Gedagte vir die dag: Genade onbeskryflik groot

88_praisethelord-2Efesiërs 2:4 – Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!

Ek dink dit is gepas om hierdie maand se Vers-‘n-dag dagstukkies af te sluit met een van die mees geliefde liedere van alle tye – “Amazing Grace” (Genade, onbeskryflik groot). Die verhaal agter hierdie lied is ook, om die minste te sê, onbeskryflik wonderlik.

John Newton, die skrywer van “Genade onbeskryflik groot” is in 1725 in Londen gebore. Hy is gedwing om in die Britse Vloot te dien, maar hy het gedros. Hy is gevang en ‘n loesing gegee. Na sy ontslag het hy as ‘n slawehandelaar in Wes-Afrika gewerk en daarna het hy die kaptein van ‘n slaweskip geword. In sy twintigs het Newton al wat gevaar is beleef; op een stadium was hy selfs ‘n slaaf vir ‘n slawehandelaar.

In Maart 1748, het die 23-jarige Newton aan boord die slaweskip die Greyhound, gewerk toe ‘n groot storm uitgebreek het. In sy angs het Newton ‘n ooreenkoms met God gesluit, hy het oorleef en toe begin wonder of die Bybelverhale wat sy moeder hom as kind vertel het, nie dalk waar is nie.

Newton het altyd na hierdie nag as die oomblik van sy bekering verwys. Hy het begin om die Bybel te lees, opgehou dobbel en drink, maar het egter steeds met slawe handel gedryf. Hy het later vertel dat hy nie op daardie stadium na homself as ‘n Christen kon verwys nie en dat sy ware bekering eers later plaasgevind het.

Newton het uiteindelik sy slawehandel gestaak, en op die ouderdom van 39 jaar ist hy tot die bediening toegelaat. Dit was in hierdie deel van sy lewe dat hy die lied “Genade, onbeskryflik groot” geskryf het.

Newton het ‘n bondgenoot geword van William Wilberforce, die leier van die Britse parlementêre veldtog om slawerny af te skaf. Newton het die goedkeuring in 1807 van die Britse Wet om slawerny te beëindig, beleef.

Wat ‘n lewe! Wat ‘n ongelooflike getuienis van God se onbeskryflike genade! John Newton se lewensverhaal herinner ons daaraan dat God ons nooit vergeet nie, en dat Hy voortdurend in ons werk. Van die oomblik dat ons ons lewens aan Hom oorgee is ons volkome vergeef, met God versoen en lewe ons in Christus. Dit eindig egter nie daar nie – die Heilige Gees werk voortdurend in ons en stel ons in staat om nee te sê vir die sonde en ja vir dit wat goddelik en reg is. Die Heilige Gees lei ons op die pad van heiligmaking en help ons om tot eer van God te leef.

Gebed: Hemelse Vader, ek verstaan u genade nie volkome nie, dit is onbeskryflik groot. Ek verdien dit nie. Ek bid dat U deur u genade my verder op die pad van heiligmaking sal lei en my sal leer om volgens u wil te leef. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.