Gedagte vir die dag: ʼn Huis of ʼn tuiste?

Fireplace-Makeover-Ideas-Pictures-With-Horse-StatueMark. 2:1‒2 –  Toe Jesus ná ʼn paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie.

In Kapernaum was daar ʼn huis waar Jesus tuisgegaan het elke keer wanneer Hy daar gekom het. Dit was nie sy eie huis nie, want Hy het eenkeer gesê die voëls van die hemel het neste en die jakkalse het gate, maar die Seun van die mens het nie ʼn plek om sy kop neer te lê nie. Dit was waarskynlik die huis van sy dissipel Petrus, of dalk Petrus se skoonma se huis (Mark. 1:30). Die feit is egter, daar was ʼn plek waar Jesus kon tuisgaan, wóú tuisgaan. Jy sien, daar is ʼn verskil tussen ʼn huis en ʼn tuiste – “a house” en “a home”. Ook die huis van Maria, Marta en Lasarus in Betanië, net oos van Jerusalem, was vir Jesus ’n tuiste. Hulle was sy goeie vriende waar Hy altyd welkom was en waar Hy gewoonlik gebly het wanneer Hy Jerusalem besoek het.

Ek wonder nou net: As Jesus vandag ons wêreld sou kom besoek, sou my en jou huis ’n plek wees waar Hy graag sou wou tuisgaan? Baie huise sou vir Hom oopstaan, en baie mense sou Hom graag in hulle huise wou ontvang. Net soos Simon, die Fariseër, in die einste Kapernaum. Hy het Jesus eenkeer vir ete genooi, maar dit het gou duidelik geword dat sy motiewe nie suiwer was nie. Geld, grootte en luuksheid maak ongelukkig nie van ʼn huis ʼn “tuiste”, ʼn plek van warmte, liefde en geborgenheid nie. Ek bid dat my huis altyd ʼn “tuiste” sal wees – vir my gesin en my vriende en bowenal vir hom.

Gebed: Mag ons huis altyd ʼn plek wees waar u tuis sal voel, Jesus. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.