Gedagte vir die dag: Vertel van God

kruis (Medium)Psalm 145:4-6 – Ouers vertel vir hulle kinders wat U gedoen het. Hulle prys U daarvoor. Hulle prys U wanneer hulle vir mekaar vertel van die groot dinge wat U alles gedoen het. U regeer. Ek wil vertel hoe belangrik U is. U heiligheid straal uit U uit.

Mense is baie lief om te praat. Jy raak baie vinnig bewus van wie die WP se rugbyspan ondersteun nadat hulle die Blou Bulle gewen het. Netso, as jy in die Kaap woon, klim elke Blou Bul-ondersteuner hard en vinnig uit sy kas as die Bulle dalk in die Kaap ʼn goeie oorwinning behaal het. Jy praat graag oor lekker kos en goeie tye. Almal weet waar hulle met jou staan rondom sekere aangeleenthede in jou lewe. Jy is nie skaam om dit uit te basuin nie. As dit by God kom, skop baie mense egter in ʼn rat in van stilbly en geheimsinnig wees, want dit is kwansuis persoonlik. Niks is verder van die waarheid af nie. Jou verhouding met die Here, dit wat Jesus aan die kruis gedoen het, en die feit dat Hy die dood oorwin het en waarlik leef, is goeie nuus wat die hele wêreld nodig het om te hoor. Die spreekwoord charity begins at home is hier so waar. Ouers is veronderstel om hierdie wonderlike waarhede aan hulle kinders oor te dra sodat hulle weer eendag aan hulle kinders kan oordra. So versprei die Woord en die Evangelie van generasie tot generasie. Gehoorsame ouers wat oor God praat en van sy liefde vertel, is ʼn onontbeerlike skakel in God se plan om die wêreld vir Jesus te wen.

Wanneer ons die einde van ons lewe bereik, sal daar van ons gevra word: “Hoeveel het jy gegee?” Nie: “Hoeveel het jy gekry?” nie. – George Sweeting

Gebed:
Here, help my om nie skaam te wees om spontaan te getuig en te vertel van u liefde en genade nie. Jesus, maak my ʼn instrument om ʼn getuie te wees dat die graf leeg is en dat U leef.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jjels ·

Daar is GEEN groter vreugde as om daagliks van GOD se goedheid te getuig nie.

Dolk ·

Amen. Ek kan my nie indink om sonder God se trou en liefde te lewe nie. Dis verskriklik tragies – dat so baie mense dink God is ‘n onwerklikheid – terwyl Hy Homself verseker aan hulle openbaar wat Hom soek en aanbid.

Aan Jesus Christus ons enigste Koning ons lof, dank en aanbidding – wat alles volbring het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.