié gebeure in Friesland.

‘n Mens kan kwalik argumenteer dat die Hollanders so bewus was van die manier waarop die Friese state hulle besigheid voltrek het, dat hulle ‘n spreekwoord daarvan sou maak. Buitendien het die Friese state hulle werk nie juis so langsaam as volmaak in orde verrig nie. Daar moet dus na ‘n ander oorsprong gesoek word, en die bronne is dit eens dat die uitdrukking aan die weefkuns ontleen is.

‘n Gang is naamlik ‘n gedeelte van die ketting of kam. In Suid-Nederland beteken ‘n elf en dertig ‘n kam waardeur 4 100 drade of 41 gange geskuif kan word. So ‘n kam is een van die fynste denkbaar en die materiaal, soos linne, wat daarop geweef word, is ook van die fynste. Hieruit het die betekenis “netjies, keurig” ontstaan – maar ook “langsaam” want hierdie fyn materiaal kon nie anders as langsaam geweef word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries van Vuuren ·

Interessant. In die omgewing waar ek groot geword het (Suidwes-Afrika van die 40’s tot die 60’s) was die uitdrukking gebruik om aan te dui dat iets op die nippertjie gedoen is, met ander woorde dat dit klaar was net voordat die tyd verstryk het.

Sune van Heerden ·

Dagsê Andries

Dink jy dalk aan die uitdrukking om iets “ter elfder ure” te doen? Dit beteken om iets op die nippertjie te doen, voordat dit te laat is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.