In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. (2 Kor 1:4)
Daar is heel waarskynlik méér mense in jou omgewing wat ’n drukkie of ’n simpatieke oor nodig het as mense wat broodgebrek ly. As jy werklik ’n hart vir ander het, gaan jy gou agterkom as daar iemand naby jou is wat jou bemoediging nodig het. En juis omdat jy al aan die ontvangkant van God se bemoediging was, weet jy baie goed hoe jy op jou beurt ander mense kan moed inpraat.
“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier’” skryf Jesaja (35:3-4).
As daar op die oomblik van jou vriende of kennisse is wat bemoediging nodig het, wees daar vir hulle. Besoek hulle, bid vir hulle, maar boweal, vertel hulle dat God hulle liefhet en dat Hy by hulle is. Maak ook tyd vir ander mense in jou besige program. Wees gewillig om na hulle te luister, sonder om té veel raad aan te bied. Bied jou simpatie aan vir mense wat bemoediging nodig het. En as jy die slag die een is wat graag bemoedig wil word, steek jou trots in jou sak en gaan gesels met jou vriende.
Here Jesus, baie dankie dat U altyd daar is wanneer my moed min raak. Leer my om ander mense se seerkry raak te sien en hulle te bemoedig, soos U vir my bemoedig. Amen
Lees 2 Korintiërs 1:3-7
Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Dankie Maroelamedia dat julle nie net ernstige nuus plaas maar ook die Goeienuus: Dagstukkie vir die dag ” Here Jesus, baie dankie dat U altyd daar is wanneer my moed min raak. Leer my om ander mense se seerkry raak te sien en hulle te bemoedig, soos U vir my bemoedig. AmenLees 2 Korintiërs 1:3-7 het my gebless en aangespoor om elke dag tenminste een persoon te bemoedig.