Zuma se mites oor Jan en grond moet betwis word

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:  Charles Davidson Bell (1813–1882)

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:
Charles Davidson Bell (1813–1882)

“Dit is tog ʼn ‘feit’ dat hulle ons gekoloniseer en ons grond gesteel het.”

President Zuma het dié uitspraak op SAUK-radio gemaak in reaksie op Zelda la Grange se kritiek teen sy uitspraak dat al die land se probleme met die koms van Jan van Riebeeck begin het. Zuma se ‘hulle’ verwys natuurlik na Afrikaners as nageslag van Van Riebeeck en sy mense, terwyl die ‘ons” na swartmense verwys.

Ek en baie ander Afrikaners deel La Grange se weersin in Zuma en die ANC se polariserende uitsprake om wittes en veral Afrikaners die slaansak van die land se politieke diskoers te maak. Anders as La Grange gaan ek en baie ander egter nie verskoning vra daarvoor dat ons onthuts is oor Zuma se uitsprake nie.

Afrikaners het rede om ontsteld te wees daaroor. Die geskiedenis wys dat in die lande waar minderhede onder die tirannie van die meerderheid deurgeloop het, het alles begin deur uitsprake wat die betrokke minderhede tot sondebok verklaar en beledig.

Zuma se beskuldiging dat Afrikaners in effek gronddiewe is, moet ook betwis word. Zuma en die ANC glo dat indien hulle met geloofwaardigheid Afrikaners as gronddiewe kan uitbeeld, dit aan hulle regverdiging sal verleen om die internasionaal erkende beginsel van eiendomsreg te omseil en eiendomsreg af te water of selfs totaal te misken.

Indien ’n mens kyk na die rits wetsontwerpe wat eiendomreg sal aantas, soos netjies uiteengesit is in die verslag oor eiendomsreg wat AfriSake onlangs bekend gestel het, is dit duidelik dat dit nie net landbougrond is wat geteiken word nie, maar ook ’n veelheid ander vorme van eiendomsreg.

In Zuma se argument dat Jan van Riebeeck se mense koloniseerders en gronddiewe is, verswyg hy doelbewus die volgende 5 feite:

  1. Die Khoisan was eerste hier

Lank voor Jacob Zuma, Julius Malema of my eie voorgeslagte hier aan die suidpunt van Afrika aangekom het, het semi-nomadiese Khoi en nomadiese San reeds die land deurkruis. My voorgeslagte het vanuit Europa in die omgewing van Kaapstad die land binnegekom, terwyl Malema en Zuma se voorgeslagte vanuit sentraal-Afrika suidwaarts getrek het. Dit is dus onvanpas vir Zuma of Malema om my voorgeslagte as “kolonialiste” te beskou, sonder om hulleself in dieselfde kategorie te plaas.

  1. Slegs 30% van die grond was sonder tegnologie permanent bewoonbaar

In EL Pringle se navorsingsverslag getiteld “An Assessment of the 1913 Native Land Act” word uitgewys dat, in die afwesigheid van tegnologie om grondwater te benut, slegs 30% van Suid-Afrika se grondgebied vir permanente vestiging deur mense geskik was. Voor die koms van tegnologie uit Europa om grondwater te onttrek, sou 70% van Suid-Afrika se grondgebied dus nie permanent bewoon kon word nie. Daar kan dus geen sprake wees dat die hele land bewoon was toe my voorouers hier aangeland het nie.

  1. Die Mfecane het voor die koms van die Voortrekkers groot dele van die binneland onbewoon gelaat

Gedurende die vroeë 1820’s het Mzilikazi, een van die Zoeloe-koning Shaka se generaals, weggebreek en saam met sy volgelinge ’n skrikbewind, bekend as die Mfecane, teen ander stamme in die binneland van Suid-Afrika gevoer. Die stamme wat die binneland bewoon het, het voor Mzilikazi se aanslag gevlug. Groot dele van hierdie gebiede is in die proses grootliks onbewoon gelaat. Met die aankoms van die Voortrekkers in hierdie grootliks onbewoonde gebiede kon daar dus geen sprake daarvan wees dat hulle mense op groot skaal van hulle grond verdryf het nie. Die Voortrekkers het na my mening die stamme wat onder Mzilikazi deurgeloop het, ’n guns bewys toe die Trekkers onder leiding van Andries Potgieter en Piet Uys vir Mzilikazi en sy volgelinge verslaan en oor die Limpoporivier verdryf het. Die Voortrekkers het die gebied wat deur Mzilikazi beheer is, in besit geneem soos die gebruik destyds na ’n konflik was. Eers daarna het van die vlugtende stamme na die gebied begin terugkeer en is aan hulle in spesifieke areas grond gegee.

  1. Die Voortrekkers het grond met wettige ooreenkomste bekom

Een van die voorbeelde van hoe die Voortrekkers grond met wettige ooreenkomste bekom het, is die ooreenkoms wat in 1846 met die Swazi-koning aangegaan is. Die gebied tussen die Olifants- en Krokodilrivier is in ruil vir beeste aan die Trekkers gegee. In 1855 is ’n soortgelyke ooreenkoms vir die Lydenburg-distrik aangegaan. In dieselfde jaar het die Swazi-koning ook die gebied langs die Pongolarivier geskenk om by die Voortrekkers se nuwe republiek gevoeg te word. Die Swazi-koning se doel was om hiermee ’n buffersone teen aanvalle deur die Zoeloes te skep. Daar is ook ander voorbeelde van ooreenkomste, wat die mite die nek inslaan dat die Voortrekkers bloot op groot skaal grond gesteel het.

  1. Die 1913-wet op grondbesit was net op 45% van Suid-Afrika se grondgebied van toepassing

Verwysings na die 1913-wet op grondbesit word graag deur die ANC gebruik om hul pogings om eiendomsreg te misken, te regverdig. Die ANC meld gerieflikheidshalwe nie dat die wet net op 45% van Suid-Afrika se grondgebied van toepassing was nie. Die wet was nie van toepassing op die destydse Kaapprovinsie, wat 55% van die land se grondgebied beslaan het nie. Die ANC meld ook nie dat grond van Suid-Afrika en sy buurstate soos Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Botswana (wat almal destyds Britse kolonies was en waarvan groot dele deur swartes bewoon is) ook in die oorweging van die toedeling van grond in aanmerking geneem is nie.

Bogenoemde vyf argumente poog geensins om te probeer voorgee dat daar nie wel gevalle was waar swartmense hulle grond onregverdig verloor het nie. Waar bewyse van sulke gevalle bestaan, moet dit reggestel word. Dit is egter ’n minderheid van gevalle en dit kan geensins as argument gebruik word om te probeer aanvoer dat grond op groot skaal “gesteel” is nie.

Die huidige geslag grondeienaars wat afstammelinge van Van Riebeeck se mense en hulle voorgeslagte is, het nie dit wat hulle vandag het, op ’n skinkbord gekry nie. Daar bestaan talle verhale van hoe hulle voorgeslagte aanvanklik in armoede geleef en deur harde werk hulle grond ontwikkel het om hulleself op te hef. Hierdie mense verdien erkenning vir hulle rol as pioniers om ’n suksesvolle landboubedryf te vestig wat die land voed. Ook ander eiendom wat Afrikaners vandag het, is nie op ʼn skinkbord ontvang nie. Harde werk en bloedsweet was steeds nodig.

Die klein groepie polities korrekte Afrikaanse kommentators wat La Grange se kritiek as ʼn ‘oordrewe reaksie’ beskryf, begaan dieselfde fout as wat boere in Zimbabwe begaan het toe wittes daar in die aanloop tot Mugabe se grondgrypprogram beledig is en tot sondebokke verklaar is. Die boere het besluit om die beskuldigings te ignoreer. Die resultaat van dié strategie is daar vir almal om te sien. Stilbly en niksdoen is dus nie ’n opsie nie.

Die beter opsie is om uitsprake wat Afrikaners tot sondebokke verklaar en beskuldigings van gronddiefstal aktief teen te staan. Dit is hoekom AfriForum beledigende uitsprake teenoor Afrikaners of enige ander bevolkingsgroep, aktief teenstaan. Dit is ook hoekom AfriForum ook nie gehuiwer het om strafregtelike klagtes teen Julius Malema by die polisie in te dien nadat Malema onlangs sy ondersteuners aangemoedig het om grond te beset nie.

Om te veg teen beledigende uitsprake en valse beskuldigings van gronddiefsstal is die regte ding om te doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maggie ·

Hulle ken nie eers hulle eie geskiedenis nie – geen wonder hulle kom met sulke twak na vore nie. Hulle wil Potchefstroom vernoem na ‘n mensvreter-vrou. (www.ezakwantu.com/Tribes-BaTlokoa-Tlokwa-Tlokwe-SouthSotho)Duidelike bewys dat hulle oningelig is en onbelese is.

Thys Human, Pretoria ·

Kallie, jou feite en voorbeelde en standpunte is absoluut in die kol en bewysbaar so. En ek stem saam met jou dat dit tragies en ‘n skande is dat so baie twak oor die geskiedenis kwytgeraak word.

Maar my probleem is dat ek nie weet onder wie jy dit reggestel wil kry nie? Ek glo nie daar is baie wittes wat eens in die geringste mate hulle daaraan steur nie. Hulle lag net, maar hulle lig ook hulle wenkbroue want hulle besef die uitwerking wat dit op swartes kan he^. Maar die swartes jubel van lekkerkry oor Zuma se woorde! Vir hulle is dit die waarheid en die enigste waarheid – al bring ons al die feite na vore. En hulle stel nie eens belang om na “feite” te luister nie.

Maar dit net daar los kan ons ook nie. Kan ek dus voorstel dat Afriforum (en werk tog ‘n slag saam met Praag en andere) vir Zuma en enigeen wat sulke goed kwytraak voor elke moontlike kommissie of komitee of wat ook al aankla van opstook van haat, rassewrywing en -twis en gevaarlike uitsprake vir vrede. En reel ‘n groot betoging met die opening van die Parlement daar onder in Adderleystraat waar JvR se standbeeld staan (of dan gestaan het). Kry mense om die straat toe te pak met plakkate en baniere in Afrikaans en Zoeloe wat vir Zuma se^ hy lieg!

En hou ‘n soortgelyke betoging voor die Uniegebou. En kry sommer vir Steve om Die Stem te sing!

Dis maar net ‘n voorstel. Dalk het iemand ‘n paar beter idees. Maar DOEN iets! Moenie net praat nie.

Frans ·

Stem saam met Thys Human, maar ai tog, laat ons vorentoe beweeg en weg kom van ou Die Stem en ou Vlag.

Johannes Blom ·

Dankie vir die feite. Wat sal van ons teen hierdie tyd geword het sonder ouens soos Kallie Kriel. Sterk staan broer, die pad is nog lank en ons maak staat op jou, “julle”.

Johan Wiggill ·

Stem saam met Thys. Zuma se “mites” en grondgryp is verteenwoordigend van die swartman se denke. Volgens Statistiek SA is die blankes in die 8.4% van die bevolking. Steeds vind die ANC dit noodsaaklik om hul 80.2% verteenwoordiging te beskerm met RA en SEB. Dit maak nie sin nie.

Die Jan van Riebeeck en vele meer anti-wit uitlatings uit verskillende liberale en swart monde dui op ‘n onderliggende wrewel jeens witmense in Suid Afrika. Ons kan eerder sinspeel op die mite van apartheid. Apartheid is totaal gedemoniseer deur die wat Afrikaners as vyande sien. Dit is so buite konteks dat dit eintlik belaglik is. Maar steeds almal sooo sensitief oor apartheid. Die meeste is ‘n klomp snert. Sogenaamde Afrikaner organisasies maan daagliks om asseblief versigtig te wees om nie die swart volke te affronteer nie. Asseblief Kallie Kriel! Intussen word jou mense gemarginaliseer en wreedaardig vermoor. Daar is nog geen veld gewen om kommandos terug tekry of RA en SEB uit die wetboeke te kry nie. Ek wil dit net kwalifiseer dat ek baie skepties sal wees oor die effektiwiteit van swart kommandos, sou dit deur een of ander wonderwerk heringestel word. Dit baseer ek bloot op die huidige polisie se objektiwiteit.

Soos Thys ook sê, ons praat net. Hofsake hier en daar oor munispale regte vir inwoners help. Die groot offensief is egter om Afrikanerselfbeskikking te bewerkstellig dan is dit nie nodig vir hofsakies oor gate in die paaie nie, of om Afrikaans te red nie! Ons is 8.4% van die bevolking en gaan verswelg word in die Afrika land genaamd Suid Afrika. Help eerder om grondgebied te identifiseer en werk aktief na selfbeskikking. Tans word kliphard gewerk aan samewerking in die nuwe Suid Afrika wat op selfmoord neerkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.