Gedagte vir die dag: Die Sleuteldraer

h07-cross_sunset-10Op 1:18 – “Ek het die sleutels van die dood en die doderyk”.

“Ai tog, waarom het die sonde dit nodig gemaak dat ons deesdae alles moet sluit,” sug ek toe ek by die motorhuisdeur moet omdraai om eers weer terug te loop huis toe om die sleutel te gaan soek. Elkeen van ons wat reeds ‘n geliefde aan die dood moes afstaan, het ook al gewens dat ons die sleutels van die dood en die doderyk kon besit sodat ons daardie geliefde kon gaan terughaal. Die Bybel het goeie nuus: Die dood is net tydelik! Daar is Een wat die sleutels het. Eendag sal elke geheimsinnige moord of verdwyning opgelos word. Die oordeelsdag sal alles aan die lig bring. Jesus is op pad, en sal die gelowiges met Hom saambring. Reg en geregtigheid sal geskied.
Johannes word beveel om alles wat hy sien, op te skryf. En reeds hier in die eerste hoofstuk leer ons gou om nie enigiets wat hy sien, letterlik te verstaan nie. Alles is in simboliese taal. Die sterre is die leraars van die gemeentes, en die lampe is die gemeentes. Elke ding het ‘n verborge betekenis. Ons word dus vooruit gewaarsku om geeneen van die getalle of diere wat ons gaan teëkom, letterlik op te neem nie. Ons sal die verborge betekenis moet soek. Hierdie boek is nie net vir die sewe gemeentes wat daarin genoem word, bedoel nie – dit is tot troos vir elke gelowige deur alle eeue, en vir elke gemeente in elke land.
Die sewe briewe aan die sewe gemeentes in die weste van Turkye het ook vir ons elkeen ‘n boodskap, en ons moet noukeurig probeer verstaan wat die Here vir ons wil sê.

Gebed: “Here Jesus, ek nie bang vir die dood nie, want U hou die sleutels en sal ons weer daarvan verlos.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.