Belhar: ʼn Rustelose spook

kerkHierdie artikel deur prof. Danie Goosen is deel van Maroela Media se reeks uiteenlopende artikels oor die Belhar-debat. Volg gerus die Belhar-debat op Maroela Media se debatsplatform, Nóú pra’ jy. -Red

Soos ’n rustelose spook wil die gesprek rondom die Belhar-belydenis eenvoudig nie gaan lê nie. Inteendeel, met die stemming wat tans in die NG Kerk oor art. 1 van die Kerkorde gehou word, loop die spook van Belhar weer rond. Wat hieronder volg, is enkele gedagtes daaroor.

Maar laat my dadelik sê, die gedagtes hier onder hou nie direk met die Belhar-belydenis self verband nie, maar eerder met die breë agtergrond daarvan. Dié konteks kry nie altyd die aandag wat dit verdien nie. Ek verwoord dit met behulp van enkele punte.

  1. Histories gesproke spruit die Belhar-belydenis uit weerstand teen apartheid. Daarom is dit ook te verstane dat apartheid nie ver in die agtergrond staan as Belhar ter sprake gebring word nie. En dit is as sodanig nie ’n probleem nie. Afrikaners gaan en moet nog lank oor apartheid en die gevolge daarvan gesels.

Nogtans knoop hieraan ’n ernstige probleem. Dit hou verband met die feit dat Afrikaners hulself vandag in ’n radikaal andersoortige konteks as tydens apartheid bevind. Afrikaners het voor nuwe uitdagings te staan gekom. En dit is uitdagings wat van ons nuwe denke en dade anderkant die apartheidsverlede vra.

Maar, en dit is die kritiese vraag, word Afrikaners vandag inderdaad toegelaat om dit te doen? Talle Afrikaners antwoord vandag op die nuwe eise van die tyd met behulp van denke en dade wat nie met apartheid in verband gebring kan word nie. Nogtans word juis hierdie Afrikaners daarvan beskuldig dat hulle aan een of ander nostalgie jeens apartheid ly.

’n Teenswoordige voorbeeld hiervan kom uit die openbare gesprekke oor die toekoms van Afrikaans op die Potchefstroom-kampus van die NWU. Diegene wat vir die behoud van Afrikaans voorspraak maak (deur onder meer te pleit vir die handhawing van die federale struktuur van dié universiteit), word dikwels van apartheidsentimente beskuldig.

Laasgenoemde is egter niks minder nie as ’n leuenagtige voorstelling van sake. Die ”federale antwoord” wat talle Afrikaners op die uitdaging van Potchefstroom gee, verskil hemelsbreed van die sentralistiese aard van apartheid. Trouens, dit stem ooreen met die sterkste moontlike demokratiese impulse elders in die wêreld. Nogtans word apartheid om hul nekke gehang.

Hoe hou dit met Belhar verband? Die Belhar-gesprek onderskei nie altyd skerp genoeg tussen apartheid en die andersoortige konteks waarbinne Afrikaners hulself vandag bevind nie. Daarom word dit ook dikwels deur ’n stemming onderlê ingevolge waarvan die hedendaagse voorspraak vir ’n eie taal- en kultuuridentiteit met ’n voorspraak vir die verlede verwar word.

Diegene wat sterk voel oor die Belhar-belydenis sal aan Afrikaners moet kan verduidelik dat dit nie die geval is nie. En dat Belhar geensins in die pad van die bevordering van ons tale en kulture staan nie.

Maar kan dit inderdaad gedoen word? Met die spesifieke inhoud wat Belhar aan ’n begrip soos ‘eenheid’ gee, is dit ’n vraag of dit werklik ’n nuwe taal- en kultuurbenadering kan ondersteun.

As Belhar met ”eenheid” ’n gedifferensieerde eenheid sou bedoel (dit wil sê ’n eenheid wat die veelheid as noodsaaklik vir ’n gesonde eenheid verstaan) dan sou hy waarskynlik so ’n nuwe benadering vanuit Afrikanergeledere kon ondersteun. Vanweë die sterk aanwesigheid van apartheid in die agtergrond kan Belhar dit waarskynlik nie doen nie. In reaksie op apartheid gee ’n ongedifferensieerde opvatting van eenheid eerder die pas aan. Dit wil sê ’n eenheid wat juis nie klem op die uitbouing van die veelheid van tale en kulture lê nie.

Indien bogenoemde inderdaad korrek is, beteken dit dat die onderskeid tussen apartheid en vandag nie skerp genoeg gehandhaaf word nie, en dat Afrikaners aan apartheid vasgeknoop word.

  1. In die hart van die Belhar-belydenis staan die begrippe eenheid, versoening en geregtigheid. Hoewel hierdie begrippe lofwaardige ideale verteenwoordig, is dit nie sonder probleme nie. Dit draai om die vraag hoe op ’n konkrete wyse inhoud aan hierdie ideale gegee kan word. Hoe moet eenheid, versoening en geregtigheid in die wêreld beliggaam word?

Nou, die antwoord daarop is ’n funksie van die vooroordele waarmee hierdie ideale gelees en geïnterpreteer word. ’n Liberale en ’n gemeenskapsdenker sal eenheid, versoening en geregtigheid op verskillende wyses verstaan. Terwyl eersgenoemde kan aanvoer dat geregtigheid deur die kultuur van individuele regte bevorder moet word, sal laasgenoemde daarenteen aanvoer dat geregtigheid sal geskied wanneer gemeenskappe oor die nodige instellings beskik waarbinne hul hulself kan verwesenlik (of waarbinne hulle tot hul reg kan kom).

Dieselfde is waar van begrippe soos eenheid en versoening. Hulle kan op radikaal uiteenlopende wyse vertolk word.

Maar, en dit is die kritiese vraag, met watter bril word hierdie begrippe deur die apologete van Belhar gelees? My oorweldigende indruk is dat hulle ’n interpretasie aan hierdie begrippe heg wat eerder die bestaande ideologiese konsensus in die land ondersteun. En dit is ’n konsensus wat kennelik nie ’n besondere voorkeur aan die gemeenskapsgedagte en die uitbouing van ons tale en kulture verleen nie.

Terugskouend kan daar kwalik aan die indruk ontsnap word dat die vooroordele waarmee Belhar geskryf en oor die jare geïnterpreteer is, deur die politieke idees uit die 80’er jare beïnvloed is. Hoewel dit ’n lomp omskrywing is, kan dit as die breë sosiaal-liberale tradisie beskryf word. In den brede lê dié tradisie ook ten grondslag aan kragte soos die Vryheidsmanifes van die ANC, die destydse UDF, die politieke denkbeelde van Allan Boesak, ensovoorts. Belhar kom uit hierdie dampkring.

In ’n sekere sin het Afrikaners vrede daarmee. Die sosiaal-liberale denke (Jean-Claude Michéa beskryf dit as die links-liberale denke) geniet vandag wêreldwyd aansien. Nogtans beteken dit nie dat dit die beste denke vir gemeenskappe en in die besonder vir ’n kultuurgemeenskap soos die Afrikaners is nie.

In die post-apartheidera het dit van groot belang vir Afrikaners geword om ’n benadering te volg waarin die gedagte van gemeenskap (gemeenskapsdeelname, gemeenskapselfstandigheid, ensovoorts) ’n hoë voorkeur geniet. Hiervolgens kan Afrikaners die beste na hulle gemeenskaplike sake omsien indien hulle oor die nodige gemeenskapsinstellings beskik waarbinne ’n selfstandige gemeenskapslewe tot haar reg kan kom.

Vanuit hierdie perspektief beoordeel is dit ’n vraag of die sosiaal-liberale denke hoegenaamd vir gemeenskappe geskik is. Maak dit werklik positief voorsiening vir die deelname van gemeenskappe aan hul instellings? Laat dit gemeenskappe toe om hul gemeenskaplike goed na te strewe? Moedig dit onderlinge verstandhoudinge tussen gemeenskappe aan?

Ongelukkig bestaan daar goeie redes om oorweldigend negatief hierop te antwoord. Veral taal- en kultuurgemeenskappe tree binne die sosiaal-liberale denke op die agtergrond, terwyl die klem eerder op die staat en die beskerming van individuele keusevryheid val. Die daadwerklike uitbouing van gemeenskapstrukture is ten ene male laag op die sosiaal-liberale agenda. Die feit dat die apologete van Belhar tot en met vandag meestal swyg oor die eise waarvoor Afrikaners vandag te staan gekom het, versterk hierdie indruk.

  1. ’n Ander manier om bogenoemde opmerkings te verwoord, is om aan te voer dat die sosiaal-liberale tradisie ten grondslag van die Belhar-belydenis negatiewe implikasies vir gemeenskappe het. Dit knoop gemeenskappe aan die staat vas. So word gemeenskappe eerder geneutraliseer as bemagtig. Waarom?

Robert Nisbet het reeds jare gelede in sy bekende werk, The Quest for Community, aangevoer dat moderne state daartoe neig om onverskillig en selfs vyandig teenoor gemeenskappe te staan. State poog telkens om mense vanuit hul gemeenskapsbindinge los te maak en hulle aan eenvormige standaarde, soos een standaardtaal, te onderwerp. So kan die state effektiewe beheer oor die ‘bevolking’ (nou gereduseer tot ’n ongedifferensieerde versameling individue) uitoefen. Anders as wat dikwels geglo word, is dit nie die individu wat die vyand van die moderne staat is nie, maar die gemeenskappe.

In vele opsigte is die Suid-Afrikaanse staat, in weerwil van allerlei grondwetlike buigings jeens die gemeenskapsgedagte, ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit word gekenmerk deur die poging om eenvormigheid op almal af te dwing, ’n eenvormigheid waarin die veelheid van gemeenskappe nie tot hul reg kan kom nie. Laasgenoemde blyk nie net uit die feit dat een taal die de facto landstaal geword het nie, maar ook uit die beleid van verteenwoordigendheid wat strak op die verwikkelde netwerk van gemeenskappe en lokaliteite afgedwing word, die onbegrip vir die land as ’n land van gemeenskappe (en nie net ’n land van ”swart” en ”wit” nie), ensovoorts.

Belhar gee kwalik blyke daarvan dat hy skepties staan teenoor die werking van die moderne staat. Net so toon dit weinig begrip vir die negatiewe gevolge van die staatlike logika vir ’n gemeenskap soos die Afrikaners. En vir die vraag hoe gemeenskappe vandag ”tot hulle reg kan kom”.

Onlosmaaklik deel van die betekenis van ”tot hul reg kom” is om aan gemeenskappe die ruimte te gee waarbinne hulle self inhoud aan begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid kan gee. Dit wil sê ’n inhoud wat verskil van die verstikkende eenheid wat state afdwing; wat verskil van dié versoening wat vra dat die eie opgehef moet word; en wat verskil van dié geregtigheid wat slegs klem plaas op die keusevryheid van die individu en die verwesenliking van gemeenskappe ignoreer.

  1. As met rassisme bedoel word dat negatiewe houdings en praktyke jeens ander beoefen word, dan is rassisme ’n probleem wat ook deur Afrikaners hanteer moet word. Afrikaners kan nie bekostig om daardeur gemerk te word nie. Dit sal niemand minder nie as hulself benadeel.

Maar verstaan ons die dieperliggende verband tussen die bestaande orde en groeiende rassistiese stemmings? Die sosiale logika daarvan word dikwels waargeneem: In die mate waarin ’n gemeenskap soos die Afrikaners toenemend aan gevoelens van ongeborgenheid oorgelewer word, in daardie mate gaan – en dit verg geen profeet nie – die rassisme eenvoudig toeneem.

Help Belhar ons om die verband tussen sosiale ongeborgenheid en rassisme raak te sien? Gee dit vir ons konkrete riglyne, dit wil sê riglyne wat in die sosiale werklikheid van instellings geanker is en wat aan ’n gemeenskap soos die Afrikaners sekerheid oor die toekoms van goed soos hul skole, universiteite, arbeidsgeleenthede, simboliese erkenning gee?

Sonder hierdie sekerheid sal rassisme na alle waarskynlik toeneem. (Trouens, dit is ook waar van talle ander gemeenskappe, wat eweneens deur soortgelyke onsekerhede gekenmerk word.) ’n Blote morele veroordeling gaan nie help nie. Inteendeel, dit kan die probleem vererger omdat dit as voorskriftelik, beterweterig en arrogant ervaar kan word.

Kortom, in die mate waarin Belhar in gebreke bly om ’n positiewe begrip vir die noodsaak van gesonde gemeenskapsinstellings te toon, in daardie mate sal sosiale probleme soos rassisme steeds met ons wees. En is dit nie ironies nie?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nic Grobler ·

Ek is nie ʼn lidmaat van die NGK nie, maar voel van harte jammer vir my medegelowiges wat gebuk moet gaan onder afpersing met ʼn polities geïnspireerde, oorhaastige (dink aan die jare en maande wat ons gereformeerde voorvaders in gebed deurgebring het om ons belydenisskrifte te verwoord) dokument wat ons met ʼn paar aanvangswoorde, wat ook in ons bestaande belydenisskrifte voorkom, probeer mislei. Kerkeenheid is nie ‘n blote ideaal nie, dit is ons roeping (Paulus veroordeel sonder omhaal van woorde twis en tweedrag in die gemeentes). Dit kan egter nie op en met skeurmakers gebou word nie, maar net op die enigste hoeksteen, Jesus Christus. Die blote feit dat die satan met hierdie sogenaamde ‘belydenis’ skeuring saai onder gelowiges en ook op so ʼn manier dat selfs agnostici (om “nie-godgelowiges” maar met eufimie te beskryf) daaraan deel neem (blykens vroeëre skrywes op Maroela), moet ons tot besinning roep. Waarmee is ons besig; waaraan neem ons deel? Mag God deur sy Gees ons ook deur hierdie dal van doodskaduwee lei.

Bierneef ·

Hoekom skei ons nie kerk en god nie. Die kleinletter “god” is nie uit minagting nie, dit verwys na die konsep van ‘n god. Kom ek verduidelik.

Die rede is baie eenvoudig. Ek en my gesin is NG gebore en getoë. Gereeld kerk toe, presies geweet wanneer om te staan en te sit en ons kon die Apostoliese geloofsbeleidenis agteruit resiteer. Agt jaar gelede het ons besluit dit sal goed wees om bietjie die wêreld te sien en ons horisonne te vebreed. Geen politieke of ekonomiese druk nie, net bietjie avontuur. En daar gaat ons. Pla ons toe natuurlik verskriklik, want raai wat, op daardie stadium het Perth nog nie ‘n NG kerk gehad nie. Nou wat nou? Is die hel ons voorland? Gaan God ons verlaat?

Tref my toe soos die reuk van ‘n nagmaalwynasem: Die NG of enige ander kerk (ja, julle ander twee susterskerke wat my so aankyk ook) IS NIE GOD NIE! Wat die kerk ookal dink en doen en wie voor sit en agter sit of bruin of wit is KAN JOU NIE VERWYDER VAN GOD NIE! Ek gaan nie veel verder uitbrei nie. Vir die wat dink die kerk is God, maak maar seker jou vuurvaste pakkie pas nog.

So, lees nou weer die artikel terwyl jy dink aan wie en wat God is. Ek het dit weer gelees. Het my laat dink aan die kerkorrelwind van die gesing van al die versies van Ps. 119.

Nic Grobler ·

Bierpens, skuus neef, dit is jammer dat julle met vakansie moes gaan om te besef dat die kerk nie God is nie. Julle kon dit met minder moeite en koste in die Bybel gelees het. Die kerk is wel die plek waar hulle wat in God glo Hom al 6000 jaar saam met die ander gelowiges aanbid, Hom dien en na Hom luister. Die kerk kan daarom nie ‘n plek wees met menslike politieke dromery nie. Dit moet gebou wees op die waarheid wat Hy in sy Woord vir ons leer. Maar daarom moet mens tyd maak om dit te lees, al is dit op vakansie.

Nic Grobler ·

Voordat God die mens geskep het, was daar nie mense wat Hom in gehoorsaamheid kon dien nie.

Neels Malan ·

Ek het ook, soos prof Goosen, ‘n probleem met Belhar. Dit is m.i. nie wat hy s^e nie, maar dit wat hy nie s^e nie. Belhar s^e apartheid is verkeerd. Ek stem saam. Maar Belhar verswyg dat liberalisme ook verkeerd is. En dit maak van Belhar ‘n eensydige politieke dokument wat nie die balans van die Skrif het nie. Die Skrif leer beide gesonde verskeidenheid teenoor verkeerde apartheid asook gesonde eenheid teenoor die valse eenheid van die liberalisme. Ek het ‘n stuk geskryf wat ‘n poging is tot ‘n beter bewoording van Belhar, maar in gewone taal wat elkeen kan verstaan, en tog sover ek kon, op die Bybel begrond. Bestel dit gerus gratis by my by [email protected]. En dankie aan Cronje wat my aan Maroela bekendgestel het! Neels

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.