Gedagte vir die dag: Onverstaanbare dinge

sonsopkoms_Melkbostrand-Boekevat-Copy.jpgMy gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. (Jes 55:8-9)

God dink anders as ons. Daar gebeur dinge in ons lewe wat ons net nooit kan verstaan nie. Dan wonder ’n mens waar om die Here sulke sinlose pyn toelaat. Tog, wanneer ’n mens oor ’n tydperk van jare terugkyk, kan jy selfs ontdek dat dié spesifieke stuk donkerte in jou lewe nodig was om die wonder van God se verlossing vir jou nóg helderder te laat uitstaan.

Wanneer ’n baba gebore word, gaan dit altyd met pyn gepaard. “’n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ’n mens in die wêreld gekom het,” sê Jesus aan sy dissipels as Hy vir hulle wil verduidelik dat hulle droefheid weer in blydskap sal verander (Joh. 16:21).

Soms is seerkry en swaarkry nodig vir ’n nuwe geboorte, ’n nuwe openbaring van God se plan met jou lewe. God gebruik die swaarkry in jou lewe soos ’n pynlike geboorte om ’n nuwe, inniger verhouding met Hom daar te stel. Onthou dit as dit weer sleg met jou gaan.

Hemelse Vader, ek weet dat u plan vir my lewe soms onverstaanbare dinge insluit. Dankie vir die versekering dat U die swaarkry in my lewe gebruik om my verhouding met U te versterk. Amen

Lees Jesaja 55:8-13

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.