Mercedes-Benz GLA eindelik hier

Foto: newcarsconcepts.com

Foto: newcarsconcepts.com

Nadat die derde generasie van die Mercedes-Benz A-klas verlede jaar hier bekendgestel is, is die derde variasie van dié model, die GLA, pas hier bekendgestel.

Die GLA kan as die sportnutsweergawe van die A-klas beskryf word, en sal regstreeks met die BMW X 1 en die Audi Q 3 meeding. In vergelyking met die A-klas het die GLA ‘n hoër grondvryhoogte en hy is effens langer, wat maak dat hy meer bagasieruimte het. Die reeks bestaan uit die GLA 200, die GLA 200 CDI (albei met hand- of outomatiese ratkaste), die GLA 220 CDI 4 Matic, die GLA 250 4 Matic en die topmodel, die GLA 45 AMG 4 Matic. Die 220 CDI, 250 en 45 AMG kom standaard met vierwielaandrywing, maar sonder ‘n laestrekratkas.

Alle GLA-modelle word met turbo-aangejaagde enjins toegerus.Die GLA 200 word toegerus met ‘n 1,6 liter-enjin wat 115kw teen 500 omwentelinge per minuut lewer. Die twee dieselaangedrewe modelle het albei 2,2 liter-enjins, maar die kraglewering verskil. Die 200 CDI lewer 100kw teen 3600 opm en die 220 CDI 125kw teen 3400 opm. Die 250 deel sy enjin met die A 250 Sport en lewer 155 kw teen 5500 opm. Die vlagskip in die reeks is die kragtigste luikrug op die Suid-Afrikaanse mark. Die GLA 45 AMG het dieselfde enjin as die A 45 AMG, wat 265 kw teen 6000 opm lewer. Dit is te vroeg om oor brandstofverbruik te bespiegel, maar volgens die vervaardigers wissel hul topsnelhede tussen 205 km/h vir die 200 CDI-modelle tot ‘n elektronies beperkte 250 km/h vir die 45 AMG.

Die pryse van die verskillende modelle is soos volg:

GLA 200: R 400 749
GLA 200 Outomaties: R 417 647
GLA 200 CDI: R R 422 700
GLA 200 CDI Outomaties: R 439 700
GLA 220 CDI 4 Matic: R 490 231
GLA 250 4 Matic: R 562 388
GLA 45 AMG 4 Matic: R 724 143

Daar is verskeie opsionele ekstras en pakkette beskikbaar wat dié pryse kan verhoog. Alle modelle kom met ‘n onderhoudsplan van 6 jaar of 100 000km, wat teen ekstra koste verleng kan word mits die oorspronklike plan nog geldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.