Burger, De Zorzi kry KSA-kontrakte

Nandre Burger vier KL Rahul se paaltjie. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Krieket Suid-Afrika (KSA) het Nandre Burger en Tony de Zorzi met nasionale kontrakte vir die 2024-’25-seisoen beloon.

Die 28-jarige Burger het sy internasionale buiging teen Indië gemaak en hy het dadelik sy stempel met sy vaart en aggressiewe boulwerk afgedruk.

Die linkshandige snelbouler het reeds 14 paaltjies in sy twee rooibalkrieketwedstryde geneem en hy het veral in die Centurion-toets teen die besoekende Indiërs uitgeblink toe hy sewe paaltjies in die kragmeting laat kantel het.

Dan het De Zorzi as topordekolwer beïndruk en hy het veral in die eendagreeks teen Indië gereeld die bal na die grenstou gestuur.

In Dean Elgar se afwesigheid kan hy ʼn goeie aanvangsmaat vir Aiden Markram in toetskrieket wees.

Quinton de Kock is egter een van die groot name wat uit die groep van 18 gekontrakteerde spelers gelaat is. Die 31-jarige paaltjiewagter het in September 2023 aangekondig dat hy klaar is met internasionale eendagkrieket nadat hy ook in 2021 sy toetskrieketkolf weggebêre het.

Hy is nog beskikbaar vir Suid-Afrika in die T20-formaat.

Cricinfo het berig dat sy Big Bash League-pligte met sy Protea-verantwoordelikhede sou bots, maar in sy laaste Wêreldbeker-toernooi het hy 594 lopies teen ʼn gemiddeld van 59,40 en ʼn treftempo van 107,02 gemoker, terwyl hy ook vier honderdtalle aangeteken het.

Agter die paaltjies het hy 20 kolwers uitgevang of gestonk, terwyl hy teen Afghanistan ses vangskote benut het.

De Kock het daarna in die Aussies se mik-en-mokerreeks gesukkel, terwyl hy ook nie op alle suiers in die SA20-toernooi gevuur het nie.

Hy speel tans vir die Lucknow Super Giants in die Indiese Premierliga.

Daar is ook g’n teken van Anrich Nortjé en David Bedingham in die uitgelese groep nie.

Spelers met KSA-kontrakte vir 2024-’25: Temba Bavuma, Nandre Burger,  Gerald Coetzee, Tony de Zorzi, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Marco Jansen, Heinrich Klaasen, Keshav Maharaj, Aiden Markram, David Miller, Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Tristan Stubbs en Rassie van der Dussen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.