Koninkryk van God in perspektief

gemeenskappe

Argieffoto.

Hugo van der Walt

Ná sy doop en versoeking in die woestyn begin Jesus sy bediening met dié woorde: “Bekeer julle want die koninkryk van God het naby gekom” (Matteus 4:17). ’n Sleutelteks is opgeteken in Matteus 6:33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Regdeur die evangelies verduidelik Jesus die koninkryk deur leringe, praktiese toepassing en gelykenisse. Dít is dan ook die konteks waarbinne Hy die dissipels uitstuur (Lukas 9:2). Net voor sy hemelvaart gaan Hy voort met onderrig aangaande die koninkryk van God (Handelinge 1:3).

Jesus verwys in die evangelies by 69 geleenthede na die koninkryk en slegs by twee geleenthede na “kerk”. Die term wat Hy gebruik vir kerk is ekklesia, wat verwys na plek van samekoms, ’n politieke en nie ’n godsdienstige term nie. Die verband tussen die koninkryk en die kerk stel Hy baie duidelik in Matteus. 16:18-19. Die kerk het dus ’n duidelike plek en rol, maar nie afsydig en losstaande van die koninkryk van God nie. Die kerk is die plek van samekoms, ondersteuning, toeligting en toerusting aangaande die koninkryk van God.

As Christene is ons totaal oningelig aangaande die koninkryk van God, veral in terme van sosio-ekonomiese toepassing. In ons praktyk het ons vasgeval in kerkstruktuur en ons eie persoonlike verantwoordelikheid aan die kerk geabdikeer. Die huidige verwarring in die NG Kerk in terme van mense met ’n homoseksuele leefstyl is ’n tipiese voorbeeld. Persone wat in sonde en direk strydig met die Woord van God leef, word deur die “kerk” verskoon en vrygespreek. Die Bybelse koninkryksbeginsels in dié verband word nie as relevant in ons moderne tyd geag nie.

Die kerke sukkel om relevant te wees en die ooglopende oplossing is in lyn met die koninkryk van God en nie om kerk beter te maak nie. Erns moet ook gemaak word met Jesus se opdragte in onder meer Matteus 25:34-36 en 28:19. Navorsing toon aan dat 90% van Christene nooit opgelei is om Bybelse geloof prakties by hul werkplek toe te pas nie – waar hulle 60-70% van hul tyd deurbring.

Die duisende individuele kerke word toenemend geslote verenigings wat hulself verskans in hul geboue, terwyl die heerser van hierdie wȇreld doen net wat hy wil (Johannnes 12:31, 1 Johannes 5:19, Openbaring 17:5-6).

Dit is tyd vir die kerk van Jesus Christus om as sy liggaam en bruid dienooreenkomstig te begin opstaan en funksioneer, in lyn met die koninkryk van God. Aan die kerk het Jesus die sleutels van die koninkryk toevertrou. Nȇrens word ons geleer om te bid “laat U kerk kom nie”.  Of mis ek iets?

  • Hugo van der Walt is ‘n strategiese bestuurskonsultant, voorsitter van die Casa Deo-ontwikkelingstruts en direkteur van die Casa Deo-ontwikkelingskoöperasie.
  • Onthou om die Koninkrykskonferensie op 4 en 5 November by die Forever Hotel in Centurion by te woon. Kontak vir Dia van Staden by 083 726 1180 vir meer besonderhede.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Goeie goed, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

n goeie artikel en ek stem saam ons maak ons eie reels op en ignoreer God se Woord, die rondval van ons kerke stel n onvaste liggaam van Christus voor en laat ook twyfel by ongelowiges ontstaan ek kan nie verstaan hoekom daar duisende kerke is en een Bybel nie, wat vir ander wys dat ons nie as eenheid saam staan en glo nie, ek wil ook nie in die persoon se skoene staan wat die Bybel aanpas soos hy goedink nie, ons moet eenheid as gelowiges wys.

LS ·

Is Christene werklik besig om voor te berei vir die koms van die Bruidegom? Hoe lyk die leefwêreld van Christene vandag? Soms wil dit voorkom asof misleiding, Christene so oordonder dat die koninkryk van Mammon ons denke dikteer, ons harte word hard vir die koninkryk van God. Dan raak ons baie kundig om die saak te rassionaliseer sodat ons ‘n”goeie” rede het om ons Mammon bestaan te regverdig en ander te veroordeel. Moontlik sal die koninkrykskonferensie wat soos hierbo aangedui, aangebied gaan word groter lig op dié kwessie werp. Miskien is die koninkryk van God ‘n persoonlike saak en dalk nie die werklikheid wat hierbo beskryf word nie.

Winston ·

Stem saam en dit is ook hoe ek dit sien. Kerke het politieke strukture geword en lidmaatskap is belangriker as geloof? Aanpassings deur kerke in belang van die samelewing, is belangriker as geloof? Strukture kan jou nie op die regte pad plaas nie en vals leringe nog minder. Daar is te min waarhede waarin die kerkbesoeker werklik ingelig word. Die Koningryk van God is iets heel anders en as dit werklik ervaar word, begin jy werklik die kerke deur ander oë sien.

willem ·

Die konsep van koninkryk van God/Hemel is een van twee sentrale pilare van Jesus se bediening op aarde. Die ander pilaar is nuwer konsep van sy Vader wat deur die mensdom beskou moes word in terme van ‘n aardse vader.
Maar die koninkryk gedagte is verwar met die ou Joodse konsep van ‘n aardse koninkryk met Jerusalem as sentrum met goddelike heerskappy-selfs met God self op die troon.
Gou na Jesus se dood was die omstandighede ongunstig om sodanige ‘koninkryk-gedagte’ te verkondig wat met die Romeinse oorheersing kon meeding. Die konsep het in onguns verval en is die evangelie VAN Jesus vervang met die evangelie OOR Jesus.
Hierdie poging van Hugo mag dalk net die begin wees van ‘n beweging soos wat Jesus se bedoeling was. Wees dan gereed vir die gevolge. Die hele mensdom kan inkoop en die gevolg die omvorming van die mensdom tot ‘n ‘nuwe’ aarde – die bedoeling van die Vader met die planeet aarde.

Gert ·

Koningkryk beteken ook autoriteit. Ons het deur Jesus die sleutels van autoriteit gekry. Dit maak veral sin wanneer die woord koningkryk vervang word met autoriteit in die onse vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.