Redakteursbrief: Aprilgekstories en profetiese joernaliste

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Op 1 April vanjaar skryf Herman Toerien in sy nuuskommentaar: “Die nuus vroeër vandeesweek dat Zuma nie net nié van plan is om die geld waarmee hy vir sy Nkandla-woning onregmatig verryk is terug te betaal nie, maar ʼn eis van R250 miljoen weens skade aan die woning teen die staat ingestel het, het die land geskok.” ʼn Aprilgek-grappie, natuurlik, sug Maroela-lesers verlig.

Gister, twee maande later, maak die minister van polisie bekend dat hy geen fout kon vind met die opgraderings aan Nkandla nie. Selfs die veekraal, glo ʼn “heilige plek”, is bo verdenking.

Ons lag ʼn bietjie geskok in die kantoor oor hoe na aan die waarheid Herman se nuuskommentaar op 1 April was. Want dis nie die eerste keer dat ʼn Aprilgek-grappie wat op Maroela Media gemaak word, realiseer nie.

Ook op 1 April vanjaar “berig” Maroela oor ʼn kamstige nuwe e-tolsisteem wat dit onmoontlik gaan maak vir motoriste om e-tol te ontduik, aangesien e-tolfooie voortaan aan padgebruikers se voertuiglisensies gekoppel gaan word en saam met hul inkomstebelasting ingesamel sal word. En raai? Ses weke later hoor ons dat jy voortaan nie jou lisensie sal kan hernu voor jou agterstallige e-tolrekenings verhaal is nie. En dis geen grappie nie – of dit nou wettig mag gebeur, of nie.

Oor ons Aprilgek-storie verlede jaar oor alle oorblywende renosters wat kamstig na ʼn geheime bestemming geskuif gaan word om stropery te verhoed, het ons lekker in die kantoor gelag. “Hologram-tegnologie gaan in wildtuine en natuurreservate ingespan word om seker te maak dat toeriste en kinders, wat nog nooit renosters in die natuur gesien het nie, steeds die ‘renosters’ kan sien,” het ons geskryf.

Op 13 Augustus berig ons, alle grappies op ʼn stokkie: “Renosters in die oostelike grensgebied van die Krugerwildtuin gaan na sogenaamde ‘veilige vestings’ binne en buite die wildtuin hervestig word in ʼn poging om hulle van stropers te beskerm.” Dié skuifproses het vroeg in Oktober verlede jaar ʼn aanvang geneem.

Op 1 April 2013, toe Maroela nog in sy kinderskoene was, skryf ons oor die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) wat aangekondig het nuwe wetgewing oor huistaalgebruik gaan ingestel word om veeltaligheid as ʼn nasionale bate te bevorder. ʼn Maand of wat gelede hoor ons skole (darem nie huise nie) gaan dalk voortaan heelwat minder sê hê in hulle taal van onderrig, as die departement van onderwys hulle sin kry. Hierteen veg Fedsas en ander instansies tans baie hard.

In ʼn land soos Suid-Afrika is dit seker te wagte dat hoogs onwaarskynlike grappies op Aprilgekkedag later blyk profeties te wees. Die waarheid is immers dikwels vreemder as fiksie. En ons leef in ʼn vreemde wêreld, in ʼn vreemde land, met ʼn vreemde, vreemde president, soos Toerien vandag skryf.

Jy moet verstaan: As dit tyd raak om Aprilgek-grappies uit te dink, skuif die hele Maroela-span alle ander werk opsy, maak vir ons sterk en baie koffie, en gee ons kreatiwiteit vrye teuels. Die idees wat die onwaarskynlikste klink, is dié wat die groen lig kry.

Nou kan ʼn mens nie help om, in die lig van die klompie profetiese Aprilgek-stories hierbo, te wonder watter ánder kan in die volgende jaar of wat neerslag vind in Suid-Afrika nie. Dalk die ene oor Nkandla wat kwansuis ʼn toerismebestemming gaan word, waar lede van die publiek in die “firepool” kan baljaar, by die hoenderhokke ʼn draai kan maak en die badkamer met sy luukse stort kan besigtig. Of, behoede ons, die onwaarskynlike storie oor tydsones wat in SA ingestel gaan word sodat beurtkrag nie effektiwiteit in die werksplek kan kniehalter nie. (Skielik klink dié een vir my glad nie meer so vergesog nie.) Of die een oor die Voortrekkermonument wat binnekort met ʼn veelkleurige landsvlag-baadjie gaan spog.

Miskien moet ons duim vashou dat ons 1 April 2013-storie oor Zuma wat glo as president herroep gaan word en as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nepal herontplooi gaan word, wel realiseer. Dalk moet ons méér doen as duim vashou.

En dis dalk nou al tyd om te begin dink oor die “stories” waaroor ons volgende jaar op 1 April wil berig. Want dit lyk my mens weet nooit wie lees almal Maroela nie.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tandloos ·

Puik! Sal nie verbaas wees as Zuma se raadgewers gereelde Maroela-lesers is nie. Vandaar al die Aprilgrap-idees wat hulle so mildelik implementeer.

Ane Venter ·

Dalk ‘n goeie tyd om op te hou grappies maak, die ANC lees dit en besluit dit is die perfekte manier om uit die verknorsing te kom….. :-)

Rooiman ·

Twyfel. Dit word seker voorgelees. Deur die gebaretaal-interpreteerder…

Marius Buys ·

So dit is ALLES Maroela media se skuld! Hoe nou asb. onmiddelik op om aan ‘n verbeeldinglose landsbestuur idees te verskaf. Julee dink miskien dit is helsnaaks as ‘n Aprilgek-grap maar as daai grap se hoenders huistoe kom lag almal van ons lankal nie meer daaroor nie…

Waarheid ·

Goed saamgevat. Eintlik kommerwekkend, is dit nie?! Wat van nou af: stel die Aprilgekgrappe só saam dat dit opbouend en tot voordeel van ál SA se inwoners is en dan kyk ons wat word daarmee gemaak…wil tog voorkom of hul van jul ‘idees’ hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.