Suné en haar terapiehondjies help harte heel

Sune behaal haar graad saam met Morkie. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Suné Scholtz, ʼn opvoedkundige sielkundige, het haar meestersgraadstudie oor diereterapie in opvoedkundige sielkunde gedoen en haar doktorsgraad in 2021 behaal. Sy is een van min mense in Suid-Afrika wat in die veld van diere-ondersteunende terapie werk. Haar liefde vir diere en kinders word gekombineer met haar geliefde hondjies en mede-terapeute, Morkie en Mzansi, om ʼn wêreld se verskil in kinders se lewens maak.

Suné is in Johannesburg gebore en het haar skoolopleiding by Leeuwenhof Akademie voltooi. Haar ouers het ʼn sakeonderneming in Johannesburg, asook ʼn plaas tussen Keimoes en Kakamas. “Die plaaslewe het my blootgestel aan die natuur en my ouers het altyd stories aan diertjies gekoppel asof hulle karakters was en so is my en my sussie se verbeelding geprikkel. Ek gebruik dit op ʼn daaglikse basis en koppel menslike eienskappe aan Mzansi.”

Suné wou nog altyd kinders help en met hulle werk in terme van probleemoplossing. Suné het grondslagfase-onderwys in Potchefstroom studeer. Daarna het sy aansoek gedoen vir haar honeurs in opvoedkundige sielkunde en keuring gekry by die Universiteit van Pretoria. Hier het sy ook haar meestersgraad voltooi. “My meestersgraadstudie was oor diereterapie in opvoedkundige sielkunde. Ek het my doktorsgraad in 2021 voltooi en die titel was: “An auto-ethnography of a therapy dog’s role in establishing a therapeutic bond”. Die fokus was op die rol wat my terapiehond gespeel het in die bou van ʼn verhouding tussen kinders en myself in speelterapie. Ek het bevind dat ʼn terapiehond wel ʼn speelterapeut kan ondersteun deur ʼn omgewing te skep waar ʼn kind gemaklik en onvoorwaarlik aanvaar voel. Ek het gevind dat ʼn terapiehond die funksies van ʼn bindingsfiguur (attachment figure) kan vervul, as die terapeut deur die hond werk.”

Suné het haar PhD gedoen omdat sy mal is oor haar werk en baie passievol is daaroor. “Ek glo regtig dat om saam met ʼn hond in terapie te werk het al soveel lewens verander en ek het eerstehands ervaar en gesien hoe dit kinders help. Om met my terapiehondjie te werk het soveel voordele en ek sal dit baie graag wil verder vat in Suid-Afrika. Ek wil graag opleiding bied en my ervaringe deel met ander terapeute.”

Suné vertel dat sy ʼn hond verkies omdat dit vir haar makliker is om met ʼn hondjie te reis na haar praktyk, hom saam te neem vir terapie of om in klaskamers te werk. “Hulle is spelerig, liefdevol, vriendelik en aanvaar jou onmiddellik. ʼn Mens voel gelukkig as jy by diere is en jy is mos net jouself by ʼn dier.” Met haar gradeplegtigheid in Mei 2022, het hulle spesiale togas laat maak vir haar twee terapiehondjies, aangesien sy nie die studie sonder hul hulp kon voltooi nie.

Suné verduidelik dat gedurende die eerste terapiesessie hulle dikwels eers gesels oor die hond en sy sal sommer ʼn snaakse storie vertel van wat Mzansi al gedoen het of iets interessant deel, soos dat haar beste maatjie ʼn kat is. Dit is natuurlik altyd ʼn groot aanknopingspunt vir kinders, want hoe kan ʼn hond “besties” wees met ʼn kat. Dit dien as ʼn ysbreker en bevorder kommunikasie tussen Suné (as terapeut) en die kind. “Mzansi se teenwoordigheid in die terapiekamer skep ook ʼn klimaat van vertroue en veiligheid vir die kind, want kinders is meer geneig om diere te vertrou. As ek dus deur my terapiehond werk, laat ek ʼn kind veilig voel en kan ek vinniger hulle vertroue bou. ʼn Hond se natuurlike spelerige karakter en natuur, fasiliteer ook spelerigheid in speelterapie. Kinders is ook van nature spelerig en geniet die interaksie, wat hulle weereens veilig en aanvaar laat voel.”

Suné glo in haar ouers se gesegde: “Jy kan enigiets doen as jy bereid is om hard te werk daarvoor”. “Dis absoluut wat my gedryf het gedurende my studies. Om elke dag my beste te gee en regtig hard te werk. As jy iets droom, kán jy dit doen. My pa het sterk leierseienskappe en het my geleer om nooit moed op te gee nie. My ma se respek en liefde vir almal is ʼn groot inspirasie. Sy het ʼn ongelooflike liefde vir diere en haar verbeelding en storievertelling het alles bygedra om my te vorm.”

Zansi. (Foto verskaf)

Suné het Morkie en Mzansi self geleer. Morkie het aan die begin van Covid afgetree. Sy help soms nog met aanlyn kliënte, maar verder ontspan sy en geniet sy die lewe. “Ek het meer kennis gehad toe ek met Mzansi begin werk en haar begin oplei het. Om Mzansi meer sosiale interaksie en stimulering met ander honde te gee, asook basiese opleiding, het ek haar na die Canine Sports Centre geneem. Dit het my gehelp om haar op te lei, asook ons verhouding te bou deur elke week saam iets te doen.” Die 4-jarige Mzansi se persoonlikheid is anders as Morkie s’n en Suné moes haar terapiestyl en aktiwiteite aanpas daarby. Sy geniet fisiese aktiwiteite baie – veral as hulle hindernisbane bou vir haar in speelterapie met kinders. Dit verhoog kinders se selfbeeld en selfvertroue, gee hul meer beheer, leer sosiale vaardighede en probleemoplossing aan en dit is baie lekker.

Haar honde reageer op handsyne, leer maklik en kan omtrent elke toertjie in die boek doen. Die kinders leer ook gereeld vir Mzansi nuwe toertjies wat ʼn groot hupstoot vir hul selfbeeld is. “Sy het ʼn ongelooflike manier om met die kinders te werk. Mzansi het ʼn spelerige geaardheid, wat haar ideaal vir speelterapie maak. Sy begin nou ʼn aanvoeling vir kinders se emosies ontwikkel; met een kind sal sy spring en speel, waar sy ʼn ander een se trane sal aflek en en net langs hom/ haar sal sit.” Mzansi het ʼn e-posadres gekry by ʼn skool waar sy betrokke is, Grayston Preparatory School. Dit dien as ʼn middel van kommuniksasie as kinders hulp of ondersteuning nodig het. Vir die jonger kinders is ʼn posbus opgesit en hulle kan briefies skryf.

Suné het Morkie en Mzansi self geleer.(Foto verskaf)

Suné fokus huidiglik haar aandag op haar privaat praktyk wat in Sandton by Grayston Preparatory School geleë is en Mzansi gaan meeste van die dae saam. “Ek sal verseker in praktyk bly, maar ek het ook verskeie opwindende planne vir die toekoms wat ek wil aanpak.” Sy bied hoofsaaklik emosionele ondersteuning deur middel van speelterapie, alhoewel haar praktyk ook akademiese evaluasies en ondersteuning bied. Sy doen vooraf ʼn screening voordat Mzansi saam met die kind in speelterapie kan werk. Dit hang van die kind af watter tegniek gebruik word. “Nie alle kinders hou van honde of laat toe dat hulle aan hulle lek nie. Sommige kinders het negatiewe ervarings met honde gehad en is bang vir hulle. Soms sal die kinders sê sy is oulik, maar sy moenie aan my lek nie en ek moet dit respekteer. Dan gaan lê Mzansi in haar bedjie. Sy aanvaar dit en is doodgelukkig daar. Ek sal haar ook nooit forseer nie. Ek respekteer haar as sy nie van iets hou nie en ek sal dit aan die kind ook oordra. Dit wys ook vir die kind dat ander se wense gerespekteer moet word en dat jy nie iemand moet forseer om iets te doen nie, wat ʼn belangrike sosiale vaardigheid is. Daar word na albei se welstand omgesien. “Ek was vir opleiding om hondegedrag te kan identifiseer so as Mzansi enigsins angs wys, weet ek hoe om dit te hanteer. Dis belangrik om die kind en hondjie in terapie te beskerm.”

Die sukses wat bereik word in terapie hang van die kind af. “Ek waarborg nie sukses nie. Dis ʼn terapieproses, ʼn groeiproses, waar die kind op die regte plek moet wees.” Van die tegnieke wat Suné gebruik, is om namens Mzansi vrae aan die kinders te vra soos: “Wat wil jy vandag doen?”, Hoekom is jou hartjie seer?” of “Is daar iets wat jou pla vandag?”. Dit help om die fokus op Mzansi te plaas, in plaas van op die kind. Dit help ook om ʼn soortgelyke uitdaging as wat die kind tans moet hanteer op Mzansi te projekteer. Dit is ʼn indirekte manier om steeds die probleem aan te spreek, maar dit laat die kind veilig en meer in beheer voel. Ons help dan daarna vir Mzansi met haar ‘probleem’ of ons werk saam met die kind om sy/ haar probleem aan te spreek. Suné leer Mzansi met ʼn clicker en gee dit ook vir die kinders om haar mee te leer. Dit plaas hulle in beheer en help met selfbeeld en sosiale vaardighede. “Mzansi doen ook nie altyd wat jy wil hê nie, en in terapie is dit dan ʼn belangrike vaardigheid om te leer. Ons moet kan aanpas by ander en op ʼn positiewe manier kommunikeer wat ons wil hê. Ek sal dan die proses fasiliteer om die kind te ondersteun om vir Mzansi te wys wat hy/ sy wil hê.”

Suné glo dié terapie is wonderlik omdat ʼn hondjie onvoorwaardelik liefhet en aanvaar – maak nie saak wie jy is, wat jy gedoen het of watter kultuur jy is nie. Mzansi sit by jou, gee jou die fisiese aanvaarding en jy mag aan haar raak, wat ek as terapeut nie mag doen nie. “Veral deur die Covid-pandemie het Mzansi ʼn groot verskil gemaak vir kinders en volwassenes, waarmee ons kontak gehad het. In ʼn tyd waar fisiese aanraking amper vermy was, kon kinders aan Mzansi vat en het sy gretig na hulle toe gegaan. Daar was geen verwerping of isolasie van haar af nie.”

Daar word baie diere in hospitale en ouetehuise gebruik, maar dit is ʼn nuwe veld waar diere in speel- of psigoterapie geïnkorporeer word. “Ek glo in hierdie metode en wil dit baie graag uitbrei sodat meer kinders hierdeur geraak kan word. Ek dank die Here dat Hy my gehelp het om met Morkie te kon werk en dat ek nou ʼn nuwe pad met Mzansi kan stap. Ek is so geseënd om saam met haar te kan werk, lag, speel en ʼn verskil te kan maak elke dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zoey ·

My dogter wou presies dit doen. Maar na sy vir 3 jaar gesukkel het om by Unisa te registreer vir sielkunde, is haar moed gebreek. Elke jaar is daar ‘n ander verskoning. Ek wens meer mense wil besef hoe goed diere is vir kinders.

Miena ·

DIT IS N WONDERLIKE – FANTASTIESE – UITSTAANDE- storie. Baie dankie vir die deel. Hou aan met jul goeie dade Sune & Mzansi… dit is so iets wat my sommer maak se #imstaying

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.