Oor ’n slegte koning, rowerspelonke en tollenaars

Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

In hierdie tyd het daar nie ’n goeie koning oor die land geheers nie. Hy het nie aggeslaan op die wette van die land nie en gedoen wat goed was in sy eie oë. Daarna het hy vir hom huise en paleise laat bou, asook krale vir sy vee en vir sy diere. Verder het hy sy skatkamers gevul met kosbaarhede wat hom nie toegekom het nie en waarvoor hy nie gewerk het nie. Daarna het hy vir hom vroue en byvroue geneem en kinders by hulle verwek, en huise vir hulle laat bou. Verder het hy nie die bekwaamstes in die land as opsigters oor die land aangestel nie, maar diegene uit sy stam wat aan hom getrou was. Hy het ook die hoogste poste in die land vir sy vriende gegee, en hulle het van die beste dele van die oeste en van die eerstelinge van die vee vir hulle gevat.

Toe het sy amptenare, goewerneurs, raadgewers en die heersers vir mekaar gesê: “Kom laat ons ook vir ons skatkamers bou, en vir ons goud en silwer, edelgesteentes, wierook en mirre daarin bymekaarmaak, soveel soos die sand aan die see.” En dit was goed in die oë van die koning. Hy het hulle nie tereggewys nie en nie ag geslaan op die regters van die land nie.

Daar het ’n swaar tyd oor die land gekom, ja, die duisternis het daagliks oor die land toegesak. Die struikrowers het die mense op die paaie oorval en die land was vol rowerspelonke. Die onskuldiges se bloed is selfs in hul eie huise vergiet, sodat niemand meer veilig was nie. Ja, die burgers van die land het nie meer ’n rusplek vir die holte van hul voet gehad nie. Selfs die vreemdelinge in die land was nie veilig nie en hul besittings is afgevat en hulle skuilplekke afgebrand.

Tollenaars

Daar is tolpaaie regdeur die land opgerig en die tollenaars het die volk verder laat ly, sodat daar ’n geweeklaag oor die land opgeklink het. Maar die koning en sy amptenare het hul harte verhard, en nie aggeslaan op die gekerm van die mense en die geweeklaag van die burgers nie. Hy en sy amptenare het hulle nog swaarder belas en harder laat werk. Maar baie van diegene wat die koning gedien het, het nie gewerk nie en is onderhou deur die burgers wat in die sweet van hul aanskyn hul brood moes verdien. Hulle wat nie gewerk het nie, het na die koning gegaan en gesê: “Gee vir ons meer huise en brood, want ons en ons kinders word honger, en waar sal ons meer kan kry?” Daarna het die koning nog meer van die mense van die land gevat en vir dié wat nie werk nie gegee.

Die amptenare, die goewerneurs, die koning se raadgewers en die heersers het nie die mense van die land gedien nie, maar oor hulle geheers. Hulle harte was vol hoogmoed en hulle het hul eie belang gedien in plaas van dié van die mense wat onder hul gestel is. Die volk het swaar onder die koning en sy amptenare gely en hulle het gemurmureer en vir mekaar gesê: “Ag, wie sal hierdie las op ons skouers verlig?”

En daar het deugniete gekom en gemaak of hulle die volk wil help en voor die hekke van die paleis geskree dat die koning die geld moet terugbetaal. Maar hulle wou net die geld vir hulself vat en was nie opreg van gemoed nie.

Roof en plunder

Die burgers van die land het met die koning en sy raadsmanne gaan praat en gesê: “Dit gaan sleg met die land en sy mense. Die rowers oorval ons al helder oordag, en ons kinders is nie meer veilig nie. Verder plunder baie van u amptenare self die land, en regeer ons sleg sodat ons onsself in ons huise moet toesluit. U bou self huise en paleise terwyl ons swaar dra aan belastings en dan nog tol ook moet betaal.”

Maar die koning en sy amptenare het vir hulle gesê: “Dis nie ons wat so sleg regeer nie, dis julle voorvaders wat hierdie onheil oor die land gebring het. Daarom sal ons alles op julle koppe laat neerkom, tot in die derde en vierde geslag.” En hulle het nie na hulle geluister nie en nie aggeslaan op hul woorde nie.

Daarop het baie van die hooggeplaastes vir mekaar gesê: “Kom laat ons die land van ons vaders verlaat en terugkeer na die vleispotte van Egipte, want dit sal daar vir ons beter wees as om in hierdie land te bly. Ons het die houthakkers en waterdraers in hierdie land geword, die knegte van die koning en sy volgelinge.”

En hulle het gegaan en hul vroue en kinders saam met hulle geneem. En die land het hieroor nog swaarder gekry, want daar was baie van die vooraanstaandes en die geleerdes wat getrek het.

Die dapperes

Maar daar het dapperes onder die volk na vore gekom en gesê: “Kom, laat ons nie ons laat onderkry nie en laat ons self die hand aan die ploeg slaan, want anders gaan ons en ons kinders ondergaan.”

En die volk het hulle woorde goedgevind en die mense het mekaar gehelp en bygestaan. Hulle het boorde en wingerde aangelê, dorpe en stede herstel, paaie reggemaak en die armes, die weduwees en die wese versorg. Verder het hulle gepraat namens diegene wat self nie hul sê kon sê nie, en opgekom vir die reg van dié wat ten gronde gaan. Hulle het gesorg dat die arbeiders hulle loon kry en dat dié wat dagloon kry nie verontreg word nie. Daarby het hulle die weerloses begin beskerm, sodat die rowers en die bendes en die plunderaars nie meer kon doen wat hule wou nie.

Hulle het ook gesorg dat die geweldenaars en die bedrieërs in die gevangenis gewerp word. Al hierdie dinge het die volk en die mense van die land weer moed laat skep, sodat dit beter begin gaan het in die land. En na verloop van tyd het die koning en sy amptenare en hooggeplaastes so onder mekaar begin baklei en veg dat hulle die burgers van die land met rus gelaat het en hulle nie meer verdruk het nie.

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Henk Celliers ·

Pragtig Flip, amper dog ek,ek lees n gedeelte uit die ou testement!

neelsie ·

Flip,
Dankie, jy verwoord ons gedagtes,
Kon nie die geskiedenis beter geskets het nie.
God se genade is groot.

Stefaans ·

Die geskiedenis herhaal homself – dieselfde dinge het in die tyd van Julius Ceasar (nie verwant aan onse Julius) plaasgevind.
Veels geluk Flip, puik taalgebruik, dit maak my trots om Afrikaans te wees.

DS ·

As hulle maar net die land vir die burgers wil teruggee, maar dit sal nooit gebeur nie.

Lynn Hemmens ·

So sal hulle aanhou totdat niks oor is nie,kyk nou na Zim `n land wat deur die sprinkane opgevreet is. Nou gaan die sprinkane mekaar begin vernietig. Ons land se skure is nog vol so die heuning drup en die sprinkane skep……ons is reg om op te staan en die hand aan die ploeg te slaan. Wees verseker Flip en jul organisasie ons bid vir julle en sal daar wees as die oproep kom.

John Greyson ·

Soos ek dit lees breek my hart vir my land en vir my mense! Maar die vlammetjie van hoop brand nog. Klein, maar beskut diep in my binneste…

Willie Kok ·

Uit watter Skrifgedeelte kom hierdie nou weer Flip?
Die situasie in hierdie land kan eenvoudig nie beter bewoord word nie. Uitstekend!

Marietjie Landman ·

Middag. Flip ek wil ook graag weet waar in die skrif die vergelykende gedeelte van wat jy geskryf het. Dankie daarvoor dis voorwaar op ons land van toepassing

Theresa ·

Flip, dankie vir hierdie pragstuk. My bede is dat ons volk wat ongelooflik geseënd is met goeie verstand, wysheid, energie en innoverende denke (skaars tussen baie volke) kan weer bo uit kom. Met geloof, saamstaan, voor bly. Ons moet besig wees en bly met goeie dinge. Mekaar opbou en nie so baie kritiseer nie. Daar is al baie van ons eie volk wat verneder is deur te bedel omdat hul als verloor het of al moed opgegee het. Dis ook na hul wat ons moet omsien en nie snobbisme uitleef en eerder ander help wat reeds deur miljoene gehelp kan word nie. Ons kan ons volk weer sterk maak – geestelik, emosioneel, fisies deur daardie krag deur die Here in mekaar weer te laat vlam vat. Allerlei argumente wat mens uitmekaar skeur eenkant laat en STERK groei tot die spesiale en geseënde volkgroep van vroeër jare. Ons het mos baie geleer en moet nie foute herhaal nie. Maar die Afrikanervolk moet weer bymekaar staan. Gesofistikeerd, Geesvervuld, Bo! Met Solidariteit, Helpende Hand, die pragtige Akademia, Afriforum het ons ‘n basis besondere mense in ons geledere. En ek is ook besonder trots op ons geleerdes – so eg Afrikaans – wat steeds bydraes in ons land lewer wat nie vervang kan word nie, al prober so baie om dit te doen.

Ampie ·

Baie goed. Het die “gelykenis” baie geniet. Ons moet nou net seker maak dat daardie laaste paragraaf waar word. Die koning sy raadgewers en ook al sy opvolgers gaan alles in hul vermoe doen om die goeie mense verder te verarm.

Danie Genis ·

Dit is die perfecte vergelyking wat in hierdie land gebeur ons sal moet iets begin doen :-(

Rene ·

Sjoe, dis nou goed verwoord. Daar is niks in hierdie wêreld wat nuut is nie, en dit laat mens besef dat hierdie ook verby sal gaan.

Joe liebenberg ·

Ag wat n mooi storie Flip, nou waar is die dapperes? Oom Niklaas van Rensburg die sienner het gesê ons gaan n leier met ‘n wit baard en bruin kleure kry wat ons gaan verenig. Ek wag vir daai man want die Boer kan nie saam staan nie want die een moet altyd beter as sy broers en susters. So vir die boere nasie om te verenig moet almal alles verloor sodat ons gelyk kan wees.

Stephanie Blignaut ·

Dis ons mooi
land wat ons voorvaders en boer op geboue het en ons sal weer opstaan !! Dankie Flip

Patrick Rolf ·

Dankie Flip, hoog tyd dat iemand opstaan en ons gedagtes in woorde plaas, jy klankbord my gevoel. Groetnis

Sarel Strydom ·

Sekerlik ‘n goeie stukkie werk. ek sou beslis nie dit beter kon doen nie. Daarom is die volgende nie kritiek nie, net ‘n gedagte .Al wat kortkom is dat die Burgers hulle bekeer het en terug gekeer het to die God van hulle Voorvaders. Is dit nie waar ons redding vandaan moet kom nie.

William ·

In die tydperk was daar n unie wat vir sy lede se geregtigheid moes optree maar wat die reg van sy lede verdraai het en hulle hande in onskuld gewas het ( vw na W. Rudolph, Rustenburg en Impala platinuim asook RBMR )asook( D v der Bank Rustenburg saak , Pretoria saak . Verteenwoordiger teen Lid in Oranjeville saak asook verdere gesloer oor Eise teen die Ongevalle kommisaris).
Die Unie het die Politieke veld betree , met wie se gelde? Ook seker soos Zuma buitelandse skenkings gekry? En is hulle duidelik besig om vir Politieke aansien te veg terwyl die lede gelde hulle Verblyf vervoer en kos voorsien. Hulle Lede van gister is nou amper almal plakker sonder kos vervoer en verblyf omrede hul nie almal die regte ontvang het wat hulle toekom nie.
Die Unie het n saak met die Allerhoogste wat vinnig op pad is en vergelding gaan bewerkstellig. Ja die Unie verteenwoordigers gaan die lot van hulle gewese lede dus plakkers verarmdes hongeriges. Verkry. Hulle pogings om die ou De klerk bede se idioloog te bewaarheid en kebootse te bou en hulle mense se heersers te wees misluk daagliks meer.
Hulle is onskuldig omrede die lede van gister pensioenare met haaglike inkomstes is, nou werkloos is en nie hulle ledegelde betaal nie.
Geregtigheid sal geskied.

Phillip Groenenstein ·

Goeie storie…veral die deel oor die koning en sy trawante….MAAR of die laaste deel van die storie waar sal word, sal net tyd ons leer…

Om die storie se aanloop en afloop beter te kan begryp kan ons in die Skrif na antwoorde gaan soek. En daar paar sien ons ‘n paar ding raak.

Eerstens as die volk afdwaal van die insettinge, wette en gebooie van Vader dan beskik HY die strafgerig oor hul. Dus is ‘n slegte koning gewoonlik die gevolg van die afvalligheid van die volk…en ons kan die koning soveel blameer as wat ons wil hy is gewoonlik net die instrument waardeur die strafgerig kom en nie die oorsaak van so ‘n strafgerig.

“En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien. ”

“Daarop het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle verkoop in die hand van Kusan Risatáim, die koning van Mesopotámië, en die kinders van Israel het Kusan Risatáim agt jaar lank gedien. ”

Die Skrif waarsku dat as jy ‘n koning oor jou aanstel hy midde uit jou broers moet kom en dat jy nie ‘n vreemdeling oor jou mag aanstel nie. Ons sal sien dat elke keer wat ‘n vreemdeling oor die volk regeer lei dit tot verdrukking.

“dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie. ”

Maar wat is die oplossing? ELKE KEER is daar net een oplossing wat werk…en dit is nie ‘n politieke oplossing of unies wat die oorwinning behaal nie…die oplossing is eenvoudig…

“Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE ‘n verlosser vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het”

So die laaste deel kan slegs waar word indien die volk homself bekeer en soos by Bloedrivier sy volle vertroue in die Almagtige plaas..slegs dan sal Vader die strafgerig laat wyk.

Ongelukkig het die volk so deurspek geword met die liberalisme en humanisme dat hy nie meer die ware Woord van Vader kan onderskei van die humanistiese em liberale weergawe wat aan ons elke dag voorgehou woord as die ideaal.

En weereens kom die antwoord uit die Skrif….

“Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid!”

Maar wat moet jy maak as jy in jou eie tent is?

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; ”

“en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”

Nog verder:

“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. ”

En as ons die punt beriek het kan ons uitroep:

“Ruk my uit en red my uit die hand van vreemdes, wie se mond leuens spreek en wie se regterhand ‘n regterhand van bedrog is;”

En Vader sal ons volgens sy beloftes verlos….werk ELKE KEER

En as die volk weer oorwin, soos by Bloedrivier, moet die wetboek langs die koning wees dag en nag sodat hy ‘n regverdige uitspraak daaruit kan lewer en nie regspraak volgens die humanistiese leberale normes wat deesdae geld nie…anders gaan die volk maar net weer in verdrukking gaan….

En ons moet asseblief nie WEER vergeet om ons Geloftes gestand te hou nie…die Bloedrivier Gelofte het bepaal dat ons ‘n Huis tot sy eer sou stig…daarmee was nie bedoel ‘n gebou nie MAAR ‘n volkshuishouding tot Sy Eer. En in plaas om dit te doen het ons ‘n humanistiese en leberale stelsel omarm …en ons wonder steeds hoekom dit so sleg gaan met ons…

“En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou ‘n bestendige HUIS stig, soos Ek vir Dawid gestig het, en Israel aan jou gee.”

Phillip Groenenstein ·

Jammer vir die spelfoute en vingerfoute..maar moes haastig tik en hier is nie ‘n opsie om jou eie kommenteer te redigeer nie.

Dewald Pretorius ·

Flip, Hier is iets van toepassing op ons huidige regerig. Amos omtrent 3.5k jaar gelede oor die Israelse regering:

Amos 8:4-6New International Version (NIV)

4
Hear this, you who trample the needy
and do away with the poor of the land,

5 saying,

“When will the New Moon be over
that we may sell grain,
and the Sabbath be ended
that we may market wheat?”—
skimping on the measure,
boosting the price
and cheating with dishonest scales,
6
buying the poor with silver
and the needy for a pair of sandals,
selling even the sweepings with the whea

Fransie ·

Baie dankie Flip, Hierdie is kosbaar, neem ons terug na God se Woord. Ek wil graag ‘n ondervinding deel. Vrydag, die 12de Desember 2014, was ek in Superspar winkel en het my oog ‘n berig gevang in ‘n koerant. Ek het die koerant in die mandjie geplaas. Toe draai ek na die rakke vir verdere inkopies. Duidelik hoor ek in my gedagtes ‘n stem wat sê; Zuma is geweeg en te lig bevind. Ek was verstom! Dit het my herinner aan koning Belsasar in die boek Daniël, waar Daniël sy droom uitgelê het en God gesê het hy is op die weegskaal geweeg en te lig bevind! Ons moet glo, God werk en niemand kan Hom keer nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.