Dirk Hermann antwoord: “Hier is ons, Jan van Afrika – ons kan nie anders nie”

Rohan Germishuys van Swellendam het vir Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ‘n ope brief geskryf na aanleiding van Hermann se ope brief aan pres. Jacob Zuma.

Hermann antwoord op Germishuys se brief:

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Beste Rohan,

Baie dankie vir jou openhartige brief. Die kritiese punte dra by tot die debat en help om ons gedagtes oor Afrikaners se unieke plek in Afrika te slyp.

Ons is Afrika. Ons het nie tydelik hier aangeland nie, maar is oor ʼn lang tyd hier geplant, het wortel geskiet en het hier gegroei. Dit maak ons anders. Ons is ʼn unieke verskynsel – ʼn wit stam in Afrika. Afrika is ons plek. Ons noem onsself Afrikaners. Ons praat Afrikaans. Dit alles wys op ʼn gebondenheid aan Afrika.

Ons storie het egter nie hier begin nie, maar het hier geëindig. Soos ons kinders is van Afrika, is ons ook kinders van die Reformasie, Westerse waardes, denke en tegniek. Uit die Reformasie het ons gebring roeping, werk en verantwoordelikheid. Dit alles het ons gevorm en ons in staat gestel om ʼn unieke bydrae in Afrika te maak.

Hierdie unieke bydrae tot Afrika is ook deur Afrika opgeneem: die argitektuur, vervoerstelsels, ekonomiese stelsels en sekere waardestelsels in die land getuig daarvan. Dit is nie so simplisties om te sê dat al hierdie dinge die gevolg van kolonialisme en die begin van probleme was nie. Afrika hou dit in stand en geniet ook die welvaart en gemak wat dit meebring.

Indien iemand Afrikaners wil verstaan, moet hy of sy albei kante verstaan – waar ons vandaan kom en wat ons geword het. Ons is kinders van Europa wat eeue gelede op Afrika geënt is. Ons is ʼn nuwe tak wat unieke karaktereienskappe na Afrika toe gebring het.

In dié sin is ek Jan van Afrika. Dié Jan is Jan van Riebeeck uit Europa met ʼn unieke godsdiens en waardestel. Van Riebeeck het egter aanbeweeg in opdrag van die Verenigde Oos Indiese Kompanjie se Europese base en het in Indonesië gesterf. Afrikaners het in Afrika aangebly. Ons het dus Jan en Afrika in ons.

Ons het ʼn unieke rol in Afrika en spesifiek Suid-Afrika, maar ons sal ons taak versaak as ons ons unieke karakter en manier van doen opgee. Daar is verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika en elkeen het unieke eienskappe wat almal saam ’n unieke Suid-Afrika vorm.

Afrikaners is ʼn minderheid en as ons bloot soos die meerderheid wil wees en in die meerderheid opgeneem word, sal ons net eenvoudig as gemeenskap ontbind en is vrugbare interaksie tussen gemeenskappe nie moontlik nie.

Dit is juis op die vlak van gemeenskap waar ons en Afrika mekaar vind. Afrika ken gemeenskappe en Afrikane kry hul energie uit hul gemeenskappe.

Vir vrugbare interaksie tussen gemeenskappe is dit egter noodsaaklik dat die gemeenskappe mekaar ken. Ons moet verstaan hoe mekaar se kultuur, taal en lewens werk. Ons moenie mekaar word nie; maar ons moet mekaar leer ken. Om die gemeenskaplike tussen ons te verstaan, moet ons mekaar se uniekhede verstaan en waardeer. Vir onderlinge respek en vreedsame naasbestaan is begrip noodsaaklik. Die vraag is dan tereg of ons genoeg moeite met mekaar doen.

Verhoudinge en begrip is dus noodsaaklik vir ons oorlewing in Afrika. Dit is egter nie al nie.

Afrikaners is ʼn Afrika-gemeenskap en ons hoef nie ons uniekhede en styl prys te gee om Afrika te word nie. Deel daarvan is ons siening oor die wet, gesag en privaat eienaarskap wat direk uit ons reformatoriese wortels spruit. Vir ons is dit belangrik om orde deur die wet in stand te hou. By die Solidariteit Beweging maak ons dus gebruik van die regstelsel om ons plek in Afrika te verseker. Ons maak gebruik van die howe, die VN en ander ordelike strukture en ons gaan daarmee voortgaan. Ons mag dit nie opgee nie, want ʼn land sonder orde is te erg om jou in te dink.

Ons is egter nie naïef oor die rol van die regstaat en grondwette in Afrika nie, daarom bou ons ook. Ons veg nie net in howe nie, maar ons bou fisiese instellings. Ons bou ʼn universiteit en ’n tegniese kollege. Ons bou ʼn maatskaplike en ’n burgerregte-organisasie. Ons bou ʼn vakbond. Ons bou kulturele en media-instellings en ons bou finansiële instellings. Ons glo dat ʼn gemeenskap deur sy instellings leef en uitreik.

Wie is dan nou die groot De la Rey wat die volk moet kom lei? In 1915, kort ná die Rebellie, is die Helpmekaar Beweging begin. Geld is ingesamel om te help om die rebelle se skuld te betaal. Soos J.D. Kestell in die Helpmekaar-gedenkboek skryf – niemand het dit gesien kom nie; dit het net gebeur. Dit was nie ʼn groot plan, ʼn groot leier of ʼn groot politieke party nie, maar het bestaan uit klein dade. Elkeen het bloot verantwoordelikheid aanvaar om iets te doen vir die saak. Daar is gebak, gewerskaf en gebrei. Mans het met kollektelyste rondgeloop, vroueverenigings het konserte gehou en jeugverenigings het debatsaande gehou. Die gees van Helpmekaar het gelei tot die stigting van Nasionale Pers, Die Burger, Santam, Sanlam, Volkskas en later die Voortrekkers, die AHI, ATKV en vele ander gemeenskapsinstellings.

Hendrik en Miems van der Westhuizen is die “burgemeesterspaar” van Waverley, die woongebied waar ek bly. Hendrik is die burgemeester, maar sonder die ketting.

Hy is nie ʼn verkose politieke leier nie, maar die gemeenskapsleier. Hy organiseer die patrollies, organiseer die radionetwerk, is voorsitter van die atletiekklub en reël alles en nog wat.

Miems maak toebroodjies vir arm Afrikaners en is oral betrokke in die gemeenskap. Al twee is betrokke by ʼn suksesvolle Christelike privaat skool. As fondse ingesamel moet word, is Hendrik en Miems daar.

Hulle is baie betrokke by die kerk en die kerk is meer ʼn gemeenskap as bloot ʼn gemeente.

As ons praat van Afrikaner-leiers moet ons nie soek na groot politieke leiers wat vanaf ʼn sentrale stelsel regeer nie, maar die Van der Westhuizens wat vanuit die gemeenskap werk.

Moet dus nie meer soek na die groot leier nie – dit is jy.

As jy dus wonder oor die toekoms, raak betrokke by jou skool, by jou kerk, by die plaaslike beveiligingsaksie. Gaan ry patrollie; gaan gee om; gaan reik uit; help ʼn kind om te studeer; raak betrokke by plaaslike instellings; help nasionale instellings; koop ʼn Afrikaanse boek; koop ʼn Afrikaanse CD; gaan woon ʼn konsert by en wees ʼn betrokke ouer. Al hierdie honderde aksies is elk ʼn steen in ʼn groter toekoms vir ons hier in Afrika.

Die geheel raak baie groter as die dele. Klein druppels word klein stroompies; word ʼn rivier en maak ʼn dam vol.

As jy dus twyfel oor die toekoms, bou dit.

Hier is ons, Jan en Maria van Afrika – kom ons reik uit, bou, veg en help mekaar, ons kan nie anders nie.

Groete

Dirk Hermann

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Rene ·

Ditsem! “Ons is Afrika. Ons het nie tydelik hier aangeland nie, maar is oor ʼn lang tyd hier geplant, het wortels geskied en het hier gegroei. Dit maak ons anders. Ons is ʼn unieke verskynsel – ʼn wit stam in Afrika. Afrika is ons plek. Ons noem onsself Afrikaners. Ons praat Afrikaans. Dit alles wys op ʼn gebondenheid aan Afrika.”

anet ·

Dirk, baie dankie dat jy ons Afrikaners so mooi beskryf. Dit is ‘n riem onder die hart.
Ek wonder soms oor hoe ons Afrikaners dit gaan oorleef in hierdie mooie Suid-Afrika as jy daagliks lees oor hoe wreed ons uitgemoor word. Ek dink aan die jong manne wat hulle lewe verloor het op die grense om ons land veilig te hou, en nou word ons elke dag blootgestel aan
ongekende wreedheid.
Ons kan net elke dag Bid dat ons almal veilig gehou sal word

Jakes ·

Dit bekommer my erg as ek daagliks kommentaar lees van swartmense op sosiale media .
Dit wil voorkom asof die idee dat: ‘Afrika aan die swart man behoort, en die res moet nou hulle ry kry’ al hoe meer posvat.
Hoe veg jy daarteen? Ek stem saam met Dirk, groepe moet nie mekaar word nie, ons moet mekaar verstaan.

Wat van, byvoorbeeld, ons stig iets soos ‘n opvoedkundige ‘Afrikaner Museum’? Iets wat die diep spore wat die Afrikaner in afrika getrap het beklemtoon. Iets wat vir alaml bewys hoe deel van afrika ons is. Iets waarheen skoolgroepe en toeriste kan kom en ‘n nuwe generasie kan leer van die Afrikaner. Verander die harte en denke van mense teenoor die Afrikaner.

Hendrik ·

Pragtige stuk deur Dirk. Kom ons ondersteun instansies soos Afriforum en die Erfenisstigting. Laasgenoemde is verantwoordelik vir al die wondelike afdelings by die Voortrekkermonument en baie ander terreine, soos Bloedrivier. Dis waar ons kultuur aan duisende internasionale besoekers uitgedra word. Baie meer buitelanders as Afrikaners, en selfs Suid-Afrikaners, besoek die VTM. Ons moet meer daarvan gebruik maak om ander Suid-Afrikaners wat nie Afrikaners is nie, in te lig.

Chris Schutte ·

Dirk , d swart volke in SA verwys nooit terug na hul herkoms vanuit d Noorde ni . Waarom moet ons dit dan doen . Die Amerikaners ens doen dit ook nie . waarom moet ons daarop hamer . Soos jy se – ons is Afrika .Ons is al so lank hier dat ons eintlik ni meer van Europese herkoms is nie . Bykans niemand weet meer waar hul voorvaders vandaan gekom het nie . Ons is verseker nie soos Mbeki beweer het spesiale kolonialiste nie , ons is Afrika

emiel ·

Nee mnr Herman, ons is beslis nie Afrka nie! Net soos ons Hugenoot en Europese voorsate, is daar baie van ons wat altyd geglo het dat ons veel meer is as ‘n blote geografiese plek. Ons het altyd ogeglo dat ‘n volk eerstens ‘n produk is van sy kultuur, sy geskiedenis, sy geloof, sy waardes, sowel as sy strewe na Vryheid is. Anders as mnr Hermann en sy organisasie, sien ons geen doel om ‘n vyandgesinde Afrika te help bou en onderhou nie.

emiel ·

‘n Baie simplistiese en oppervlakkige beskrywing deur mnr Herman oor wat dit beteken om ‘n Afrikaner of enige volk te wees. Ons Hugenoot en Europese voorsate het al lank gelede besef dat ‘n volk veel meer as ‘n blote geografiese plek is. Ons sal moet ons besef dat ons ‘n produk is van ons kultuur, ons geskiedenis, ons geloof, ons waardes, sowel as ons strewe na vryheid is. Nee mnr Hermann, ons is beslis nie Afrika nie (‘n gevaalde kontinent met gevaalde geskiedenis en waardes). Anders as mnr Hermann en sy organisasie, sien baie van ons geen doel om ‘n vyandgesinde Afrika te help bou of onderhou nie.

Willem ·

Kyk, Afrikaners lyk my het baie onse. Jou onse dink Dirk Hermann se skrywe is simplisties. Kom gee aub jou weergawe ten volle weer.

Die groep onse aan wie ek behoort dink weer Dirk Hermann het die spyker op die kop geslaan.

Frederick J Smith ·

Bravo Dirk Herman, puik opgesom. Daar word egter te min klem gele op die feit ons tans deel is van n groter bestel nl Afrika. Uit sovele media aktiwiteite sien ek steeds nog te veel haatspraak en opstokery tussen die etniese groepe…ook vanuit die wit geledere. Hierdie is die grootste enkele faktor wat misdrywe soos moord ens aanwakker. Ons kan ons toekoms slegs waarborg deur met volwassenheid en die regte benadering vorentoe te beweeg. Die skop, skiet en donner benadering sal nooit werk nie. n Volwasse, opgevoede benadering was nog nooit n swakheid of n teken van ” kruip” nie. Sterkte met jul goeie werk..X

Santie ·

Ek stem… Ek probeer ook ‘n druppel wees…. ‘n bitter klein druppel in die groot oseaan. Miskien gaan ek ook eendag terug kyk en sien dat dit darem gehelp het…

Les Vorster ·

Ja dis goed deur denk en treffend raak geskryf, ons moet ons Afrikaner identiteit vestig in ons kinders. Leer hulle van ons voorvaders, ons gebooie en ons Gristenskap want in hulle is ons toekoms gevestig.

Jan ·

Die wiel gaan draai. Soos die volk van Israel in ballingskap bymekaar gebly het en hulself versterk het, net so moet ons as Afrikaners bymekaar bly en onsself versterk. Vertrou op die Here en hy sal ons na ons ‘Kanaan” lei.

Martie van Riebeeck ·

Jakes. Dirk het gese ons moet nie wag vir ander om iets te doen nie. So begin die museum. Ek is seker dan sal jy sien hoe baie mense jou sal begin help!!!

Eliza-beth ·

Skrywe stem maar baie oreen met sekere gedagtes wat Rohan ook geskryf het, net op ‘n ander manier dalk gestel. Daarmee kraak ek geensins die skrywe af of selfs die idees/sienings nie. Die punt is steeds waar is ‘n leier wat nou regtig uit sy (Europese) pak klere kan klim en die ding kan doen? Nie iemand wat liggeraak is en histeries reageer op die geringste ding, maar wat die “ander kant” se punt insien en raakpunte tussen verskeie rasse kan gebruik om eenheid te kweek -want dis wat ons land gaan red: E E N H E I D! ‘n Leier is myns insiens nie iemand wat groot woorde gebruik en mense paai deur hulle te vertel hoe wonderlik hulle is of hoe hulle moet saamstaan, maar van sy kassie afklim en self begin om die ding op grondvlak saam met die mense te doen – die res (mense) sal volg.

Willem ·

Die antwoord lê in Dirk se skrywe. As jy die instellings soos bv Afriforum en Solidariteit se inisaitiewe en hul dade volg, het jy in hulle meer as ‘n leier.

Wat verwag jy van jou leier, wat moet hy doen? Ook, moet hy ‘n nuwe party stig? As jy tien punte kan gee, sal dit help.

Eliza-beth ·

Willem ek dink nie jy moet mens sarkasties antwoord as mens kommentaar lewer nie. Ek dink ek het nogals duidelik gestel wat ek van ‘n leier verwag! Ek soek nie ‘n verkrampte persoon nie, ek soek een wat DOEN en nie praat nie, ek soek ‘n gewone ou wat nie met deftige pakke rondstap en hoë woorde gebruik om mense te (probeer) beindruk of te laat voel hy “doen” nou daadwerklik iets nie. Ek soek nie leiers wat “nitpicking” doen nie uit dinge van die verlede maar daadwerklik wil aanbeweeg en ook eerder RAAKPUNTE te soek tussen hoe ons as wit mense en anderskleuriges of selfs dan andersdenkindes voel te vind en daaruit en daarop ‘n eenheid te bou. Dis maar ‘n paar punte en jammer nie tien nie ; )!Dis vir my altyd verstommend as mens nie 100% met ‘n skrywer saamstem, hoe andere soos bv jy mens dan basies aanval en vra vir ‘n tienpunt plan! Hoekom nogal tien punte? Ai ek lag maar eintlik net. Ek wil net soveel as jy ‘n wonderlike veilige land hê wat werk maar op ‘n manier wat aanvaarbaar is vir almal. Verstaan jy dalk? O, en ek gaan nie in ‘n polemiek betrokke raak met jou nie, so ek gaan nie weer antwoord sou jy my nou met lang uitgerekte relase beantwoord en op die einde niks regtig antwoord wat mens WIL weet nie. Probeer van jou kant bietjie net wyer kyk en in die “ander” se skoene ook staan. Groete ou grote : ) – ek bly soek na daardie LEIER!

Henry ·

Stem met jou saam Eliza-beth.
Wat die gesoek na ‘n leier of leiers betref, ons geskiedenis vertel dat sulke piete en organisasies nie veel oor die afgelope dekades heen vir ons ou volkie kon verrig nie. Mislukkings en verliese lê gesaai oor die Afrikaner se paaie.
Nee wat.
Ons kan veel eerder lesse loop leer van die Joodse siele wat tsv grootskaalse vervolging en onderdrukking deur die eeue heen, steeds springlewendig is. Wat dwarsdeur alle bedreigings heen hul taal, kultuur en godsdiens beoefen, waar hulle ookal woonagtig is.

Willem ·

Ongeag die suksesse van al die Solidariteit, Afriforum , ATKV, ens ens instansies (ook VF+) die laaste klompie jare?

Ons moet juis hierdie mense ondersteun met als wat ons het, as dit nie daarvoor was nie, was ons vir seker 100 maal slegter daaraan toe. Ek sien nie wat hulle vermag het as mislukkings nie.

Ek sal graag by jou wil hoor watter mislukkings jy van praat.

Grietjie Sieberhagen ·

Elizabeth, miskien moet jy jou vergewis van al die projekte waarmee die Solidariteit Beweging hom van dag tot dag besig hou – van alles wat hulle doen wat nie eers die media haal nie. Toe hulle ‘n tyd gelede ‘n arm hoërskool in Pretoria-Wes gaan opknap het, het mense soos Dirk Hermann en Flip Buys moue opgerol en help verf. As daar honderde skooltassies vir arm kinders gepak moet word, is Danie Brink van Helpende Hand dáár om sy deel te doen. Hulle betaal honderde studente se studiegeld, lei onderwysers op, maak ‘n groot verskil in skole, veg vir mense wat onregmatig hul werk verloor het, sorg dat munisipaliteite in hul spoor trap sodat mense soos ek en jy skoon drinkwater kan hê, sit gemeenskapspolisiëringsforums en -stelsels in plek wat al talle plaasaanvalle gefnuik het en ondersteun slagoffers van plaasaanvalle en regstellende aksie. Hulle gee hoop. Hierdie leiers van die instansies loop allermins in pakke rond en gebruik groot woorde. Wanneer hulle dit móét doen, in howe en hoëvlakgesprekke, kán hulle. Soms is dit nodig, in ‘n debat soos hierdie. Maar as hulle die stryd moet aansê deur hulle hande vuil te maak, doen hulle dit met presies dieselfde entoesiasme. Doen jouself ‘n guns en gaan drink eendag koffie by een van hierdie mense. Praat met hulle oor die projekte en inisiatiewe waarmee hulle besig is. Ons nuwe Afrikanerleiers is hier reg voor ons. Hulle is net veels te besig (en te nederig) om vir mense soos ek en jy ‘n toekoms te bou; hulle het nie tyd om hulle breëbors te posisioneer as leiers nie. Maar hulle dade spreek baie harder as hulle woorde.

Eliza-beth ·

Grietjie – jou sin: “. Hulle is net veels te besig (en te nederig) om vir mense soos ek en jy ‘n toekoms te bou; hulle het nie tyd om hulle breëbors te posisioneer as leiers nie.” sê dit juis. Hulle is dus nie die leiers nie! Verstaan jy my punt? Ek kritiseer nie wat Solidariteit doen nie ek weet baie goed wat hulle doen en ondersteun hulle gereeld -ek soek ‘n leier en hulle is dit dus steeds nie.

Willem ·

Grietjie, Solidariteit, Afriforum en al daai Afrikaanse organisasies wil nie ‘n leier wees soos wat Elizabeth soek nie, hulle wil nie ‘n eenman leier wees nie, hulle wil ook nie ‘n politieke party stig nie, want dit sal weer hul vlerkwydte beiinvloed.

Ek sien ook Henry het nog nie geantwoord op die mislukkings waarvan hy praat nie.

Sylvia ·

Regtig ‘n baie opbouende oorsig van die Afrikaanse in Afrika, maar papier is geduldig, en ons mense se geduld is op, te veel kere al getoets en getoets, en beslis nie net deur die “nuwe” regering nie. ons is al voos gegee, gebuig en om verskoning gevra, elkeen het erkenning nodig, so ook die Afrikaanse blankes. Ons het nie net sleg gedoen nie, ons het ook uitstekende visie en rigting gegee aan hierdie pragtige land. Dit is tyd dat ons erkenning eis vir ons bydrae en ook sommer vir ons deursettingsvermoë. Dit is reg ons is oorge-ent hier in Afrika en hier het ons diep diep spore getrap wat nooit uitgewis kan of moet word nie. Ons moet ophou onsself so kritiseer en ook ons mede-Afrikaanses en waardering hê vir elke person se siening en mening, en saam ‘n heerlike potjie kos maak.

Theresa Papenfus ·

Dirk Hermann se brief aan Zuma was die ontroerendste stuk wat ek in ‘n lang tyd gelees het. En die repliek is ook goed. Inspirerend. Dankie.

Henry ·

Willem
Hoe klink die volgende paar voorbeelde van mislukte volgelingskap en bekende gevolge van swak leierskap, waarvoor daar werklik nie ruimte op hierdie platform is om oor te gesels nie. Bowendien ou koeie.
ABO, Rebellie, ontvolking van die platteland, armblanke vraagstuk, Taalstryd, Apartheidsideologie met gepaardgaande wette en optredes wat ‘n reddingsboei vir die SAKP en ANC se “bevrydingstryd” gebied het, grensoorlog en nuttelose sterftes (ek en pelle het dit net-net oorleef, ander pelle nie), sanksies, broedertwis, Kemptonpark se oorgawe aan Slovo en die SAKP/ANC kalante wat ons leiers ore aangesit het, wigte en teenwigte (huh!), Grondwet wat ons beskerm…
Ek wil werklik nie in gesprek oor al die voorbeelde waarvan enkeles hierbo genoem word met jou tree nie. Is ‘n nuttelose oefening en soos Eliza-beth gaan ek ook nie verder met jou aan’t kekkel raak nie.

Eliza-beth ·

Bravo Henry. Mense is te geneig om te dink die Afrikaans sprekende Suid Afrikaners is al wat saak maak. Ongeag of mens raakpunte tussen verskillende kulture/rasse moet raaksien en daarop en daaraan moet werk en sodoende die werklike probleme kan aanspreek en dus werk na eenheid. Ek verwys graag na die Steve debakel wat nou ook aan die gang is – die eienaardig hoe sg “Afrikaners” kommentaar lewer – en lees gerus sommige van die ondeurdenkte snert wat party kwytraak. Byvoorbeeld dat Steve ook wel buite-egtelike kinders het, MAAR hy sorg darem vir hulle! Two wrongs don’t make a right. As Zuma dieselfde leefwyse volg is dit iets verskrikliks, maar Steve word alles vergewe net omdat hy dan nou sou opstaan vir plaasmoorde ens. Dan wil derduisende hom as leier hê. Dis juis die tipe mense wat ek NIE as leier sien nie, iemand wat ondeurdagte nonsens kwytraak JUIS omdat hy weet dit gaan ‘n debat ontketen. Hoekom? Is hy so verveeld dat dit al is wat hy kan bydra tot ons probleme ?Kom ons sweep die mense op dat ek kan sien hoe gewild ek nog is? Dis NIE die tipe leier wat ek soek nie. Ook nie een wat dink as hulle NET vir wit arm mense iets doen dan is hulle nou DIE leier nie. Ek soek ‘n “kaalvoet ou” (by wyse van spreke) wat my na hom laat opsien. Wat nie dink anderskleuriges is ALMAL gemors agv plaasmoorde ens nie – dis nie ALLE swartes/anderskleuriges wat dit doen nie. Ek skaam my verskriklik as ek soms sien wat mense hier skryf en dit gaan ongesensureerd deur, dan dink ek is DIT met wie ek geassosieer wil wees? Ek wil vrede hê en vooruitgang hê en ‘n ware leier wat alle mense, ongeag ras/kleur as MENS sien en met respek behandel. Die Steve-spul is die wat gereeld skryf hoe hulle swartes haat, hoe hulle hul dit en dat sal aandoen ens. – dis nie MY mense nie. Ek kan regtig aangaan en aangaan maar ongelukkig maak realiteit en die waarheid geensins indruk op sommige nie.’n Regte leier sal sê nee kom nou mense, dis nie hoe ons dit doen nie. Die Engelse sê “respect is earned”. Leierskap ook.

Willem ·

Henry, jou skoot het die bok gemis. Miskien moes jy nie ‘n windbuks gebruik het nie. Lees weer wat jy geskryf het. Dalk is dit beter dat jy nie antwoord nie.

Henry ·

Eliza-beth
Ek het tot nogtoe geen rede om te glo dat Steve Hofmeyer homself as ‘n leier aangebied het nie. Mynsinsiens is hy ‘n Afrikaner wat die Afrikaner se saak op die hart dra. Soos ek en miljuisende ander Afrikaners. Daarmee het ek geen probleem nie. Hoe hy dit doen is sy saak. Soos my slim Ma altyd sê Vive la Différence!

Ek en my pelle het vir seker nie ‘n ‘leier’ nodig om ons te vertel dat daar ‘n ding in hierdie droewe land se drinkwater is nie. Alles is heel duidelik, soos wat die geskiedenis van ons staat en gebeure in Sub Sahara Afrika sedert 1960 getuig. Dit is ook nie nuut nie.
Afrikaners kan en het tot dusver al die katastrofes oorleef, vir dekades lank. Ons het ook soveel ervaring in die proses opgedoen, dat ons nie langer enige Tom, Diek en Hermanus se sprokies vir soetkoek gaan opeet nie.
Elke ou en sy brak het soos jy en ek die reg om hul mening te lug. Soms is dit skerp op die oor en soms sinvol. Maar jy gaan nie vir my vang dat ons weereens agter enige spul “leiers” en hul meelopers gaan hol nie.
Ons ken laaaankal reeds die verskil tussen perde droppiengs en vye.

Eliza-beth ·

Henry ek is bewus daarvan dat Steve homself nie as leier stel/gestel het nie. My punt is dat sommiges so ‘n ou wil voorhou as DIE leier. My hele skrywe is dat ek ‘n LEIER soek. En dis nie iemand soos hy nie!In my een repliek beskryf ek (metafories)wat se tipe ek NIE soek nie. Grietjie antwoord my toe sommer dat ek moet kom kyk wat Solidariteit en Hermann doen. Ek is bewus van Solidariteit se werk en het, soos genoem hul al baie ondersteun (geldelik asook per sms as ek gevoel het dis waarvoor ek sal staan). Ek het nie Solidariteti gekritiseer nie nog minder mnr Hermann. Die feit dat ek geskryf het ek soek nie ‘n leier in ‘n pak klere wat in pakke rondstap en hoë woorde gebruik is ook nie op mnr Hermann gemik nie – Grietjie maak, tipies, haar eie afleidings en insinueer ek moet kom koffie drink en kyk wat doen Afriforum (soos reeds gesê, ek weet) en dat Mnr Hermann en andere hand uit die mou steek en verf en pak en doen. Die groot probleem is altyd dat sommiges lees wat jy skryf en dit as ‘n aanval op ‘n spesifieke persoon sien en dan tot die verdediging oorgaan. Ek het die man in die Europese pak klere wat vanaf sy podium ons bepraat as ‘n illustrasie gebruik van wat ek NIE in ‘n leier soek nie. En weereens, of hy homself as leier uitgee of nie, Hofmeyr is ook nie my tipe leier nie. Niemand is volmaak en almal maak foute ja, maar die tipe wat Hofmeyr gemaak het en steeds doen is nie die tipe persoon vir wie ek repek het nog minder sal volg. Die mense wat hom so blindweg volg sonder om sy growwe foute uit die verlede, hoe hy vrouens behandel ens in ag te neem is ook nie die tipe Afrikaner met wie ek geassosieer wil word nie. Verstaan jy – ek is en bly soekend na ‘n leier, die kaalvoet ou (metafories bedoel!) wat DOEN; wat my laat dink, laat hoop en laat juig!

Henry ·

Eliza-beth
Alle volkere, hoe groot of hoe klein hulle in getalle mag wees, moet ‘n tuiste vir uiteenlopende denke en oortuiginge bied. Daarom is Steve Hofmeyer en/of Dan Roodt in gelyke mate op hul uitsprake geregtig, as wat Max Du Preez en/of Adriaan Basson mag wees. Met die voorwaarde dat hul uitsprake nie haatspraak, geweld ens aanmoedig nie.
Breedweg en tsv verskille, deel lede van die Afrikanervolk hopelik een oortuiging – om die beste moontlike ‘goed’ en/of uitkoms vir sy/haar volk na te streef. Maar vryheid asook ruimte vir verskille oor metodes/werkwyses om hierdie ideaal te verwesenlik, is deel van ‘n suksesvolle volk se bestaan en mag nooit onderdruk of gering ge-ag word nie.
Ekself is baie skepties oor die noodsaak vir leiers en/of organisasies wat ‘Die Antwoord’ vir ‘n volk bied. Veral vir die piete wat met een of ander ‘bloudruk’ vorendag kom. Voorskrifte wat gestel word, waaraan almal moet voldoen. Mynsinsiens neig dit na die ideologiese snert waarvan Kommunisme en Nazïsme die meer bekende en ooglopende voorbeelde is.
Die Jode wat orals in noemenswaardige getalle en heel vooruitstrewend in ‘n verskeidenheid state aangetref word, handhaaf steeds hul eie volkskultuur, taal en geloof. Sonder om op enige wyse aan die voorskrifte van sogenaamde leiers afhanklik te wees. Ons sal nie ver verkeerd wees om ‘n paar bladsye uit hul boek te neem nie.
Sterkte met jou soektog na die regte kaalpoot leier. :-)

Eliza-beth ·

Henry ek is bewus daarvan dat Steve homself nie as leier stel/gestel het nie. My punt is dat sommiges so ‘n ou wil voorhou as DIE leier. My hele skrywe is dat ek ‘n LEIER soek. En dis nie iemand soos hy nie!In my een repliek beskryf ek (metafories)wat se tipe ek NIE soek nie. Grietjie antwoord my toe sommer dat ek moet kom kyk wat Solidariteit en mnr Hermann doen. Ek is bewus van Solidariteit se werk en het, soos genoem hul al baie ondersteun (geldelik asook per sms as ek gevoel het dis waarvoor ek sal staan). Ek het nie Solidariteit gekritiseer nie nog minder mnr Hermann. Die feit dat ek geskryf het ek soek nie ‘n leier in ‘n pak klere wat in pakke rondstap en hoë woorde gebruik is ook nie op mnr Hermann gemik nie – Grietjie maak, tipies, haar eie afleidings en insinueer ek moet kom koffie drink en kyk wat doen Afriforum (soos reeds gesê, ek weet) en dat Mnr Hermann en andere hand uit die mou steek en verf en pak en doen. Die groot probleem is altyd dat sommiges lees wat jy skryf en dit as ‘n aanval op ‘n spesifieke persoon sien en dan tot die verdediging oorgaan. Ek het die man in die Europese pak klere wat vanaf sy podium ons bepraat as ‘n illustrasie gebruik van wat ek NIE in ‘n leier soek nie. En weereens, of hy homself as leier uitgee of nie, Hofmeyr is ook nie my tipe leier nie. Niemand is volmaak en almal maak foute ja, maar die tipe wat Hofmeyr gemaak het en steeds doen is nie die tipe persoon vir wie ek repek het nog minder sal volg. Die mense wat hom so blindweg volg sonder om sy growwe foute uit die verlede, hoe hy vrouens behandel ens in ag te neem is ook nie die tipe Afrikaner met wie ek geassosieer wil word nie. Verstaan jy – ek is en bly soekend na ‘n leier, die kaalvoet ou (metafories bedoel!) wat DOEN; wat my laat dink, laat hoop en laat juig!

Adele ·

Dame, jy gaan nooit ‘n leier waardeer wat opstaan vir jou land of kultuur nie…..

Johan Wiggill ·

Eliza-beth, ek deel jou sentimente. Ek dink nie daar is ‘n gebrek aan leiers nie. Daar is ‘n gebrek aan gesindheid en kennis! En natuurlik om die eerste stap te neem en weerstand te bied en eise te stel.

Henry ·

Werklik jammer dat Maroela dit nodig vind om my antw aan Eliza-beth te modereer.
Mynsinsiens my opinie op beskaafde wyse gelug.
Julle beledig my.

Madeleine ·

Henry,
Ek verstaan waar jy vandaan kom. Ek het gesien hoe die dinge waarvan jy praat my pa geknak het. Hy was op die grens, hy het jong manne se lyke opgetel en in koeltrokke gelaai na skermutselings met die “vyand” sodat die (somtyds stukke) na hul ouers / jong vrouens gestuur kon word. Daar is vir hom gesê hul sterf ten behoud van sy land, sy volk. Inteendeel, hy het dit later jare breinspoeling genoem. Op ‘n dag draai daardie regering om en sê vir hom, hey man, dit wat jy in opdrag van ons gedoen het was onnodig, nee, nog meer, dit was krimineel!
Hy was ‘n breë denker en het dit ingesien en in sy latere beroep in die kunste “druppels in die emmer gegooi” om op te maak vir sy aandeel in die onregte waartoe hy ook in, opdrag van sy leiers, ‘n aandeel gehad het. Toe word daar vir hom gesê hy is nou oorbodig met sy wit vel en moet op 49 sy goedjies pak. Hy het dit maar ook aanvaar en gepak, getrek en vir hom ‘n nuwe toekoms gaan oopwerk. Die fondse wat hy ten behoewe van agtergeblewenes help skep het is leeggesteel en het platgeval.
Maar hierdie dinge het stadig maar seker sy nagdenke oorheers en het hy stil en afgetrokke geraak, tot hy op ‘n dag (3 jaar later) ‘n geweer voor sy oog gedruk en homself geskiet het.
My pa se storie lees soos menige ander Afrikaner-man wat aan verpligte diensplig blootgestel was, dis niks spesiaal of besonders nie.
Wat ek wel daaruit geleer het, is dat ek allereers my eie waarde-stelsel volg voor ek ‘n leier volg. Ja, ‘n land moet ‘n leier hê, maar dit beteken nie hy/sy moet soos ‘n skaap gevolg word nie.
Leiers word deur politieke druk, finansiële- en ‘n magdom ander oorwegings beïnvloed, maar ek, ek word net deur my gewete beïnvloed. Ek het nie geld, maar ek het hande wat kan uitreik waar ek nood sien. Ek weet wat in hierdie land aangaan en ek weet waartoe dit mag lei, maar eerder as om daaroor te sit en tob KIES ek om te volg na waar my menslikheid my lei. Dankie vir mense soos Solidariteit, Afriforum ens wat doen wat hul gewetens hul lei om te doen. Mog die wat voel hierdie organisasies laat ‘n leemte, dit op hulself neem om op hul klein manier daardie leemtes te vul.

Henry ·

Uitstekende insigte Madeleine en mynsinsiens het jy die kern van die saak in hierdie sin raak gevat:

“… Wat ek wel daaruit geleer het, is dat ek allereers my eie waarde-stelsel volg voor ek ‘n leier volg…”

Ek het ook respek vir die werk van organisasies wat hulself met die opheffing van mense of groepe besig hou. Maar, soos met die leierstorie, is daar vir seker ook geen waarborge dat organisasies by hul verkondigde doelwitte hou nie.

Ek is ook uiters bedag op die geringste aanduiding van politieke korrektheid. Ons geskiedenis is vrot van sulke voorbeelde wat uiteindelik tot talle probleme vir die Afrikanervolk gelei het.

Arbutus ·

> Die gees van Helpmekaar het gelei tot die stigting van Nasionale Pers, Die Burger, Santam, >Sanlam, Volkskas en later die Voortrekkers, die AHI, ATKV en vele ander gemeenskapsinstellings.

Hulle het eers die besighede geword wat hulle vandag is NADAT die Afrikaners die politieke mag gekry het deur die NP in te stem

Ironies genoeg kon die meeste van die organisasies na 1994 nie vinning genoeg hulle nuwe ANC meesters dien nie

‘n Sprekende voorbeeld is hoe die Afrikaanse Nuus 24 gestop is en ons moet betaal om Netwerk 24 te lees, terwyl News 24 en meer belangrik die Zulu weergawe daarvan Izandaba 24 nog verniet is

Arbutus ·

> Al hierdie honderde aksies is elk ʼn steen in ʼn groter toekoms vir ons hier in Afrika.
> As jy dus twyfel oor die toekoms, bou dit.
> Hier is ons, Jan en Maria van Afrika – kom ons reik uit, bou

Die “ons moet saamwerk” rympie kom al van voor-94, en het dit al enigiets verbeter?

Politici en leiers herhaal die rympie aan goedgelowiges wat dan selvoldaan dink hulle kan ‘n verskil maak

Het die persepsies van ons en ons taal verbeter of versleg onder die swart gemeenskap ?

Gelukkig het Zuma, toe hy die eerste keer in sy lewe die waarheid gepraat het, gesê wat die meeste van die ANC en Malema se navolgers glo, die probleme in SA het begin toe die witman, Jan van Riebeeck hier aangekom het.

Hulle wil ons weg hê, en as ons nie self loop nie sal hulle alles in hulle vermoë doen om ons eiendom, besighede en geld af te vat en ons uit te moor

Maak nie saak hoeveel patrollies jy ry, hoeveel konserte jy bywoon of hoe betrokke jy raak nie.

As jy nie die poilitieke mag het om jou groep se omstandighede te verander nie gaan niks verander nie

Inteendeel dit gaan net slegter gaan waar die meerderheidsparty alles in hulle vermoë doen om jou te marginaliseer en uit te wis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.